ROMEINE 8:10-11
ROMEINE 8:10-11 Bybel vir almal (ABA)
Julle liggame sal sterf omdat die sonde in die wêreld gekom het. Maar nou is Christus in julle, God het julle vrygespreek en die Heilige Gees laat julle waarlik lewe. Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en God se Gees woon nou in julle harte. Daarom, Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe en God sal eendag ook vir julle weer laat lewe, julle wie se liggame nog sal sterf, maar wat God se Gees in julle harte het.
ROMEINE 8:10-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
ROMEINE 8:10-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
ROMEINE 8:10-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
ROMEINE 8:10-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde; maar die Gees is lewe vanweë die geregtigheid. Maar as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
ROMEINE 8:10-11 Die Boodskap (DB)
Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan - dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal - sal die Gees julle op ’n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak.
ROMEINE 8:10-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees leef omdat julle saak met God reggemaak is. Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon.