DIE OPENBARING 18:14-24
DIE OPENBARING 18:14-24 AFR83
Daar sal gesê word: “Hierdie produkte wat die lus van jou lewe was, is nou daarmee heen. Al die weelde en skittering is nou vir jou verlore en sal nêrens en nooit meer gevind word nie.” Die sakemanne wat met hierdie goed handel gedrywe en so van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word. Hulle sal huil en kerm en sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels! In een oomblik is soveel rykdom verwoes!” Al die skeepskapteins en almal wat êrens heen vaar, die matrose en almal wat van die see lewe, het ver weg gestaan en het geskreeu toe hulle die rook sien soos sy verbrand word. Hulle het gesê: “Watter stad kon met dié groot stad vergelyk word?” Hulle het stof op hulle koppe gegooi en geskreeu. Hulle het gehuil en gekerm en gesê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad! Almal wat skepe op see het, het ryk geword van haar skatte. In een oomblik is sy verwoes!” Verheug jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete! God het die oordeel waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek. Toe het 'n sterk engel 'n groot klip, so groot soos 'n meulsteen, gevat en dit in die see gegooi en gesê: “So, met geweld, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word, en niemand sal hom ooit weer kry nie. Die musiek van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers sal nooit weer in jou gehoor word nie. Geen ambagsman van watter ambag ook al sal ooit weer in jou gekry word nie. Die gedreun van 'n meul sal nooit weer in jou gehoor word nie. Die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stemme van bruid en bruidegom sal nooit weer in jou gehoor word nie. Jou sakemanne was die heersers van die aarde, en deur jou bedrog is al die nasies mislei.” Babilon is skuldig aan die bloed van die profete en die gelowiges, almal wat op die aarde doodgemaak is.


