Romeine 8

8
'n Lewe onder beheer van die Gees
1Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in •Christus Jesus is nie. 2 Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3Dit waartoe die wet, verswak deur ons sondige aard, nie in staat was nie, het God gedoen: Deur sy eie Seun vanweë die sonde in die gestalte van 'n sondige mens te stuur, het Hy die sonde in die mens veroordeel, 4sodat die vereiste van die wet in ons vervul kon word, ons wat nie volgens ons sondige aard leef nie, maar volgens die Gees. 5Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. 6Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. 7Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie.
9Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. 10 Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. 11As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
12 Daarom dan, broers, het ons 'n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. 13 Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. 14Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. 15Julle het immers nie 'n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” 16 Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. 17Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.
Toekomstige heerlikheid
18 Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. 19Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. 20-21Want die skepping is onderwerp aan 'n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. 22Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. 23 En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. 24Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat 'n mens reeds kan sien? 25Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.
26So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. 27Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die •heiliges intree. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is; 29want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die •Eersgeborene onder baie broers kan wees; 30en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook •vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.
Onwrikbare liefde van God
31Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? 32Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie? 33 Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat •vryspreek! 34Wie sal ons veroordeel? Dit is •Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree. 35Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Soos daar geskryf staan:
“Ter wille van U word ons
die hele tyd aan die dood uitgelewer,
word ons as slagskape beskou.”
37 Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. 38Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, 39nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

Tans Gekies:

Romeine 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid