DIE OPENBARING 18:14-24 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 18:14-24 ABA (Bybel vir almal)

Ja, Babilon, jy het gehou van baie goed, maar nou is dit alles weg, al die duur goed, al die blink goed, jy sal dit nooit weer sien nie! Die handelaars het ryk geword, want hulle het baie goed aan haar verkoop. Maar hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. Hulle sal huil en kla. Hulle sal sê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Sy het mooi klere gedra, die materiaal was pers en baie rooi! Sy het goue goed gedra en sy het mooi gelyk, sy het edelstene en pêrels gedra! Maar in een uur het God die stad leeggemaak, die stad wat so ryk was!” Die kapteins van die skepe het ver gaan staan, en ook almal op die skepe en al die matrose en almal wat op die skepe werk. Hulle het gesien hoe die stad brand, en hulle het geskree en gesê: “Daar was nie 'n ander stad wat so wonderlik was soos hierdie groot stad nie!” En hulle het stof op hulle koppe gegooi en gehuil en gekla. Hulle het gesê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Sy was ryk en sy het almal ryk gemaak wat skepe op die see het. Maar God het haar in een uur leeggemaak!” Ja, die hemel moet juig! En al die mense wat aan God behoort, moet juig! En die apostels en die profete moet juig! Want Babilon het vir júlle gestraf, maar nou het God háár gestraf! 'n Sterk engel het 'n klip opgetel, die klip het soos 'n groot maalklip gelyk. Hy het die klip in die see gegooi en gesê: “God sal vir Babilon ook so gooi! Sy sal hard val, en die mense sal haar nooit weer sien nie! Niemand sal weer hoor dat iemand in die stad harp speel nie! Niemand sal weer hoor dat iemand daar sing nie! Niemand sal weer hoor dat iemand daar 'n fluit of 'n trompet blaas nie! Niemand sal weer hoor dat 'n ambagsman daar werk nie! Niemand sal weer hoor hoe iemand daar koring maal nie! Die lig van 'n lamp sal nooit weer in Babilon brand nie! En niemand sal weer die stemme van 'n bruid en 'n bruidegom daar hoor nie! Want, Babilon, jou handelaars was die belangrikste handelaars in die wêreld, en jy het getoor en jy het die mense van al die volke verkeerde dinge laat doen! Want jy het die profete doodgemaak en ook die mense wat aan God behoort! Ja, jy het baie mense op die aarde doodgemaak!”

DIE OPENBARING 18:14-24 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En die vrugte wat jou siel begeer, het van jou gewyk, en al die blinkende en die skitterende dinge het van jou gewyk, en jy sal dit nooit weer kry nie. Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê: Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is! En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan en het uitgeroep toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: Watter stad is soos die groot stad? En hulle het stof op hul hoofde gegooi en onder geween en weeklag uitgeroep en gesê: Wee, wee die groot stad waarin almal wat skepe op die see het, deur haar kostelike skatte ryk geword het; want dit is in een uur verwoes! Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God julle oordeel aan haar voltrek het! En een sterk engel het 'n klip opgetel soos 'n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met 'n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie. En die stem van siterspelers en sangers en fluitspelers en basuinblasers sal nooit meer in jou gehoor word nie, en geen kunstenaar van enige kuns sal ooit weer in jou gevind word nie, en die geluid van die meul sal nooit meer in jou gehoor word nie. En die lig van 'n lamp sal nooit meer in jou skyn nie, en die stem van bruidegom en bruid sal nooit meer in jou gehoor word nie; want jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.

DIE OPENBARING 18:14-24 AFR83 (Afrikaans 1983)

Daar sal gesê word: “Hierdie produkte wat die lus van jou lewe was, is nou daarmee heen. Al die weelde en skittering is nou vir jou verlore en sal nêrens en nooit meer gevind word nie.” Die sakemanne wat met hierdie goed handel gedrywe en so van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word. Hulle sal huil en kerm en sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels! In een oomblik is soveel rykdom verwoes!” Al die skeepskapteins en almal wat êrens heen vaar, die matrose en almal wat van die see lewe, het ver weg gestaan en het geskreeu toe hulle die rook sien soos sy verbrand word. Hulle het gesê: “Watter stad kon met dié groot stad vergelyk word?” Hulle het stof op hulle koppe gegooi en geskreeu. Hulle het gehuil en gekerm en gesê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad! Almal wat skepe op see het, het ryk geword van haar skatte. In een oomblik is sy verwoes!” Verheug jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete! God het die oordeel waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek. Toe het 'n sterk engel 'n groot klip, so groot soos 'n meulsteen, gevat en dit in die see gegooi en gesê: “So, met geweld, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word, en niemand sal hom ooit weer kry nie. Die musiek van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers sal nooit weer in jou gehoor word nie. Geen ambagsman van watter ambag ook al sal ooit weer in jou gekry word nie. Die gedreun van 'n meul sal nooit weer in jou gehoor word nie. Die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stemme van bruid en bruidegom sal nooit weer in jou gehoor word nie. Jou sakemanne was die heersers van die aarde, en deur jou bedrog is al die nasies mislei.” Babilon is skuldig aan die bloed van die profete en die gelowiges, almal wat op die aarde doodgemaak is.

DIE OPENBARING 18:14-24 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“En die vrug van jou hartsbegeerte is jou nou ontneem. Al die weelde en luukshede is nou vir jou verlore; dit is beslis nie meer te vinde nie.” Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op 'n afstand staan, uit vrees vir haar foltering. Hulle huil en rou onophoudelik, terwyl hulle sê: “Wee, wee jou, groot stad, uitgedos in fyn linneklere, purperrooi en helderrooi, en opgesmuk met goud en edelstene en pêrels! Want binne 'n oomblik is soveel rykdom uitgewis! ” Elke stuurman, en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat 'n lewe maak uit die see, het op 'n afstand gestaan. Hulle het geskree toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: “Watter stad is net soos dié groot stad?” En hulle het stof op hulle koppe gestrooi en geskree, terwyl hulle huil en rou en sê: “Wee, wee jou, groot stad, deur wie se skatte almal wat skepe op see besit, ryk geword het. Want binne 'n oomblik is sy uitgewis. Juig oor haar, hemel, •heiliges, •apostels en profete! God het julle oordeel oor haar voltrek.” Toe het een sterk engel 'n klip, soos 'n groot maalklip van 'n donkie, opgetel en dit in die see gegooi en gesê: “Net so, met geweld, sal die groot stad Babilon neergegooi word, en sy sal nooit weer gevind word nie. En die klank van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers, sal nooit weer in jou gehoor word nie. En geen ambagsman van enige ambag sal ooit weer in jou gevind word nie. Ook die geluid van 'n meule sal nooit weer in jou gehoor word, en die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stem van 'n bruidegom en bruid sal nooit weer in jou gehoor word nie. Jou sakelui was die magtiges van die aarde, want deur jou betowering is al die nasies mislei. Maar in haar is ook die bloed van profete en heiliges gevind, en ook van almal wat op die aarde doodgemaak is.”

DIE OPENBARING 18:14-24 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die vrugte waarna jou siel begeer het, het van jou gewyk, en alles wat lekker en goed was, het van jou gewyk, en jy sal dit glad nie meer vind nie. Die handelaars van hierdie dinge wat deur haar ryk gemaak is, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, huil en weeklaag, en gesê: Wee, helaas, daardie groot stad wat bekleed was met fyn linne en purperrooi en bloedrooi stowwe en versier was met goud en edelgesteentes en pêrels! Want in een uur het so groot rykdom tot niet geraak. En elke skeepshoof, en die hele menigte op skepe, en matrose en almal wat op see handel dryf, het van ver af gestaan, En toe hulle die rook van haar brand sien, het hulle uitgeroep en gesê: Watter stad is soos hierdie groot stad! En hulle het stof op hul koppe gegooi en geween en geklaag en gesê: Wee, helaas, die groot stad waarin almal wat skepe op die see gehad het, ryk gemaak is vanweë haar duur! want in een uur is sy verwoes. Verheug jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete! want God het jou op haar gewreek. En 'n magtige engel het 'n klip opgetel soos 'n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So sal die groot stad Babel met geweld neergewerp word en glad nie meer gevind word nie. En die stem van siters en sangers en fluitspelers en basuinspelers sal glad nie meer in jou gehoor word nie; en geen ambagsman, van watter ambag hy ook al is, sal meer in jou gevind word nie; en die geluid van 'n meulsteen sal glad nie meer in jou gehoor word nie; En die lig van 'n kers sal glad nie meer in jou skyn nie; en die stem van die bruidegom en van die bruid sal glad nie meer in jou gehoor word nie, want jou handelaars was die groot manne van die aarde; want deur u towerye is al die nasies verlei. En in haar is die bloed gevind van profete en heiliges en van almal wat op die aarde gedood is.

DIE OPENBARING 18:14-24 DB (Die Boodskap)

“Alles waarvoor julle geleef het, is daarmee heen. Dit wat julle so graag wou hê, is weg. Al die spoggerige luukshede het soos dou voor die oggendson verdwyn; dit is vir altyd weg!” Hierdie einste handelaars wat so ryk geword het uit die stad sal haar nie nou gaan help nie. Hulle sal net van ver af staan en kyk. Hulle is bang dat wat die stad tref, hulle ook gaan tref. Tog huil hulle kliphard: “Die arme, arme stad. Die groot, belangrike stad! Kyk net hoe het sy haar deftig opgetof met mooi pers en rooi klere. Kyk na al haar duur juwele: dis net pêrels en edelstene waar jy kyk! In ’n enkele oogwink sorg God dat daar van al hierdie rykdom en weelde niks oorbly nie.” Die skeepskapteins, matrose en almal wat iets met die see te doen het, het van ver af gestaan en kyk. Hulle het die rookwolke gesien wat van die stad af opgestyg het. Dit het hulle laat uitroep: “Wat ’n wonderlike stad was dit! Daar was nog nooit so iets nie!” Om te wys hoe hartseer hulle regtig was, het hulle stof oor hulle gegooi. So deur die trane en snikke het hulle gesê: “Hoe ellendig, hoe verskriklik is dit tog nie! Kyk na die magtige stad. Almal wat skepe op die see gehad het, het skatryk geword. Daarvoor het sy gesorg. En nou, met een veeg van sy hand, het God ’n einde aan alles gemaak.” In die hemel moet almal bly wees oor wat met die stad gebeur. Al God se mense, die mense wat Hy uitgestuur het om vir Hom te werk, hulle wat sy Woord moet verkondig, moet net so bly wees. God het haar immers gestraf oor wat sy aan hulle gedoen het. Daar kom toe ’n engel wat baie sterk was. Hy vat ’n groot rots en gooi dit in die see. Hy kondig toe aan: “So, soos hierdie rots, sal die groot stad Babilon met mening neergegooi word. Soos die rots sal dit vir ewig verdwyn. Daar sal net mooi niks oorbly nie, nie eens een musiekinstrument nie; nie eens ’n enkele ding wat iemand maak of bou nie; nie ’n korreltjie meel nie; ja, niks nie! Daar sal nie ’n lampie oorbly om iewers sy dowwe liggie te gooi nie, wat nog te sê van die vrolike gesels van twee pasgetroudes. Net mooi niks sal oorbly van Babilon nie, en sy was eens die een wat met al die belangrikste en rykste besigheidsmanne in die wêreld gespog het! Sy kon mense van oral af deur haar oëverblindery om die bos lei. Dit was ook die einste stad waarin die kinders van God en sy boodskappers doodgemaak is, ja, vermoor is!”

DIE OPENBARING 18:14-24 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hulle sê: “Hierdie luukse waarna jy in jou diepste binneste gesmag het, is jou nou ontneem. Al die weelderige en blink dinge is nou vir jou verlore en hulle sal dit nêrens en nooit weer vind nie.” Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op ’n afstand gaan staan, omdat hulle bang is vir die foltering wat sy deurgaan. Hulle sal huil en rou terwyl hulle sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik is dit tog vir die groot stad, uitgevat in fyn linneklere, pers en bloedrooi, en opgesmuk met goud, kosbare stene en pêrels. In een enkele uur is soveel rykdom uitgewis!” Elke stuurman en elkeen wat per skip iewers heen vaar, die matrose en almal wat van die see afhanklik is, het op ’n afstand gaan staan, en hulle het geskreeu toe hulle die rook van haar verbranding sien. Hulle het gesê: “Watter stad was soos dié groot stad?” Hulle het toe stof op hulle koppe gestrooi en dit uitgeskreeu. Huilend en in rou gedompel, het hulle aanhou sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik is dit tog vir die groot stad! Almal wat skepe besit op die see, het hulle verryk uit haar bates. In een enkele uur is sy verwoes.” Wees uitgelate oor haar val, hemel, en julle wat aan God gewy is, apostels en profete! God het die oordeel wat julle uitgespreek het, inderdaad oor haar gebring. Toe het ’n baie sterk engel ’n yslike rots, so groot soos ’n maalklip, gevat en dit in die see gegooi en gesê: “Net so gewelddadig sal neergegooi word Babilon, die groot stad, en niemand sal dit ooit weer vind nie. Die geluid van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers sal nooit weer in jou gehoor word nie. Geen ambagsman, van watter ambag ook al, sal ooit weer in jou gevind word nie. Die geluid van ’n meule sal nooit weer in jou gehoor word nie. Die lig van ’n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stem van ’n bruidegom en bruid sal nooit weer in jou gehoor word nie. Jou handelaars was die magnate van hierdie aarde, want deur jou bedrieëry het hulle al die nasies om die bos gelei.” In Babilon se strate is die bloed van die profete gevind, en van hulle wat aan God toegewy is, ja, almal wat op die aarde doodgemaak is.