Numeri 13

13
Die Israeliete stuur mense om te kyk hoe die land Kanaän lyk
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet mense stuur om te kyk hoe die land Kanaän lyk, die land wat Ek vir die Israeliete gee. Julle moet een persoon uit elke stam stuur, een van die stam se leiers.”
3Moses het toe mense uit die Paran-woestyn gestuur. Hulle was almal leiers van die Israeliete. 4Hier is hulle name:
Vir die Ruben-stam
het Sammua
seun van Sakkur gegaan,
5vir Simeon: Safat
seun van Gori,
6vir Juda: Kaleb
seun van Jefunne,
7vir Issaskar: Jigal
seun van Josef,
8vir Efraim: Hosea
seun van Nun,
9vir Benjamin: Palti
seun van Rafu,
10vir Sebulon: Gaddiël
seun van Sodi,
11vir Manasse
van die Josef-stam:
Gaddi seun van Susi,
12vir Dan: Ammiël
seun van Gemalli,
13vir Aser: Setur
seun van Mikael,
14vir Naftali: Nagbi
seun van Wofsi,
15vir Gad: Geüel
seun van Maki.
16Dit is die name van die mense wat Moses gestuur het om te gaan kyk hoe die land lyk. Moses het vir Hosea seun van Nun die naam Josua gegee. 17Toe Moses hulle gestuur het om te gaan kyk hoe die land lyk, het hy vir hulle gesê: “Julle moet van hier deur die Suid-land na die berge gaan. 18Julle moet kyk hoe die land is en of die mense wat in die land woon, sterk of swak is, of hulle min of baie is. 19Julle moet kyk of dit 'n goeie of 'n slegte land is waarin hulle woon, en of hulle woon in kampe of in stede wat sterk mure het. 20Julle moet kyk of die grond vrugbaar is of nie, en julle moet kyk of daar bome is of nie. Julle moenie bang wees nie, julle moet van die vrugte in die land saambring wanneer julle terugkom.”
Dit was die tyd wanneer die druiwe begin ryp word. 21Die manne het gegaan en hulle het gekyk hoe die land lyk, van die Sin-woestyn tot by die stad Regob naby die stad Lebo-Hamat. 22Toe hulle deur die Suid-land gaan en by die stad Hebron kom, het hulle die Enak-mense Agiman, Sesai en Talmai daar gekry. Mense het die stad Hebron gebou sewe jaar voordat hulle die stad Soan in Egipte gebou het. 23Toe die manne by 'n vallei kom waar daar druiwe is, het hulle 'n tak afgesny. Daar was 'n tros druiwe aan die tak, en twee van die manne het die druiwe vasgemaak aan 'n paal en hulle het dit op hulle skouers gedra. Hulle het ook granate en vye saamgebring. 24Hulle het daardie plek “Druiwe-vallei” genoem omdat die Israeliete die tros druiwe daar afgesny het.
Die manne kom sê wat hulle gesien het
25Die manne het ná 40 dae teruggekom nadat hulle na alles in die land gekyk het. 26Hulle het by Moses en Aäron en die hele volksvergadering van Israel by die stad Kades in die Paran-woestyn gekom. Die manne het vir hulle vertel wat hulle gesien het en het vir hulle gewys hoe lyk die vrugte in die land. 27Hulle het vir Moses gesê: “Ons het na die land gegaan waarnatoe jy ons gestuur het. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is, hier is van die vrugte van die land. 28Maar daar is 'n probleem: Die mense wat in die land woon, is sterk en hulle woon in groot stede wat sterk mure het. Ons het ook Enak-mense daar gesien. 29In die Suid-land woon Amalekiete, in die berge woon Hetiete, Jebusiete en Amoriete, langs die see en langs die Jordaan-rivier woon Kanaäniete.”
30Kaleb het vir die volk gesê hulle moenie kla en teen Moses praat nie. Kaleb het gesê: “Ons moet gaan, ons moet die land gaan vat, ons kan dit doen, dit is seker.”
31Maar die manne wat saam met Kaleb gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense oorlog maak nie, hulle is te sterk vir ons.”
32Die manne het toe vir die Israeliete verkeerde stories begin vertel oor die land waarna hulle gaan kyk het. Hulle het gesê: “Ons het deur die land gegaan om na alles te kyk. Dit is 'n land wat die mense sal laat sterf wat in hom woon. En al die mense wat ons daar gesien het, is baie groot. 33Ons het ook reuse daar gesien. Ons het soos sprinkane gevoel voor hulle, hulle het miskien gedink ons lyk so klein soos sprinkane.”
Die reuse is die voorvaders van die Enak-mense.

Tans Gekies:

Numeri 13: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid