ROMEINE 8:9-11
ROMEINE 8:9-11 Bybel vir almal (ABA)
Maar julle doen nie wat julle self wil doen nie, want die Heilige Gees is in julle harte en julle luister na die Heilige Gees, die Gees van God. Mense wat nie die Heilige Gees, die Gees van Christus, in hulle harte het nie, behoort nie aan Christus nie. Julle liggame sal sterf omdat die sonde in die wêreld gekom het. Maar nou is Christus in julle, God het julle vrygespreek en die Heilige Gees laat julle waarlik lewe. Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en God se Gees woon nou in julle harte. Daarom, Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe en God sal eendag ook vir julle weer laat lewe, julle wie se liggame nog sal sterf, maar wat God se Gees in julle harte het.
ROMEINE 8:9-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
ROMEINE 8:9-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
ROMEINE 8:9-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
ROMEINE 8:9-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar julle is nie in die vlees nie, maar in die Gees, as die Gees van God in julle woon. En as iemand nie die Gees van Christus het nie, is hy nie een van syne nie. En as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde; maar die Gees is lewe vanweë die geregtigheid. Maar as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
ROMEINE 8:9-11 Die Boodskap (DB)
Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie - so eenvoudig is dit. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan - dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal - sal die Gees julle op ’n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak.
ROMEINE 8:9-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar julle word nie deur julle sondige natuur beheer nie. Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon. Onthou, iemand wat nie die Gees van Christus het nie, is nie een van sy mense nie! As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees leef omdat julle saak met God reggemaak is. Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon.