NUMERI 13:26-31
NUMERI 13:26-31 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het by Moses en Aäron en die hele volksvergadering van Israel by die stad Kades in die Paran-woestyn gekom. Die manne het vir hulle vertel wat hulle gesien het en het vir hulle gewys hoe lyk die vrugte in die land. Hulle het vir Moses gesê: “Ons het na die land gegaan waarnatoe jy ons gestuur het. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is, hier is van die vrugte van die land. Maar daar is 'n probleem: Die mense wat in die land woon, is sterk en hulle woon in groot stede wat sterk mure het. Ons het ook Enak-mense daar gesien. In die Suid-land woon Amalekiete, in die berge woon Hetiete, Jebusiete en Amoriete, langs die see en langs die Jordaan-rivier woon Kanaäniete.” Kaleb het vir die volk gesê hulle moenie kla en teen Moses praat nie. Kaleb het gesê: “Ons moet gaan, ons moet die land gaan vat, ons kan dit doen, dit is seker.” Maar die manne wat saam met Kaleb gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense oorlog maak nie, hulle is te sterk vir ons.”
NUMERI 13:26-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien. En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan. Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig. Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons.
NUMERI 13:26-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys. Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.” Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”
NUMERI 13:26-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het gegaan en by Moses, Aäron en die hele volksvergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Hulle het aan hulle en die hele volksvergadering verslag gedoen en aan hulle die land se vrugte gewys. Hulle het vir Moses vertel en gesê: “Ons het in die land aangekom waarheen u ons gestuur het. En verder, dit is 'n land wat oorloop van melk en heuning, en hier is van die land se vrugte. Die volk wat in die land woon, is egter baie sterk. Die stede is versterk en baie groot. Ons het ook afstammelinge van die Enakiete daar gesien. Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en •Amoriete woon in die bergwêreld, terwyl die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan woon.” Maar Kaleb het die mense by Moses stilgemaak. Hy het gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan sonder twyfel die oorhand daaroor kry.” Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: “Ons kan nie teen daardie volk uittrek nie, want hulle is sterker as ons.”
NUMERI 13:26-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het gegaan en by Moses en Aäron gekom en by die hele vergadering van die kinders van Israel, in die woestyn Paran, na Kades; en aan hulle en aan die hele vergadering berig gebring en aan hulle die vrugte van die land bekend gemaak. En hulle het hom meegedeel en gesê: Ons het in die land gekom waarheen U ons gestuur het, en dit loop sekerlik van melk en heuning; en dit is die vrug daarvan. Maar die volk wat in die land woon, word sterk, en die stede is ommuur en baie groot; en ons het ook die kinders van Enak daar gesien. Die Amalekiete woon in die land van die suide, en die Hetiete en die Jebusiete en die Amoriete woon op die berge, en die Kanaäniete woon by die see en by die kus van die Jordaan. En Kaleb het die volk voor Moses stilgemaak en gesê: Laat ons dadelik optrek en dit in besit neem; want ons is goed in staat om dit te oorwin. Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, sê: Ons kan nie teen die volk optrek nie; want hulle is sterker as ons.
NUMERI 13:26-31 Die Boodskap (DB)
Toe hulle in die kamp by Kades in die Paranwoestyn aankom, het hulle aan Moses en Aäron en die hele volk verslag gedoen. Hulle het ook vir almal die vrugte gewys wat hulle saamgebring het. Hulle het vir Moses gesê: “Ons het die land gaan deurkyk soos u beveel het. Dit is beslis ’n wonderlike land met baie potensiaal. Om ’n beeld te gebruik: daar is so baie melk en heuning, dit lyk of dit sommer in strome deur die land vloei. Hier is van die vrugte wat ons teruggebring het om te wys wat ons bedoel. Die enigste probleem is dat die mense wat daar bly, ongelooflik sterk is. Hulle stede is baie groot en is versterk met dik mure om hulle. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar raakgeloop. Aan die suidekant, in die Negev, bly die Amalekiete, in die middel in die bergagtige gebiede bly die Hetiete, Jebusiete en Amoriete, terwyl die Kanaäniete aan die westekant teen die Middellandse See en aan die oostekant teen die Jordaanrivier bly.” Kaleb het toe die mense wat hieroor begin kla het, stilgemaak en hulle probeer motiveer en gesê: “Kom ons val hulle dadelik aan, want ons kan hulle beslis oorrompel.” Maar die ander leiers wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Ons kan nie teen hulle gaan oorlog maak nie, hulle is baie sterker as ons!”
NUMERI 13:26-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het by Moses, Aäron en die Israeliete aangekom waar hulle by Kades in die Paranwoestyn staan. Hulle het aan die Israeliete verslag gedoen en vir hulle die vrugte gewys wat hulle saamgebring het. Die mans het aan Moses gerapporteer: “Ons het na die land gaan kyk waarheen jy ons gestuur het. Dit is ’n baie vrugbare land. Hier is van sy vrugte. Die mense wat in die land woon, is egter baie sterk. Hulle het groot stede met verdedigingsmure om. Ons het ook Enak se nageslag daar gesien. Die Amalekiete bly in die Negevwoestyn. Die Hetiete, Jebusiete en Amoriete bly in die heuwelgebied. Die Kanaäniete woon langs die Middellandse See en in die Jordaanvallei.” Kaleb het egter die volk probeer gerusstel. Hy het gesê: “Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat.” Die ander mans wat saam met hom gegaan het, het egter gesê: “Ons durf nie teen hulle optrek nie. Hulle is sterker as ons.”