PSALMS 46

46
God is vir ons 'n toevlug
1Vir die koorleier. Van die Koragiete. Op die wysie van “Jong Vroue”. 'n Lied.
2God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
3Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
4al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela
5Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad,
in die heilige woning van die Allerhoogste.
6God is daar; die stad sal nie wankel nie.
God sal hom help nog voor die môre kom.
7Nasies kan raas en koninkryke wankel,
maar as God sy stem laat hoor,
smelt die aarde weg.
8Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela
9Kom kyk wat die Here gedoen het,
watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:
10die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou,
pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend,
oorlogswaens verbrand Hy met vuur.
11Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
12Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela

Tans Gekies:

PSALMS 46: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid