Openbaring 2:8-16
Openbaring 2:8-16 AFR20
“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Smirna: “Dit sê die Eerste en die Laaste, wat dood was, maar lewend geword het, “ ‘Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die lastering deur diegene wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie regtig is nie, maar 'n sinagoge van Satan. Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Wie oorwin, sal beslis nie deur die tweede dood skade ly nie.’ ” “Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Pergamum: “Dit sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het, “ ‘Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar die Satan woon. Maar Ek hou 'n paar dinge teen jou: Jy het mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Hy het Balak geleer om 'n strik vir die kinders van Israel te stel, naamlik om van die afgodsoffers te eet, en hulle onsedelik te gedra. Net so het jy ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang, wat hulle op hierdie manier gedra. Kom dan tot bekering, anders sal Ek baie gou na jou toe kom, en met die swaard van my mond teen hulle oorlog maak.


