Titus 2

2
Man en vrou moet
doen wat die Here sê
1Titus, gebruik elke kans wat jy het om die regte feite oor God aan ander bekend te maak. 2Verduidelik vir die ouer mans dat hulle nie mag toelaat dat die sonde hulle aan die slaap sus nie. Hulle moet so leef dat ander mense groot respek vir hulle het. Hulle moet met wysheid optree. Hulle moet onwankelbaar in die Here glo, sy liefde uitleef en volhard op die regte pad.
3Praat ook met die vroue in die kerk wat al ouer is. Sê vir hulle dat hulle lewe moet wys dat hulle die Here ken. Hulle mag niks leliks van ander mense sê nie. Hulle mag ook nie te veel drink nie.
4Hulle moet ander gelowiges leer wat God van hulle verwag, veral vir die jonger vroue. Hulle moet vir hierdie vroue sê dat hulle baie lief vir hulle mans en kinders moet wees. 5Verder moet hulle ook vir hulle leer om met wysheid op te tree en om hulle nie aan buitehuwelikse verhoudings skuldig te maak nie. Hulle moet ook vir jonger vroue sê om goed na hul gesinne se behoeftes om te sien en om in liefde op te kyk na hul mans. Dan sal God se Woord nie bespotlik gemaak word nie.
Die evangelie is ook vir jongmense bedoel
6Titus, jy moet ook met die jonger mans in die kerk praat. Sê vir hulle om met wysheid op te tree.
7Wat jou betref, jy moet in alles wat jy sê en doen ’n voorbeeld stel van hoe ’n Christen behoort te leef.
Doen goed aan ander mense.
8Maak God se wil op die regte manier bekend.
Tree altyd met integriteit op.
As jy sorg dat alles wat jy sê in ooreenstemming is met God se wil, sal selfs jou vyande niks leliks teen ons geloof kan sê nie.
Werk vir die Here
9Praat ook met werkers en diensknegte wat vir ’n eienaar werk. Sê vir hulle hulle moet respek vir hulle eienaars hê. Hulle moet al die opdragte uitvoer wat aan hulle gegee word. Hulle moenie teëpraat nie.
10Ook moet hulle nie dinge steel nie sodat ander moet kan sien dat hulle in alles eerlik en betroubaar is. Dan wys hulle dat hulle geloof nie net ’n klomp dooie reëls op papier is nie. So word die leer oor ons wonderlike God en Verlosser nog meer aantreklik.
Kyk net hoe
goed is God vir ons
11God het sy goedheid aan alle mense bekendgemaak. Almal het nou die kans om sy verlossing te beleef. 12Nou wys Hy vir ons hoe om ’n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef. Hy laat ons elke dag tot sy eer in die wêreld leef. 13Daarom sien ons baie uit na daardie wonderlike dag wanneer ons wonderlike God en Verlosser, Jesus Christus, terugkom. Ons kan nie meer wag dat dit moet aanbreek nie!
14Christus het sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde. Nou behoort ons net aan Hom. Ons is sy volk. Syne alleen! Nou wil ons net doen wat Hy sê!
Tree reg op
15Titus, al hierdie dinge wat ek vir jou in dié brief skryf, moet jy aan die ander gelowiges meedeel. Doen dit met die gesag wat die Here aan jou as geestelike leier gegee het. Praat mooi met hulle. Wanneer dit nodig is, moet jy ook streng wees. Vat die sondaars vas. Moenie toelaat dat mense met jou spot of op jou neersien nie.

Tans Gekies:

Titus 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid