TITUS 2:11-14
TITUS 2:11-14 Bybel vir almal (ABA)
Almal moet reg lewe, want God het vir ons kom wys dat Hy genadig is en dat Hy al die mense wil red. Hy leer vir ons om die verkeerde dinge te los en ook die dinge van die wêreld wat ons graag wil doen. Hy leer vir ons om verstandig en regverdig te lewe. Ja, dan sal ons kan lewe soos God wil hê dat mense in hierdie wêreld moet lewe. Ons doen dit terwyl ons wag en ons is bly dat ons seker kan weet dat ons Groot God en ons Redder, Jesus Christus, weer sal kom, Jesus Christus wat Koning is. Jesus Christus het gesterf. Óns moes gesterf het, maar Hý het gesterf, en so het Hy ons vrygemaak van al die dinge wat teen God se wette is. Hy het gesterf om ons rein te maak, sodat ons sy eie volk kan wees, 'n volk wat baie graag goeie dinge wil doen.
TITUS 2:11-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself 'n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.
TITUS 2:11-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.
TITUS 2:11-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense, en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp, terwyl ons uitsien na die salige hoop en glansryke verskyning van ons groot God en Verlosser, Jesus •Christus – Hy wat Homself ter wille van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom 'n eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen.
TITUS 2:11-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die genade van God wat redding bring, het aan alle mense verskyn, en leer ons dat ons, deur die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, nugter, regverdig en godvrugtig in hierdie huidige wêreld moet lewe; terwyl julle daardie geseënde hoop verwag en die heerlike verskyning van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus; wat Homself vir ons gegee het om ons van alle ongeregtigheid te verlos en vir Hom 'n eiendomsvolk te reinig, ywerig in goeie werke.
TITUS 2:11-14 Die Boodskap (DB)
God het sy goedheid aan alle mense bekendgemaak. Almal het nou die kans om sy verlossing te beleef. Nou wys Hy vir ons hoe om ’n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef. Hy laat ons elke dag tot sy eer in die wêreld leef. Daarom sien ons baie uit na daardie wonderlike dag wanneer ons wonderlike God en Verlosser, Jesus Christus, terugkom. Ons kan nie meer wag dat dit moet aanbreek nie! Christus het sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde. Nou behoort ons net aan Hom. Ons is sy volk. Syne alleen! Nou wil ons net doen wat Hy sê!
TITUS 2:11-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword. Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, volgens die wil van God en toegewyd aan Hom, in die huidige tyd te leef. Ondertussen sien ons daarna uit dat die wonderlike hoop wat ons koester, ’n werklikheid sal word en dat die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, sigbaar sal word. Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.