SPREUKE 6

6
Teen borgstaan. Sewe dinge wat God haat.
1MY seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir 'n vreemde jou handslag gegee het,
2verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond,
3doen dan dit, my seun, om jouself te red — want jy het in die hand van jou naaste geraak — gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste,
4 gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie;
5red jou soos 'n gemsbok uit die hand, en soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger.
6 Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!
7Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie,
8maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.
9Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?
10Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus!
11So kom dan jou armoede soos 'n rondloper en jou gebrek soos 'n gewapende man.
12'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop,
13wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee;
14in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.
15Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is.
16Hierdie ses dinge haat die Here, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:
17trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
18 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
19een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.
Waarskuwing teen 'n slegte vrou.
20 BEWAAR, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
21 bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;
22mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.
23Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe,
24om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong.
25 Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie;
26want vir 'n hoer verval 'n mens tot 'n stuk brood, en 'n ander se vrou maak jag op 'n kosbare lewe.
27Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?
28Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?
29So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie.
30'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het;
31en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.
32Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hý doen so iets;
33slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie;
34want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;
35hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.

Tans Gekies:

SPREUKE 6: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid