DIE OPENBARING 2

2
Die boodskap aan Efese
1Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese:
So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan:
2Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.
4Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.
5Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! 6Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.
7Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.
Die boodskap aan Smirna
8Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna:
So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het:
9Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort.
10Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.
11Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.
Die boodskap aan Pergamum
12Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum:
So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:
13Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie, doodgemaak is daar by julle waar die Satan bly nie.
14Maar Ek het 'n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. 15So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen.
16Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond.
17Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.
Die boodskap aan Tiatira
18Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira:
So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is:
19Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore.
20Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. 21Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22Kyk, Ek gee haar aan 'n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding – as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Haar volgelinge sal Ek deur 'n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.
24Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25hou net vas wat julle het, totdat Ek kom.
26Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee.
29Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid