TITUS 2

2
Die gesonde leer
1Maar jy moet verkondig wat in ooreenstemming is met die gesonde leer. 2Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees, eerbaar, verstandig, gesond en vas in geloof, liefde en volharding. 3Net so moet jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag moet dié wees van mense wat 'n heilige lewe lei. Hulle moenie kwaadpraat of aan drank verslaaf wees nie. Hulle moet goeie raad kan gee, 4sodat hulle die jonger vrouens kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees, 5verstandig en kuis, goeie huisvrouens, onderdanig aan hulle mans. Dan sal die woord van God nie in diskrediet kom nie.
6Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig te gedra. 7In alles moet jy self vir hulle 'n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag, 8gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal elke teenstander in die verleentheid kom dat hy niks slegs van ons sal kan sê nie.
9Die slawe moet in alles aan hulle eienaars onderdanig wees en hulle tevrede stel. Hulle moenie teëpraat 10of iets vat nie; hulle moet bewys dat hulle in alles betroubaar is. So sal hulle in alles wat hulle doen, die aansien van die leer van God ons Verlosser verhoog.
11Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 12Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 13terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. 14Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.
15Dit is die dinge waaroor jy moet praat. Gebruik jou volle gesag om aan te moedig en tereg te wys. Gee aan niemand aanleiding om op jou neer te sien nie.

Tans Gekies:

TITUS 2: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid