Openbaring 18:14-24
Openbaring 18:14-24 ABA
Ja, Babilon, jy het gehou van baie goed, maar nou is dit alles weg, al die duur goed, al die blink goed, jy sal dit nooit weer sien nie! Die handelaars het ryk geword, want hulle het baie goed aan haar verkoop. Maar hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. Hulle sal huil en kla. Hulle sal sê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Sy het mooi klere gedra, die materiaal was pers en baie rooi! Sy het goue goed gedra en sy het mooi gelyk, sy het edelstene en pêrels gedra! Maar in een uur het God die stad leeggemaak, die stad wat so ryk was!” Die kapteins van die skepe het ver gaan staan, en ook almal op die skepe en al die matrose en almal wat op die skepe werk. Hulle het gesien hoe die stad brand, en hulle het geskree en gesê: “Daar was nie 'n ander stad wat so wonderlik was soos hierdie groot stad nie!” En hulle het stof op hulle koppe gegooi en gehuil en gekla. Hulle het gesê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Sy was ryk en sy het almal ryk gemaak wat skepe op die see het. Maar God het haar in een uur leeggemaak!” Ja, die hemel moet juig! En al die mense wat aan God behoort, moet juig! En die apostels en die profete moet juig! Want Babilon het vir júlle gestraf, maar nou het God háár gestraf! 'n Sterk engel het 'n klip opgetel, die klip het soos 'n groot maalklip gelyk. Hy het die klip in die see gegooi en gesê: “God sal vir Babilon ook so gooi! Sy sal hard val, en die mense sal haar nooit weer sien nie! Niemand sal weer hoor dat iemand in die stad harp speel nie! Niemand sal weer hoor dat iemand daar sing nie! Niemand sal weer hoor dat iemand daar 'n fluit of 'n trompet blaas nie! Niemand sal weer hoor dat 'n ambagsman daar werk nie! Niemand sal weer hoor hoe iemand daar koring maal nie! Die lig van 'n lamp sal nooit weer in Babilon brand nie! En niemand sal weer die stemme van 'n bruid en 'n bruidegom daar hoor nie! Want, Babilon, jou handelaars was die belangrikste handelaars in die wêreld, en jy het getoor en jy het die mense van al die volke verkeerde dinge laat doen! Want jy het die profete doodgemaak en ook die mense wat aan God behoort! Ja, jy het baie mense op die aarde doodgemaak!”


