Openbaring 2

2
Briefboodskappe aan die sewe gemeentes in Asië
Aan die gemeente in Efese
1“Skryf aan die boodskapper van die •gemeente in Efese:
“Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, en wat tussen die sewe goue kandelare rondbeweeg,
2“ ‘Ek ken jou dade, jou inspanning en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie. Daarom het jy daardie mense wat sê dat hulle •apostels is, maar nie is nie, getoets, en hulle as leuenaars uitgewys. 3Verder hou jy aan om te volhard, en het jy ter wille van my Naam baie verduur, sonder om moeg te word. 4Maar Ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde versaak het. 5Onthou dan waarvandaan jy uitgesak het, en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het. Anders, as jy nie tot bekering kom nie, sal Ek na jou toe kom, en jou kandelaar van sy staanplek af verwyder. 6Maar dít tel in jou guns: Jy haat die dade van die Nikolaïete, wat Ek ook haat.
7“ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan.’ ”
Aan die gemeente in Smirna
8“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Smirna:
“Dit sê die Eerste en die Laaste, wat dood was, maar lewend geword het,
9“ ‘Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die lastering deur diegene wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie regtig is nie, maar 'n sinagoge van Satan. 10Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee.
11“ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Wie oorwin, sal beslis nie deur die tweede dood skade ly nie.’ ”
Aan die gemeente in Pergamum
12“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Pergamum:
“Dit sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het,
13“ ‘Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar die Satan woon. 14Maar Ek hou 'n paar dinge teen jou: Jy het mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Hy het Balak geleer om 'n strik vir die kinders van Israel te stel, naamlik om van die afgodsoffers te eet, en hulle onsedelik te gedra. 15Net so het jy ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang, wat hulle op hierdie manier gedra. 16Kom dan tot bekering, anders sal Ek baie gou na jou toe kom, en met die swaard van my mond teen hulle oorlog maak.
17“ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek van die verborge manna gee, en Ek sal vir hom 'n wit klippie gee, ja, 'n klippie waarop 'n nuwe naam gegraveer is, en wat niemand anders ken nie, behalwe die een wat dit ontvang.’ ”
Aan die gemeente in Tiatira
18“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Tiatira:
“Dit sê die •Seun van God, wat oë het soos 'n vlammende vuur, en voete soos gloeiende koper,
19“ ‘Ek ken jou dade en liefde en geloof en diens en volharding, en weet dat jou latere dade die eerstes oortref. 20Maar Ek hou dit teen jou dat jy die vrou Isebel net laat begaan – sy wat haarself 'n profetes noem, en my diensknegte leer en verlei om te hoereer en om afgodsoffers te eet. 21Ek het haar tyd gegun om tot bekering te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar hoerery. 22Kyk, Ek werp haar op 'n siekbed, en ook hulle wat met haar egbreuk gepleeg het, in groot verdrukking, as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23En haar kinders sal Ek met die dood tref. Laat al die gemeentes daarvan kennis neem dat dit Ek is wat niere en harte deurgrond. Ek sal elkeen van julle beloon volgens julle dade. 24Maar vir julle ander in Tiatira wat nie hierdie leer aanhang nie, en wat nie die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê nie op julle 'n ander las nie, 25behalwe net om vas te hou aan wat julle het, totdat Ek kom.
26“ ‘Aan wie oorwin, en enduit vashou aan wat Ek sê,
“ ‘sal Ek mag gee oor die nasies.
27Hy sal hulle as 'n herder lei met 'n ysterstaf,
en hulle soos kleipotte stukkend slaan.
28Soos Ek dit van my Vader ontvang het,
sal Ek aan hom
ook die môrester gee.
29“ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid