ROMEINE 8:31-39

ROMEINE 8:31-39 Bybel vir almal (ABA)

Ons weet dit nou alles. Ons weet dat God by ons is, daarom is ons vir niemand bang nie. God het nie gekeer toe sy eie Seun swaargekry het nie, God het sy Seun gegee en Hy het sy Seun laat sterf om ons almal te red. Daarom weet ons dat God baie goed is vir ons en dat Hy nog baie ander goeie dinge vir ons sal gee. God het ons gekies om aan Hom te behoort. Nou kan niemand sê dat ons skuldig is nie, want God het ons vrygespreek. Niemand kan sê God moet ons straf nie, want Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en nou sit Hy op die belangrikste plek langs God in die hemel en Hy vra vir God om ons sonde te vergewe. Kan iemand keer dat Christus lief is vir ons? Nee, nooit nie! Niemand kan dit keer nie, nie wanneer ons swaarkry nie, nie wanneer ons bang is nie, nie wanneer mense ons verdruk nie, nie wanneer ons honger is nie, nie wanneer ons niks klere het nie, nie wanneer ons vyande het nie, nie wanneer mense ons wil doodmaak nie. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Mense hou aan om ons dood te maak omdat ons aan U behoort. Hulle maak of ons slagskape is. God is lief vir ons, daarom wen ons altyd wanneer al hierdie slegte dinge met ons gebeur. Ek weet één ding: God is lief vir ons. Christus Jesus, ons Here, het dit vir ons gewys. Daar is niks wat God se liefde kan wegvat van ons nie, nie die dood nie, niks wat lewe nie, nie engele nie, niemand en niks wat oor die wêreld wil regeer nie, niks wat nou daar is nie, niks wat later daar sal wees nie, niks wat sterker as mense is nie, niks bokant die aarde en niks onder die aarde nie, niks en niemand nie!

ROMEINE 8:31-39 Die Boodskap (DB)

Wat is ons gevolgtrekking oor alles wat ons tot nou toe gesê het? Dít: God is aan ons kant. Wie sou dit dan nog waag om teen ons te wees? God gee so baie vir ons om dat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. God het Hom in ons plek laat doodgaan. As Hy bereid was om so ver vir ons te gaan, sal Hy mos enigiets vir ons doen. Wie kan dit nou nog waag om ’n aanklag teen ons in te bring? Niemand nie! Ons is immers deur God self as sy kinders uitgekies. Boonop het Hy ons van al ons sondes vrygespreek. Wie kan dit nou nog waag om ons te veroordeel? Christus Jesus is mos aan ons kant. Hy is in ons plek dood. God het Hom ook weer lewendig gemaak. Christus het nou die heel belangrikste posisie in die hemel. Daarom kan Hy nou ons saak by God suksesvol verdedig. Wat kan ons nou nog skei van Christus se liefde vir ons? Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare, of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge nie! Nie eens die grootste probleme waarvan daar in die Bybel gepraat word, kan ons ooit van Christus skei nie. Daar staan juis in een van die psalms: “Here, ter wille van U word ons heeltyd doodgemaak. Ons is soos ’n klomp slagskape wat reg staan om geslag te word.” Al gebeur hierdie verskriklike dinge met ons, is ons nogtans oorwinnaars. Ons deel in Christus se reuse-oorwinning omdat Hy ons baie liefhet. Daarom is ek heeltemal seker dat niks wat met ons gebeur ons ooit van God se liefde kan skei nie. Nie eens die dood of enigiets in hierdie lewe nie. Ook nie slegte engele of ander bonatuurlike magte nie. Ook nie iets wat dalk vandag of môre met ons kan gebeur nie. Ook nie enige buitengewone kragte nie. Selfs nie die hoogste berg of die diepste see hier op die aarde nie. Letterlik niks in hierdie skepping kan ons ooit van God se liefde skei nie. Hy het vir ons kom wys hoe lief Hy ons het toe ons Here, Christus Jesus, in ons plek doodgegaan het.

ROMEINE 8:31-39

ROMEINE 8:31-39 AFR83ROMEINE 8:31-39 AFR83ROMEINE 8:31-39 AFR83ROMEINE 8:31-39 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid