Leesplan inligting

’n Hart vol DankbaarheidVoorbeeld

’n Hart vol Dankbaarheid

DAG 1 VAN 5

’N DANKBARE HART

“Loof die Here. Roep Hom aan! Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het” (1 Kronieke 16:8).

My vrou draf dikwels soggens saam met my, net mooi wanneer die son sy kop uitsteek. Ons draf verby omgeploegde lande, ons hoor voëls wat sing terwyl hulle hul neste bou en soms sien ons klein bokkies wat oor die veld hardloop. Daar is ’n voëlpark naby ons plaas en ons sien gereeld swerms ganse wat in formasie vlieg. Ons is dit altyd eens dat ons so dankbaar is om in hierdie tyd op so ’n pragtige plek te kan woon.

As Christene moet ons ’n ingesteldheid van dankbaarheid hê. Ons moet begin dankbaar wees oor wat God ons gegee het en die seëninge begin raaksien wat Hy ons daagliks skenk. Party van ons is so besig om ’n bestaan te probeer maak en kos op die tafel te sit dat ons lewens by ons verbygaan en ons meer tyd bestee aan kritiek en om op negatiewe dinge te fokus as om God te dank vir al die goeie dinge wat ons het.

Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Is dit nie verstommend dat alles in die lewe wat regtig die moeite werd is, nie deur geld gekoop kan word nie? Byvoorbeeld, ’n man se liefde vir sy vrou, ’n vrou se liefde vir haar man, ouerliefde vir kinders en goeie gesondheid. Geen geld ter wêreld kan goeie gesondheid en dankbaarheid koop nie.

Party van die ongelukkigste mense wat ek al in my lewe ontmoet het, het soveel geld dat hulle dit nie in twee leeftye sal kan spandeer nie, wat nog te sê een leeftyd. Die Here sê vir ons dat die voëls in die lug nie oor môre bekommerd is nie; hulle leef vir vandag. Hy herinner ons ook daaraan dat môre sy eie sorge bring.

Kom ons besluit om ’n Goddelike ingesteldheid te hê en die Here te dank vir al die goeie dinge wat ons het. Gaan vandag uit met nuwe oë – oë van geloof – en mag jou dag wonderlik wees. God seën jou.

GEBED: Vader, vandag kom ek in aanbidding en met ’n dankbare hart na U. Ek waardeer die talle seëninge wat U my skenk. Mag ek altyd al die redes onthou wat ek het om dankbaar te wees. Dankie dat U my in u handpalm vashou. Amen.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

’n Hart vol Dankbaarheid

Daar is soveel om voor dankbaar te wees, waarvoor ons God elke dag kan dank. Wanneer ons besef dat elke asemteug ’n geskenk uit sy hand is, sal ons hart gevul word met dankbaarheid. Hierdie 5-dag leesplan is geneem uit D...

More

Ons wil graag Angus Buchan en Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. https://www.amazon.com/author/angusbuchan1

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid