ROMEINE 8:12-30 - Compare All Versions

ROMEINE 8:12-30 AFR83 (Afrikaans 1983)

Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

ROMEINE 8:12-30 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. WANT ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe — nie gewillig nie, maar ter wille van Hom wat dit onderwerp het — in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.

ROMEINE 8:12-30 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Daarom dan, my broers en susters, is dit noodsaaklik dat ons die druk van ons sondige natuur sal weerstaan en nie daarvolgens sal lewe nie. Want as die sondige natuur julle lewe beheer, gaan julle die dood tegemoet. Maar as julle deur die Gees die werke van julle sondige natuur doodmaak, sal julle werklik lewe. Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders. Die gees wat julle ontvang het, is nie ’n gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader. Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is. En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid. Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie. Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel. Want teen sy wil is die ganse skepping in ’n sinnelose kringloop van aftakeling vasgevang as gevolg van God se straf op die eerste mense se ongehoorsaamheid. Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders. Ons weet immers dat die ganse skepping nog steeds aan die kreun is soos iemand met geboortepyne. Wat meer is, ons wat die Gees as voorsmaak en waarborg van ons toekomstige heerlikheid ontvang het, kreun ook in ons binneste in ons smagting om van ons verganklike liggame verlos te word. Noudat ons verlos is, sien ons uit na ons toekomstige heerlikheid. Want as jy iets reeds het, hoef jy nie meer daarna uit te sien nie. Maar as jy dit nog nie het nie, sien jy gretig en volhardend daarna uit. Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree. En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters. Dié wat Hy vooruit aangewys het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, aan hulle het Hy heerlikheid gegee.

ROMEINE 8:12-30 DB (Die Boodskap)

My broers en susters, omdat die Heilige Gees in ons bly, mag ons nie langer in die sonde rondlê nie. Ons is dit aan Hom verskuldig. As julle kies om aan te hou sondig, moet julle weet dat julle sonder God sal sterf. Maar as julle toelaat dat die Heilige Gees met julle sondige dade afreken, sal julle vir altyd saam met God lewe. Almal wat hulle deur die Heilige Gees laat lei, is kinders van God. As julle hierdie keuse maak, is julle nie langer slawe van dinge soos angs en vrees nie. Onthou: God het sy Heilige Gees gegee aan julle wat in Hom glo. Dit is Hy wat julle kinders van God gemaak het. Verder is dit ook Hy wat nou ’n diep verlange na God in julle binneste wakker maak. Die Gees roep voortdurend in julle binneste uit: “Vader, liefdevolle Vader!” Hy sorg dat daar ’n onbreekbare band tussen God en julle is. Die Gees oortuig ons diep in ons binneste dat ons regtig God se kinders is. Omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename. Ons erf saam met Christus alles wat God beloof het. Terwyl ons op ons erfporsie wag, kry ons baie swaar hier op aarde. Ons ervaar dieselfde tipe swaarkry as wat Christus beleef het toe Hy nog op aarde was. Maar ons weet dat as ons nou saam met Hom ly, ons ook saam met Hom in sy heerlikheid in God se nuwe wêreld sal bly. Ek is van een saak oortuig: al ons swaarkry weeg glad nie op teen die wonderlike lewe wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Die res van God se skepping sien ook baie uit na daardie groot dag wanneer Hy voor almal sal sê dat ons sy kinders is. Want tot nou toe kry die skepping baie swaar. Die skepping het nie self gekies om so te ly nie. Nee, dit is die gevolg van God se straf op die sonde. Tog is daar hoop. Die skepping weet dat God dit ook eendag sal bevry van hierdie verskriklike lyding. Op daardie dag wanneer God al sy kinders eens en vir altyd kom verlos, sal die skepping ook vrygemaak word. Dan sal die skepping God se heerlikheid op die regte manier weerkaats. Vir altyd. Intussen steun en kreun die ganse skepping tot vandag toe soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee. Maar dit is nie net die skepping wat swaarkry nie. Ons kry ook swaar. Al het ons die Heilige Gees as ’n offer uit God se hand ontvang om ons te verseker dat God se nuwe wêreld op ons wag, sug en kla ons ook. Ons sien uit daarna dat God ons van hierdie sterflike bestaan sal kom verlos. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy terugkom en voor almal kom sê dat ons aan Hom behoort. Omdat ons klaar deur God gered is, wéét ons dat ons ’n plek sal hê in sy nuwe wêreld. As ons nou al hierdie nuwe wêreld kon sien, sou ons mos nie heeltyd daarop gewag het nie. ’n Mens sien tog nie uit na iets wat jy reeds het nie, of hoe? Maar nou weet ons dat ’n nuwe lewe by God op ons wag, ook al kan ons dit nog nie sien nie. Daarom wag ons geduldig totdat dit aanbreek. Intussen het God sy Gees aan ons gegee om ons in ons swakhede te help. Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat ons moet bid nie. Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons. Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid. Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit. Dit geld natuurlik vir almal wat Hy volgens sy ewige plan gekies het om in Hom te glo. God het elkeen wat Hy vir Hom uitgesoek het se lewe nuutgemaak. Nou kan hulle die beeld van sy Seun weerkaats. Wanneer hulle in Christus se voetspore stap en soos Hy leef, wys dit dat hulle aan God se nuwe familie behoort. En Christus is natuurlik die heel belangrikste Persoon in hierdie nuwe familie. Toe God besluit het wie almal aan sy familie sal behoort, het Hy hulle persoonlik op hulle naam geroep. So het hulle sy kinders geword. Verder het Hy almal wat Hy geroep het, ook vrygespreek van hulle sondes. Toe het God almal wat Hy vrygespreek het, met sy heerlikheid en goedheid oorlaai.

ROMEINE 8:12-30 ABA (Bybel vir almal)

Vriende, ons moet reg lewe. Ons moenie die dinge doen wat mense self graag doen nie, dit is slegte dinge. As julle lewe soos julle self graag wil lewe, dan sal God julle vir altyd laat sterf. Maar as julle na die Heilige Gees luister en julle doen nie wat julle liggame wil hê nie, dan sal God julle vir altyd laat lewe. Want as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan is hulle kinders van God. God het vir julle die Heilige Gees gegee. Daarom is julle nie soos slawe nie, julle moenie bang wees vir God nie. Nee, God het julle aangeneem, julle is nou sy kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê “Vader.” Ja, die Heilige Gees help ons om baie seker te weet dat ons God se kinders is. Ons is God se kinders, en daarom sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Ja, ons sal saam met Christus alles kry wat God gee. Maar dan moet ons saam met Christus swaarkry, sodat ons soos Christus kan wees, Christus wat Koning is. Ons kry nou baie swaar, maar ek weet God sal eendag vir ons iets gee wat baie beter is. Hy sal vir ons iets gee wat baie wonderlik is, en ons sal dit sien. Want God het alles gemaak, en alles wag en hoop dat die dag sal kom wanneer God vir almal sal wys wie sy kinders is. God het alles gemaak, maar alles wat Hy gemaak het, is nou swak en sleg. Dit het nie self so geword nie, God het gesê dit moet so word. Maar alles wag om weer vry te word van alles wat dit swak en sleg laat word het. God sal alles verander wat Hy gemaak het, en dit sal so vry en belangrik wees soos die kinders van God. God het alles gemaak, en ons weet dat alles wat Hy gemaak het, nou swaarkry en sug soos 'n vrou wanneer sy 'n kind kry. Maar dit is nie net dit wat gebeur nie, ons self sug ook, ons wat die Heilige Gees het wat God vir ons gegee het sodat ons kan weet dat God vir ons alles sal gee wat Hy belowe het. Ja, ons wag en hoop dat God ons sal aanneem om sy kinders te wees, ons hoop dat Hy ons heeltemal vry sal maak. God het ons gered, daarom hoop ons dat iets met ons sal gebeur. Dit het nog nie gebeur nie. Wanneer iets met mense gebeur het, dan hoop hulle nie dat dit sal gebeur nie, want dit het klaar gebeur. Maar ons hoop dat daar iets met ons sal gebeur, iets wat nog nie gebeur het nie. Daarom hoop ons en hou ons aan om daarvoor te wag. Die Heilige Gees help ons ook wanneer ons bid. Ons kan nie bid soos God wil hê ons moet bid nie, want ons is swak, maar wanneer die Gees by God kla en sug, dan sê Hy vir God dinge wat mense nie self kan sê nie. God weet alles wat mense dink en Hy weet ook wat die Heilige Gees dink. God weet die Gees doen wat God wil hê, en die Gees sê vir God wat die mense bid, die mense wat aan God behoort. Ons weet dat wanneer mense lief is vir God, dan is alles wat met hulle gebeur, goed vir hulle. God laat dit so gebeur, want Hy het lank gelede besluit om hulle te kies om aan Hom te behoort. God het besluit dat hulle aan Hom moet behoort, Hy het dit gedoen voordat Hy iets gemaak het. Hy het besluit hulle sal wees soos sy Seun, want God wou hê dat Christus sy belangrikste Kind moet wees, die Oudste Broer van God se baie kinders. Ja, God het besluit hulle moet sy kinders wees. God het ook vir hulle gesê hulle behoort aan Hom, Hy het hulle ook vrygespreek, Hy het hulle ook baie belangrik gemaak.

ROMEINE 8:12-30 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daarom dan, broers, het ons 'n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. Julle het immers nie 'n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “ Abba , Vader!” Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. Want die skepping is onderwerp aan 'n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat 'n mens reeds kan sien? Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die •heiliges intree. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is; want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die •Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook •vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

ROMEINE 8:12-30 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Daarom, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees nie, om na die vlees te lewe. Want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe; maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. Want almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie; maar julle het die Gees van aanneming tot kinders ontvang, waardeur ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En as kinders is, dan erfgename; erfgename van God, en mede-erfgename met Christus; as ons saam met Hom ly, sodat ons ook saam verheerlik kan word. Want ek reken dat die lyding van hierdie huidige tyd nie waardig is om te vergelyk met die heerlikheid wat in ons geopenbaar sal word nie. Want die ernstige verwagting van die skepsel wag op die verskyning van die kinders van God. Want die skepsel is aan nietigheid onderwerp, nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit in hoop onderwerp het, Want ook die skepsel self sal verlos word van die slawerny van die verderf tot die heerlike vryheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping saam sug en saam in barensnood verkeer tot nou toe. En nie alleen hulle nie, maar ook onsself, wat die eerstelinge van die Gees het, selfs ons sug in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. Want ons word gered deur hoop, maar hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat 'n mens sien, waarom hoop hy nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons met geduld daarop. Net so kom die Gees ook ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie; maar die Gees self pleit vir ons met onuitspreeklike sugtinge. En hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat hy volgens die wil van God vir die heiliges intree. En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is. Want wie Hy vantevore geken het, het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die Eersgeborene kan wees onder baie broeders. En die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.