SPREUKE 6:16-35 - Compare All Versions
SPREUKE 6:16-35 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers. My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf; wat jou moeder jou leer, moet jy nie in die wind slaan nie. Dit moet jou altyd bybly, daarmee moet jy saamleef; dit sal vir jou leiding gee in wat jy doen, dit sal jou beskerm as jy slaap en jou lei sodra jy wakker word. Wat ek jou voorskryf, is 'n lamp, my onderrig is 'n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe. My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei. Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie. Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos. Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand? Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie. 'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil, en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit. Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe. Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie. Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie perke nie; hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.
SPREUKE 6:16-35 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel: trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai. BEWAAR, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals; mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word. Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe, om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong. Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie; want vir 'n hoer verval 'n mens tot 'n stuk brood, en 'n ander se vrou maak jag op 'n kosbare lewe. Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand? Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry? So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie. 'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het; en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee. Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hý doen so iets; slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie; want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie; hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.
SPREUKE 6:16-35 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Daar is ses dinge wat die HERE haat, nee, eintlik sewe dinge waarvan Hy ’n afsku het: oë vol hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat onskuldiges doodmaak, ’n hart wat slegte planne beraam, voete wat agter kwaad aanloop, ’n vals getuie wat leuens verkoop, en iemand wat rusie veroorsaak tussen broers. My seun, gehoorsaam wat jou pa jou leer. Moenie reëls wat jou ma vir jou gee, ignoreer nie. Bewaar dit altyd in jou hart. Dra dit om jou nek. Waarheen jy ook al op pad is, dit sal vir jou die koers aandui. Dit sal jou beskerm wanneer jy slaap. Dit sal jou wys wat jy moet doen sodra jy wakker word. My opdragte is soos ’n lamp vir jou. My reëls is vir jou ’n lig. Vir die een wat hom laat dissiplineer, is dit die pad na die lewe. Hierdie reëls sal jou beskerm teen die onsedelike vrou, teen die vreemde vrou wat jou wil verlei met haar gladde tong. Moenie opgewonde raak omdat sy mooi is nie. Moenie dat sy jou vang met die gefladder van haar wimpers nie. ’n Prostituut kan jy vir ’n stukkie brood in die hande kry. Owerspel met ’n ander man se vrou kan jou egter jou hele lewe kos. Kan jy kole vuur in ’n voorskoot dra sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop en nie jou voete skroei nie? Net so is dit met iemand wat by ’n ander man se vrou gaan slaap. Niemand wat met haar lol, sal ongedeerd daarvan afkom nie. ’n Dief kan verskoon word wanneer hy steel, want hy was honger. As hy betrap word, moet hy sewe maal meer teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit. Maar die man wat owerspel pleeg, is heeltemal dwaas. Iemand wat dit doen, verwoes sy hele lewe. Hy sal slae verduur en verneder word. Niks sal ooit weer sy skande kan uitwis nie. Die verontwaardiging wat die vrou se man ervaar, sal brand soos vuur. Daar sal geen einde aan sy wraak wees nie. Hy sal geen vergoeding aanvaar nie. Geen geskenk, hoe groot ook al, is vir hom genoeg nie.
SPREUKE 6:16-35 DB (Die Boodskap)
Kyk, daar is ses dinge waarvan die Here niks hou nie, sewe dinge wat Hy haat. Oë wat hoogmoed weerkaats, ’n tong wat leuens vertel, ’n hand wat ander se ondergang bewerk, ’n hart wat net slegte dinge dink, voete wat haastig na die kwaad toe hardloop, ’n vals mens wat na elke asemteug net leuens uitasem, en ’n rusverstoorder wat die liefde tussen mense wegvat. Jongman, jou ouers se opvoeding is belangrik. Hou vas aan die reëls wat jy by jou pa gekry het. En jou ma se lesse moet jy nooit vergeet nie. Dink gedurig daaraan sodat jy dit nooit sal vergeet nie. Of hang dit soos ’n hangertjie om jou nek sodat jy dit altyd sal onthou. Jou ouers se opvoeding sal jou help om gelukkig te leef. Wanneer jy gaan slaap, sal hierdie lewenswyshede jou nie verlaat nie. As jy wakker word, sal dit jou weer opnuut wys hoe om reg te leef. Lesse oor die lewe is soos ’n lamp. ’n Goeie opvoeding is soos ’n lig wat jou wys hoe om reg te leef. Dissipline is die deur tot ’n beter en gelukkiger lewe. Al hierdie spreuke moet jou teen ’n gevaarlike vrou se verleiding beskerm, jou teen haar sappige en verleidelike woorde oppas. Moenie deur haar mooi lyf oorweldig word nie. En moenie dat haar mond en oë jou verlei nie. Vir ’n prostituut is kos- en huurgeld voldoende betaling. Vir die vrou van ’n ander man gaan jy egter met jou lewe betaal. Om by iemand te slaap met wie jy nie getroud is nie, is gevaarlik. Kan ’n mens ’n vlam teen jou druk sonder dat jou klere brand? Kan ’n mens oor gloeiende kole loop sonder dat jou voete verbrand? Wie ontoelaatbare seks met iemand anders se vrou het, speel met vuur. Iemand wat so iets doen, gaan in groot moeilikheid beland. As ’n dief steel om sy hongerkrampe te stil, dink hy hy het ’n goeie rede. Maar as hy gevang word, moet hy alles teruggee. Hy moet ook vir alle skade betaal. Geen man of vrou wat rondslaap, sal ook die skuld van hulle daad kan ontglip nie. Wie by iemand anders se vrou slaap, is baie dom. Hy vernietig homself en alles wat vir hom dierbaar is. Hy sal verneder word en groot skade ly. Niemand sal hom vergewe nie, veral nie die vrou se man nie. Haar man se jaloesie sal hom rasend maak. Hy sal wraak neem. Geen bedrag om die saak te skik of ’n groot geskenk sal hom tevrede stel nie.
SPREUKE 6:16-35 ABA (Bybel vir almal)
Daar is ses dinge waarvan die Here nie hou nie, daar is sewe dinge wat Hy haat. Dit is wanneer mense hoogmoedig is, wanneer hulle lieg, wanneer hulle mense vermoor, wanneer hulle slegte planne maak teen ander mense, wanneer hulle haastig is om verkeerd te doen, wanneer hulle getuies is wat lieg, en wanneer hulle die een broer met die ander broer laat twis. My kind, jy moet onthou wat jou pa vir jou sê, jy moenie vergeet wat jou ma vir jou leer nie. Jy moenie dit vergeet nie, jy moet dit elke dag onthou. Dan sal jy weet hoe jy moet lewe, jy sal elke dag en elke nag weet wat jy moet doen. Want die dinge wat jou pa vir jou sê, is soos 'n lamp, die dinge wat jou ma vir jou leer, is soos 'n lig. Iemand wat vir jou sê wat jy moet doen en wat vir jou leer, lei jou op die pad van die lewe. Hy beskerm jou teen die slegte vrou, teen die skelm woorde van die vrou wat nie jou vrou is nie. Jy moenie daardie vrou wil hê omdat sy mooi is nie, jy moenie dat sy jou vang met haar oë nie. Ja, jy kan 'n prostituut kry en jy kan haar betaal met 'n rondebroodjie, maar die vrou van 'n ander man is soos 'n jagter, jy kan die beste wat jy het, verloor, jy kan jou lewe verloor. As iemand kole vuur voor by sy klere ingooi, dan sal sy klere aan die brand raak, of wanneer hy op warm kole loop, dan sal sy voete brand. So sal dit gaan met iemand wat by 'n ander man se vrou slaap, die man wat aan haar raak, sal nie vry wegkom nie, haar man sal hom straf. Wanneer 'n dief steel, dan sal mense altyd dink hy doen verkeerd, ook wanneer hy steel omdat hy honger is. Wanneer mense uitvind dat hy gesteel het, dan sal hy sewe maal meer moet teruggee, hy sal alles moet gee wat daar in sy huis is. 'n Man wat egbreuk pleeg, is baie dom, hy is mal. Hy verwoes sy eie lewe wanneer hy dit doen. Hulle sal hom slaan en hulle sal hom verneder, die mense sal aanhou om hom te spot. Want wanneer daardie vrou se man kwaad is, dan is dit soos 'n vuur wat brand. Wanneer hy jou straf oor wat jy gedoen het, dan sal hy nie jammer wees vir jou nie. Hy sal nie geld van jou neem en jou los nie, hy sal nie jou geld neem nie, ook nie wanneer jy vir hom baie wil gee nie.
SPREUKE 6:16-35 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Daar is ses dinge waarin die HERE 'n weersin het, sewe is vir Hom afstootlik: hovaardige oë, 'n bedrieglike tong, hande wat onskuldige bloed vergiet, 'n hart wat bose planne smee, voete wat gou is om na die kwaad te hardloop, 'n vals getuie wat leuens uitryg, en iemand wat tweedrag saai tussen broers. My seun, hou by die gebod van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie. Bind dit voortdurend aan jou hart, bind dit om jou nek. Wanneer jy rondgaan, sal dit jou lei; wanneer jy slaap, sal dit oor jou wag hou; wanneer jy wakker word, sal dít jou besig hou. Want 'n gebod is 'n lamp, en onderrig is 'n lig. Die pad na die lewe is teregwysing deur vermaning, om jou te beskerm teen 'n slegte vrou, teen die gladde tong van 'n vreemde vrou. Moenie haar skoonheid in jou hart begeer nie, en moenie toelaat dat sy jou vang met haar wimpers nie. Ja, die prys vir 'n prostituut is soveel as die prys van 'n ronde brood, maar iemand anders se vrou – sy maak jag op 'n kosbare lewe. Kan 'n man vuur in die vou van sy kleed dra, maar sy klere raak nie aan die brand nie? As 'n man op gloeiende kole loop, sal sy voete dan nie verskroei nie? So gaan dit met hom wat by die vrou van sy medemens ingaan. Niemand wat haar aanraak, sal ongestraf bly nie. Verag mense nie 'n dief as hy steel nie, al is dit om sy eetlus te bevredig wanneer hy honger is? En word hy uitgevang, moet hy dit sewevoudig vergoed; al die besittings in sy huis moet hy dan oorhandig. Hy wat owerspel pleeg met 'n vrou, is sonder verstand; wie sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets. Slae en skande sal hy op die lyf loop, en sy bespotting sal nie uitgewis word nie. Want jaloesie wek 'n man se woede, en hy sal genadeloos wees op die dag van wraak. Hy sal nie geneë wees tot enige omkoopgeld nie, ook nie inwillig wanneer die afkoopsom verhoog word nie.
SPREUKE 6:16-35 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Hierdie ses dinge haat die HERE: ja, sewe is vir Hom 'n gruwel: 'n Trotse blik, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, 'n Hart wat goddelose verbeeldings bedink, voete wat vinnig is om na onheil te hardloop, 'n Valse getuie wat leuens praat, en hy wat tweedrag onder broers saai. My seun, onderhou die gebod van jou vader en versaak die wet van jou moeder nie. Bind hulle gedurigdeur op jou hart en bind hulle om jou nek. As jy gaan, sal dit jou lei; as jy slaap, sal dit jou bewaar; en as jy wakker word, sal dit met jou spreek. Want die gebod is 'n lamp; en die wet is lig; en teregwysings van onderrig is die lewenswyse: om jou te bewaar vir die slegte vrou, van die gevlei van die tong van 'n vreemde vrou. Begeer nie na haar skoonheid in jou hart nie; laat sy jou ook nie met haar ooglede vat nie. Want deur middel van 'n hoer vrou word 'n man na 'n stuk brood gebring, en die egbreekster sal die kosbare lewe jag. Kan 'n man vuur in sy boesem vat en sy klere nie verbrand word nie? Kan iemand op gloeiende kole gaan en sy voete nie verbrand nie? En hy wat by sy naaste se vrou ingaan; elkeen wat aan haar raak, sal nie onskuldig wees nie. Mense verag 'n dief nie as hy steel om sy siel te versadig as hy honger het nie; Maar as hy gevind word, moet hy sewevoudig teruggee; hy moet al die besittings van sy huis gee. Maar wie met 'n vrou owerspel pleeg, het 'n gebrek aan verstand; hy wat dit doen, vernietig sy eie siel. 'n Wond en oneer sal hy kry; en sy smaad sal nie uitgewis word nie. Want jaloersheid is die woede van 'n man; daarom sal hy nie spaar op die dag van wraak nie. Hy sal geen losprys ag nie; en hy sal nie tevrede wees nie, al gee jy baie gawes.