ROMEINE 8:28-30 - Compare All Versions

ROMEINE 8:28-30 ABA (Bybel vir almal)

Ons weet dat wanneer mense lief is vir God, dan is alles wat met hulle gebeur, goed vir hulle. God laat dit so gebeur, want Hy het lank gelede besluit om hulle te kies om aan Hom te behoort. God het besluit dat hulle aan Hom moet behoort, Hy het dit gedoen voordat Hy iets gemaak het. Hy het besluit hulle sal wees soos sy Seun, want God wou hê dat Christus sy belangrikste Kind moet wees, die Oudste Broer van God se baie kinders. Ja, God het besluit hulle moet sy kinders wees. God het ook vir hulle gesê hulle behoort aan Hom, Hy het hulle ook vrygespreek, Hy het hulle ook baie belangrik gemaak.

ROMEINE 8:28-30 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.

ROMEINE 8:28-30 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

ROMEINE 8:28-30 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is; want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die •Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook •vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

ROMEINE 8:28-30 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is. Want wie Hy vantevore geken het, het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die Eersgeborene kan wees onder baie broeders. En die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.

ROMEINE 8:28-30 DB (Die Boodskap)

Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit. Dit geld natuurlik vir almal wat Hy volgens sy ewige plan gekies het om in Hom te glo. God het elkeen wat Hy vir Hom uitgesoek het se lewe nuutgemaak. Nou kan hulle die beeld van sy Seun weerkaats. Wanneer hulle in Christus se voetspore stap en soos Hy leef, wys dit dat hulle aan God se nuwe familie behoort. En Christus is natuurlik die heel belangrikste Persoon in hierdie nuwe familie. Toe God besluit het wie almal aan sy familie sal behoort, het Hy hulle persoonlik op hulle naam geroep. So het hulle sy kinders geword. Verder het Hy almal wat Hy geroep het, ook vrygespreek van hulle sondes. Toe het God almal wat Hy vrygespreek het, met sy heerlikheid en goedheid oorlaai.

ROMEINE 8:28-30 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters. Dié wat Hy vooruit aangewys het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, aan hulle het Hy heerlikheid gegee.