DIE OPENBARING 2:8-16 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 2:8-16 ABA (Bybel vir almal)
“Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Smirna skryf: Die Een wat die Eerste en die Laaste is, Hy wat dood was maar wat weer lewe, Hy sê: Ek weet jy kry swaar en jy is arm, jy het min geld. Maar Ek sê jy is ryk, want jy behoort aan My. Ek weet die Jode praat sleg van jou, maar hulle is nie regtig Jode nie, hulle kom bymekaar in 'n sinagoge, maar dit is die sinagoge van die Satan. Jy sal swaarkry, maar jy moenie bang wees nie. Die duiwel sal party van julle in die tronk laat gooi. Dan sal almal sien of julle kan aanhou glo. Ja, julle sal tien dae lank swaarkry, maar jy moet aanhou glo, ook as die mense jou wil doodmaak. Dan sal Ek jou weer laat lewe, dit sal vir jou wees soos 'n lourier-krans op jou kop. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal jy nie 'n tweede maal sterf nie.” “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Pergamum skryf: Die Een wat die skerp swaard het, sê: Ek weet waar jy woon. Satan se troon is daar, maar jy hou aan om in My te glo. Ja, Satan woon daar by julle. En die mense het vir Antipas daar by julle doodgemaak omdat hy aangehou het om vir mense te vertel van My, maar jy was nie bang om te sê dat jy in My glo nie. Maar Ek is kwaad vir jou, want jy doen 'n paar dinge verkeerd. Party van jou mense doen die dinge wat Bileam vir die mense geleer het. Hy het vir Balak gesê hoe hy die Israeliete sonde kan laat doen. Hy het gesê Balak moet vir hulle afgod-offervleis laat eet en hy moet hulle onsedelik laat lewe. Dieselfde gebeur daar by jou. Daar is ook party mense wat die dinge glo wat die Nikolaïete vir hulle leer. Maar jy moet lewe soos Ek wil hê. As jy dit nie doen nie, dan sal Ek gou kom en Ek sal die swaard wat in my mond is, gebruik om oorlog te maak teen die mense wat die dinge glo wat die Nikolaïete vir hulle leer.
DIE OPENBARING 2:8-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het: Ek ken jou werke en verdrukking en armoede — maar jy is ryk — en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar 'n sinagoge van die Satan. Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie. EN skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het: Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Ántipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon. Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer. So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat. Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.
DIE OPENBARING 2:8-16 AFR83 (Afrikaans 1983)
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna: So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het: Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort. Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het: Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie, doodgemaak is daar by julle waar die Satan bly nie. Maar Ek het 'n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen. Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond.
DIE OPENBARING 2:8-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Smirna: “Dit sê die Eerste en die Laaste, wat dood was, maar lewend geword het, “ ‘Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die lastering deur diegene wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie regtig is nie, maar 'n sinagoge van Satan. Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Wie oorwin, sal beslis nie deur die tweede dood skade ly nie.’ ” “Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Pergamum: “Dit sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het, “ ‘Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar die Satan woon. Maar Ek hou 'n paar dinge teen jou: Jy het mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Hy het Balak geleer om 'n strik vir die kinders van Israel te stel, naamlik om van die afgodsoffers te eet, en hulle onsedelik te gedra. Net so het jy ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang, wat hulle op hierdie manier gedra. Kom dan tot bekering, anders sal Ek baie gou na jou toe kom, en met die swaard van my mond teen hulle oorlog maak.
DIE OPENBARING 2:8-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna; Dit sê die eerste en die laaste wat dood was en lewend is; Ek ken jou werke en verdrukking en armoede, maar jy is ryk, en ek ken die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar die sinagoge van die Satan is. Vrees vir niks van die dinge wat jy sal ly nie; kyk, die duiwel sal sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle beproef kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê; wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou 'n kroon van die lewe gee. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê; Hy wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie. En skryf aan die engel van die gemeente in Pergamos; Dit sê hy wat die skerp tweesnydende swaard het; Ek ken jou werke en waar jy woon, ook waar die troon van Satan is; en jy hou vas aan my Naam en het my geloof nie verloën nie, selfs in daardie dae waarin Antipas my getroue martelaar was, wat onder julle gedood is, waar Satan woon. Maar Ek het 'n paar dinge teen jou, want jy het daar die wat die leer van Bíleam vashou, wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te gooi, om afgodsoffers te eet en om te hoereer. So het jy ook die wat die leer van die Nikolaïete vashou, wat ek haat. Bekeer julle; anders sal Ek gou na jou toe kom en teen hulle veg met die swaard van my mond.
DIE OPENBARING 2:8-16 DB (Die Boodskap)
Skryf aan die leier van die gemeente in Smirna die volgende: Dit is die Een wat voor alles in die skepping daar was en wat nog daar sal wees wanneer alles verby is, wat met julle praat. Dit is Ek, Jesus, wat dood was en weer lewendig geword het. Ek weet hoe swaar julle kry. Ek sien hoe arm julle is. Onthou, julle is wel nie ryk hier op aarde nie, maar op ’n ander manier is julle ryk. Ek hoor hoe sleg daardie Jode julle maak. Hulle sleep julle naam deur die modder. Maar moenie te sleg voel daaroor nie. In God se oë is hulle nie meer sy mense nie. Hulle kom bymekaar in die huis van Satan. Moenie tou opgooi as mense julle op die pad vorentoe seermaak en terroriseer nie. Luister, die duiwel gaan sorg dat party van julle in die tronk beland. ’n Tyd lank sal julle regtig swaarkry. God sal egter sorg dat dit nie te lank duur nie. Sien dit as ’n toets vir julle geloof en lojaliteit teenoor My, al maak hulle julle dood. Moenie ophou nie, maar hou vol tot by die wenpaal. Daar sal Ek self vir julle die prys gee wat wenners behoort te kry: die lewe wat nooit sal ophou nie. Luister mooi. Die Heilige Gees sê hierdie dinge vir julle. Die een wat enduit ’n Christen bly se liggaam mag wel een maal doodgaan, maar hy sal nooit die ewige lewe verloor nie. Daar is geen manier waarop die dood dáárdie lewe van hom kan wegvat nie. Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Pergamum: Dit is die boodskap van Hom wie se woorde diep sny soos ’n swaard wat aan albei kante skerp gemaak is. Ek weet waar julle bly. Dit is waar Satan se troon staan, maar nogtans bly julle My dien. Julle is nie bang om te sê dat julle in My glo nie. Selfs toe Antipas doodgemaak is omdat hy, sonder om ’n tree terug te staan, mense van My vertel het, het julle ook nie julle geloof weggesteek nie. So te sê op die voorstoep van Satan self het julle My bly dien. Maar Ek het nog ’n klomp probleme met julle. Party van julle gemeentelede luister na alles wat Bileam sê. Dit is mos hy wat vir Balak geleer het hoe om die Israeliete om te praat om afgode te begin dien. Die Israeliete het selfs aan die vieslike en onsedelike feeste deelgeneem en lekker aan afgodsvleis gesmul. Julle laat julle net so deur die Nikolaïete mislei. Julle eet maar alles wat hulle sê vir soetkoek op. Los hierdie dinge en luister weer voluit na My. As julle dit nie doen nie, sal julle gou julle fout agterkom. Ek sal die klomp ongehoorsames onder julle tref met die skerp swaard uit my mond. Hulle sal voel wat dit beteken om onder my oordeel deur te loop.
DIE OPENBARING 2:8-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Skryf aan die voorganger van die gemeente in Smirna: Só sê Hy wat die Eerste en die Laaste is, wat dood was, en weer lewe: Ek ken jou swaarkry en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die leuentaal van dié wat sê dat hulle Jode is en dit nie regtig is nie, maar eintlik deel is van die sinagoge van Satan. Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry, vir tien dae lank. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die kroon van die lewe gee. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê. Elkeen wat aanhou oorwin, sal nié deur die tweede dood getref word nie. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het: Ek weet goed waar jy woon, waar die troon van Satan is. Tog het jy lojaal aan My gebly en nie die vertroue in My afgesweer nie, veral gedurende die tyd toe Antipas, my betroubare getuie, daar by julle waar Satan woon, doodgemaak is. Maar Ek het ’n paar klagtes teen jou: Jy verdra mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Dit is hy wat Balak beïnvloed het om ’n struikelblok in die pad van die Israeliete te plaas, naamlik om te eet van die afgodsoffervleis en om seksuele sondes te pleeg. Net so is daar in jou geledere ook aanhangers van die leer van die Nikolaïete wat ook só optree. Kom dan tot inkeer; anders kom Ek baie gou na jou toe en sal Ek teen hulle oorlog maak met die skerp swaard van my mond.