Openbaring 18

18
God straf Babilon
1Nadat hierdie dinge gebeur het, het ek gesien dat 'n ander engel uit die hemel kom. Die engel was baie sterk, hy kon baie dinge doen, en die lig wat om hom was, het dit lig gemaak op die aarde. 2Die engel het hard geskree en gesê:
“ Babilon, die groot stad,
is afgebreek en plat!
Ja, dit is plat!
Die duiwels woon nou daar,
al die onrein geeste
kom daar bymekaar,
al die onrein voëls
kom daar bymekaar,
al die onrein diere
kom daar bymekaar,
mense hou niks
van daardie diere nie.
3Babilon is plat op die grond,
want sy was soos 'n prostituut!
Die mense van al die volke
het onsedelik met haar gelewe,
hulle het aangehou,
hulle wou meer en meer kry!
Die konings van die aarde
het onsedelik gelewe met haar
en die handelaars van die aarde
het ryk geword,
want sy was sterk en het graag
duur goed gekoop!”
4Toe het ek gehoor dat Iemand in die hemel sê:
“My volk, julle moet uitkom
uit daardie stad!
Dan sal julle nie sonde doen
saam met die mense
van die stad nie,
en God sal julle nie saam
met hulle straf nie!
5Die mense van daardie stad
doen baie sondes,
dit is 'n groot hoop sondes,
dit is so hoog soos die hemel!
Ja, God het onthou dat hulle
verkeerde dinge gedoen het!
6Julle moet dieselfde
aan hulle doen
wat hulle aan julle gedoen het,
julle moet hulle twee maal straf
vir elke verkeerde ding
wat hulle gedoen het!
Hulle het vir julle
die beker van swaarkry
gegee om te drink.
Nou moet julle twee maal
die beker van swaarkry
vir húlle gee om te drink!
7Die mense van daardie stad
is soos 'n vrou wat haarself
baie mooi gemaak het
en baie duur goed gekoop het.
Nou moet julle haar
baie laat seerkry
en baie laat swaarkry!
Want sy sê vir haarself:
‘Ek is 'n koningin!
Ek is nie 'n weduwee nie!
Ek sal nooit huil en treur nie!’
8Daarom sal Ek haar op een dag
baie maal straf:
Sy sal pes kry,
sy sal treur,
sy sal honger wees,
die Here God
sal haar verbrand,
want Hy straf haar
en Hy is sterk!”
9Die konings van die aarde het onsedelik gelewe met die stad Babilon, en hulle het saam met haar duur goed gekoop. Maar hulle sal sien hoe sy brand, en hulle sal huil en kla oor haar. 10Hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. En hulle sal sê:
“Dit gaan sleg
met die Groot Stad!
Baie sleg!
Dit gaan sleg met Babilon,
die sterk stad!
God het haar vinnig gestraf,
Hy het haar in een uur gestraf!”
11En die handelaars van die aarde sal huil en kla oor haar, want daar is niemand wat hulle goed koop nie. 12Niemand koop hulle goud, silwer, edelstene en pêrels nie. Niemand koop fyn materiaal, pers materiaal, sy, en materiaal wat rooi is nie. Niemand koop die baie soorte hout wat lekker ruik, die baie soorte goed van ivoor, die baie soorte goed van duur hout, van koper, yster en marmer nie. 13Ja, niemand koop die handelaars se kaneel, speserye, wierook, lekkerruik-olie, speserye wat lekker ruik, wyn, olyf-olie, die beste meel, koring, beeste, skape, perde, waens, slawe en mense nie.
14Ja, Babilon, jy het gehou
van baie goed,
maar nou is dit alles weg,
al die duur goed,
al die blink goed,
jy sal dit nooit weer sien nie!
15Die handelaars het ryk geword, want hulle het baie goed aan haar verkoop. Maar hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. Hulle sal huil en kla. 16Hulle sal sê:
“Dit gaan sleg
met die Groot Stad!
Baie sleg!
Sy het mooi klere gedra,
die materiaal was pers
en baie rooi!
Sy het goue goed gedra
en sy het mooi gelyk,
sy het edelstene
en pêrels gedra!
17Maar in een uur het God
die stad leeggemaak,
die stad wat so ryk was!”
Die kapteins van die skepe het ver gaan staan, en ook almal op die skepe en al die matrose en almal wat op die skepe werk. 18Hulle het gesien hoe die stad brand, en hulle het geskree en gesê: “Daar was nie 'n ander stad wat so wonderlik was soos hierdie groot stad nie!”
19En hulle het stof op hulle koppe gegooi en gehuil en gekla. Hulle het gesê:
“Dit gaan sleg
met die Groot Stad!
Baie sleg!
Sy was ryk
en sy het almal ryk gemaak
wat skepe op die see het.
Maar God het haar in een uur
leeggemaak!”
20Ja, die hemel moet juig!
En al die mense
wat aan God behoort,
moet juig!
En die apostels en die profete
moet juig!
Want Babilon het vir júlle gestraf,
maar nou het God háár gestraf!
21'n Sterk engel het 'n klip opgetel, die klip het soos 'n groot maalklip gelyk. Hy het die klip in die see gegooi en gesê:
“God sal vir Babilon ook so gooi!
Sy sal hard val,
en die mense sal haar
nooit weer sien nie!
22Niemand sal weer hoor
dat iemand in die stad
harp speel nie!
Niemand sal weer hoor
dat iemand daar sing nie!
Niemand sal weer hoor
dat iemand daar 'n fluit
of 'n trompet blaas nie!
Niemand sal weer hoor
dat 'n ambagsman
daar werk nie!
Niemand sal weer hoor
hoe iemand daar
koring maal nie!
23Die lig van 'n lamp
sal nooit weer
in Babilon brand nie!
En niemand sal weer die stemme
van 'n bruid en 'n bruidegom
daar hoor nie!
Want, Babilon, jou handelaars was
die belangrikste handelaars
in die wêreld,
en jy het getoor en jy het
die mense van al die volke
verkeerde dinge laat doen!
24Want jy het die profete
doodgemaak
en ook die mense
wat aan God behoort!
Ja, jy het baie mense
op die aarde doodgemaak!”

Tans Gekies:

Openbaring 18: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid