PSALMS 46:1-12 - Compare All Versions
PSALMS 46:1-12 ABA (Bybel vir almal)
Vir die leier van die koor: Van die Korag-groep. Dieselfde musiek soos vir die lied “Jong Vroue.” 'n Lied. God beskerm ons en Hy maak ons sterk, Hy is altyd gereed om ons te help. Daarom is ons nie bang nie, ook nie wanneer die aarde skud, en die berge tot in die see val nie, ook nie wanneer die water van die see raas en skuim, en sy wilde branders die berge laat bewe nie. Sela Daar is 'n rivier, sy strome maak die mense bly wat woon in die stad van God, die gewyde woonplek van die Hoogste God. God is in hierdie stad, niemand sal die stad oorwin nie, God sal die stad help wanneer dit oggend word. Volke het geraas, lande is verwoes. Wanneer die Here praat, dan smelt die aarde weg. Die Here wat oor alles regeer, is by ons, die God van Jakob beskerm ons. Sela Julle moet kom kyk wat die Here doen, kom kyk watter wonderlike dinge Hy op die aarde doen: Hy het oorloë laat ophou op die hele aarde, Hy het pyl en boog gebreek, spiese stukkend geslaan en skilde verbrand. Hy het gesê: “Julle moet ophou veg, julle moet weet dat Ek God is, Ek is hoog bo die volke, hoog bo die aarde.” Die Here wat oor alles regeer, is by ons, die God van Jakob beskerm ons. Sela
PSALMS 46:1-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
VIR die musiekleier. Van die kinders van Korag. Met sopraanstemme. 'n Lied. God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela. Die stroompies van 'n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek. Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe. Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela. Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand. Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde. Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.
PSALMS 46:1-12 AFR83 (Afrikaans 1983)
Vir die koorleier. Van die Koragiete. Op die wysie van “Jong Vroue”. 'n Lied. God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God is daar; die stad sal nie wankel nie. God sal hom help nog voor die môre kom. Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring: die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela
PSALMS 46:1-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. Op “Jong vroue”. 'n Lied. God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag; as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde. Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge wankel in die hart van die see nie. Sy waters kan maar woed, kan maar skuim, berge kan maar bewe in sy dreuning. •Sela Daar is 'n rivier – sy watervore verskaf vreugde aan die stad van God, die heiligste woonplek van die Allerhoogste. God is in haar midde, sy sal nie wankel nie. God sal haar help wanneer die oggend aanbreek. Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel, Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder. Die HERE, Heerser oor alle magte, is met ons, 'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons. Sela Kom kyk na die dade van die HERE, Hy wat skrikwekkende dinge op aarde doen, wat oorloë laat ophou tot aan die einde van die aarde. Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese; waens verbrand Hy in die vuur. “Bedaar en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.” Die HERE, Heerser oor alle magte, is met ons, 'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons. Sela
PSALMS 46:1-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help. Daarom sal ons nie bang wees nie, al bewe die aarde, al verskuif die berge diep in die see; al bruis en skuim die waters, al skud die berge as die waters styg! Sela Die strome van die rivier bring vreugde in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God self woon daar; dit sal nie beweeg nie. As die dag breek, sal God kom help. Die nasies rumoer en koninkryke wankel. God praat, en die aarde versmelt. Die HERE, die Almagtige, is by ons; ons skuilplek is die God van Jakob. Sela Kom, aanskou die werke van die HERE, wat verwoesting bring op die aarde en oorloë beëindig oor die hele aarde. Hy verbreek die boog en vernietig die spies. Die skilde verbrand Hy met vuur. “Wees stil en weet Ek is God! Ek sal vereer word deur die nasies, verhewe wees oor die hele aarde.” Die HERE, die Almagtige, is by ons. Ons skuilplek is die God van Jakob. Sela