Bekend — 'n Vyfdag leesplan deur Tauren WellsVoorbeeld

BEKEND | Dag 2 | DIE VERTONING IS VERBY
Ek sal die eerste persoon wees om te erken dat ek by verre te veel omgegee het oor my voorkoms. Ek is geneig om my beste self voor te hou — dit waarvoor ek raakgesien, bekend en gewaardeer wil wees. Dit lyk asof ek altyd 'n manier vind om my bewonderenswaardige eienskappe te oordryf om sodoende my geheime foute vir die publieke oog weg te steek. Die probleem met al hierdie is: die mure wat ons gebruik om ons beeld te beskerm, is dieselfde mure wat ons met ons pyn gevange hou.
Ek het baie verwerping in my lewe ervaar. Ek het die inherente gevoel van verwerping as kind ervaar toe ek in die middel van 'n egskeiding vasgevang was. Ek het die pyn van verwerping gevoel toe verskeie huisgesinne die kerk waarvan my vrou 'n lidmaat was verlaat het oor hulle skokkende afkeuring van ons veelrassige huwelik. Daar was mede-Christene wat my weggestoot het na die godsdienstige groepe waarmee ek grootgeword het, wat my persoonlik gekritiseer het, wat gespot het met die evangeliebediening wat God besig was om in my te ontwikkel. Dit het alles gebeur nog voor ek 24 geword het! Wat was my reaksie tydens al hierdie dinge?
Ek het opgetree op 'n manier sodat ander my sou aanvaar.
Ons kan almal onsself in so 'n posisie op een of ander stadium bevind. Ek weet nie van baie lewens wat nog nooit deur verwerping geraak is nie. Verwerping was beslis 'n realiteit vir Jesus. Die Skrif vertel ons, Hy was "Die klip wat deur die bouers afgekeur is …" (Psalm 118:22). Johannes 1:11 sê: "Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie." Ons sien in die Evangelies hoe sy eie aanhangers in 'n bose gepeupel verander het.
Dit is merkwaardig dat Jesus standvastig gebly het, onwillig om vir aanvaarding op te tree. Ons sien dit in die wildernis toe Hy versoek is. Die duiwel se strategie was om Jesus te versoek om sy identiteit deur sy vermoë te bewys — om te presteer op bevel. Die vyand het basies gesê: "As jy die seun van God is, bewys dit!" Ons staar almal daagliks dieselfde tipe versoeking in die gesig, nie waar nie? "Jy het waarde; jy is intelligent; jy is beeldskoon? Bewys dit! Maak dit bekend! Presteer vir aanvaarding!" Wanneer ons egter aan die druk toegee om onsself te bewys, verloor ons uiteindelik onsself. Jesus het nie toegegee nie, en ons moet ook nie. Selfs toe Hy gevra is om goeie dinge te doen, het Hy geweier en die vyand geantwoord deur te sê: "maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het ..." (Johannes 14:31).
Miskien vra jy dieselfde vraag wat ek myself gevra het: "Hoe kom ek vry van die druk om te presteer?" Ek het die antwoord gevind terwyl ek 'n gebeurtenis deurdink het wat plaasgevind het voordat Jesus sy eerste wonderwerk gedoen het. Die gebeurtenis het plaasgevind onmiddellik voor sy versoeking in die wildernis — sy doop. Toe Jesus gedoop is, het 'n stem uit die hemel gepraat en gesê: "… Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My" (Markus 1:11). Ek glo dat Jesus nie die druk gevoel het om vir die duiwel of vir mense te presteer nie, omdat Hy geweet het dat die Vader reeds tevrede met Hom is. Jy vra dalk ook nou dieselfde opvolgvraag wat ek gevra het: "As Jesus God se hart tevrede gestel het voordat Hy nog ooit 'n wonderwerk gedoen het, hoekom moet ons soveel druk ervaar om vir God of enigiemand anders te presteer?" Ek besef dat wie ons ken, beter is as dit waarvoor ons bekend is. God het ons nie lief op grond van ons reputasie nie; Hy het ons lief op grond van ons verhouding met Hom. Ons kan verby die goedkeuring van die wêreld leef omdat ons vanuit die erkenning van God lewe. Ek het die ware geneesmiddel vir gevoelens van verwerping gekry, en dit is nie deur onvermoeide prestasie nie, maar deur Christus se voltooide werk vir my te ontvang. Dit is deur die wete dat ek nie 'n beeld van perfeksie hoef voor te hou nie, maar dat ek eerder die beeld van Christus kan aanneem. Ek hoef nie my foute met 'n masker te bedek nie. Selfs die verheerlikte liggaam van Jesus het littekens gehad, so hoekom sou ek probeer om myne weg te steek met die oppervlakkige bedekkings van status, salaris of sukses? Ek het besluit dat die vertoning verby is. Ek kan nou 'n lewe van kwesbaarheid voor my Verlosser leef, aan wie ek volkome bekend is en waarlik geliefd, aanvaar en goedgekeur is.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

My nuwe lied getiteld "Known," is baie betekenisvol vir my geloofsreis. My begeerte is dat ons almal eendag gewillig sal wees om te stap van hopeloosheid na hoop, van seer na genesing en van worsteling na oorgawe — dat ons om ons en na die voet van die kruis sal kyk, mekaar sal sien en hoor hoe Jesus ons vertel dat ons nie alleen is nie. Dankie dat jy my op hierdie reis vergesel. -Tauren Wells
More









