Leesplan inligting

Die Wapenrusting Van GodVoorbeeld

Die Wapenrusting Van God

DAG 2 VAN 5

In sy gebed het Paulus nie gevra dat die gelowiges in Efese hulle oorvloedige erfporsie van geestelike rykdom, seëninge , krag en gesag sou ontvang nie, maar dat hulle sou besef dit is reeds hulle s’n. As Christene het hulle rééds hierdie erfporsie ontvang, net soos ons. Maar totdat hulle dit besef het, sou dit geen nut vir hulle inhou nie. Watter voordeel sou al God se gawes immers vir hulle kon inhou as hulle nie bewus was van die feit dat hulle reeds alles ontvang het om die vyand op die vlug te laat slaan nie? 


Eintlik is die wapenrusting in Efesiërs 6 net ’n herhaling – ’n ander manier om te beskryf – wat Paulus reeds in die eerste deel van die brief vir die gelowiges verduidelik het. Hoe kon hulle dié dinge wat hulle nie eens geweet het hulle het nie “aantrek” of “opneem”? Die eerste stap wat hulle moes neem – en dit is ook ons eerste stap – om die geestelike hulpbronne wat hulle ontvang het te kon gebruik, was om toe te laat dat hulle geestelike oë oopgemaak word sodat hulle hulle hulpbronne kon raaksien. 


Die verhaal van Elisa en sy “blinde” slaaf in 2 Konings 6 is een van my grootste gunstelinge in die Bybel. Dié verhaal speel af teen die agtergrond van ’n oorlog wat op die punt staan om uit te breek tussen die woedende koning van Aram en die volk Israel 


Elisa se slaaf het omtrent verbysterende dinge gesien. Eers kon hy net die vyand sien, wat hom waarskynlik met geen ander keuse gelaat het as om baie bang en angstig te raak nie. 


Maar toe vestig hy sy aandag op ’n geestelike waarheid wat die situasie radikaal kon laat omswaai: Daar was meer tot sy beskikking en meer wat in sy guns getel het as wat hy ooit kon droom. Wat sy liggaamlike oë kon sien, was geensins opgewasse teen wat hulle nie kon sien nie. Elisa se gebed het die slaaf gehelp om bewus te raak van al die hulp en krag wat aan hulle kant teen die vyand geveg het.  


Om vol vertroue en oorwinnend te leef, moet jy dit kan “sien”. 


Dit is maar net die gawes waarop Paulus in een hoofstuk klem lê. Daar is nog baie, baie meer en elke gawe hou spesifiek met jou geestelike gevegstoerusting en wapens verband. Maar die eerste sleutel om te verstaan hoe dit alles inpas by jou vermoë om die vyand te verslaan, is insig. Jy kan nie jou gawes  gebruik tensy  jy dit  ten volle raaksien nie.  Jy moet insig toon in die waarheid dat dit reeds tot jou beskikking is en besef hoe belangrik dit is ten einde die oorlog teen die vyand van hierdie wêreld en jou lewe, suksesvol te kan voer. 


Oorwinning begin hier. Dit begin vandag. Dit begin hiermee. ’n Gebed om insig. 


Sluit daarom aan by Paulus deur die Here te vra om jou oë nog meer oop te maak sodat jy nie net sal kan raaksien waar die vyand aan die werk is nie, maar ook baie meer bewus sal kan wees van wat God reeds vir jou gegee het om die vyand te ontwapen en hom in jou lewe te verslaan. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Die Wapenrusting Van God

Daar woed elke dag, die hele dag lank, ’n onsigbare oorlog om vroue. Dit kan nie gesien of gehoor word nie, maar dit kan in elke aspek van ’n mens se lewe gevoel word. ’n Toegewyde, bose vyand wil chaos veroorsaak in all...

More

Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid