Numeri 13

13
Verkenning van Kanaän
1 Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2 “Stuur vir jou manne uit sodat hulle die land Kanaän, wat Ek vir die Israeliete gaan gee, kan verken. Een man uit elk van die stamme van hulle voorouers, elkeen van hulle 'n leier, moet julle stuur.”
3 Moses het hulle op bevel van die Here uit die Paranwoestyn gestuur. Almal van hulle was manne wat leiers was onder die Israeliete.
4Dit was hulle name:
Vir die stam van Ruben
was dit Sammua, seun van Sakkur;
5vir die stam van Simeon
was dit Safat, seun van Gori;
6 vir die stam van Juda
was dit Kaleb, seun van Jefunne;
7vir die stam van Issaskar
was dit Jigal, seun van Josef;
8 vir die stam van Efraim
was dit Hosea, seun van Nun;
9vir die stam van Benjamin
was dit Palti, seun van Rafu;
10vir die stam van Sebulon
was dit Gaddiël, seun van Sodi;
11vir die stam van Josef, naamlik die stam van Manasse,
was dit Gaddi, seun van Susi;
12vir die stam van Dan
was dit Ammiël, seun van Gemalli;
13vir die stam van Aser
was dit Setur, seun van Migael;
14vir die stam van Naftali
was dit Nagbi, seun van Wofsi;
15vir die stam van Gad
was dit Geüel, seun van Magi.
16 Dit was die name van die manne wat Moses uitgestuur het om die land te verken. Moses het Hosea, seun van Nun, Josua genoem.
17 Moses het hulle uitgestuur om die land Kanaän te verken. Hy het vir hulle gesê: “Trek hier in die Negev op, en gaan dan op in die bergwêreld. 18Bekyk die land: Hoe is dit? En die volk wat daarin woon, is dit 'n sterk of swak volk, is hulle min of baie? 19En hoe is die land waarin hulle woon? Is dit goed of sleg? En hoe is die dorpe waarin die volk woon? Woon hulle in kampe of in versterkte stede? 20 En hoe is die grond? Is dit vrugbaar of skraal? Is daar bome of nie? Span julle in en bring van die land se vrugte saam.”
Dit was toe net die tyd van die vroeë druiwe.
21 Hulle het opgetrek en die land verken vanuit die Tsinwoestyn tot by Regob, by Lebo-Hamat. 22 Hulle het opgetrek deur die Negev en Hebron bereik, waar Agiman, Sesai en Talmai, die afstammelinge van die Enakiete was.
Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.
23 Toe hulle die Eskoldal bereik, sny hulle daar 'n rank met een druiwetros wat twee van hulle met 'n draaghout gedra het, af, en ook van die granate en vye. 24Daardie plek is toe Eskoldal genoem, oor die druiwetros wat die Israeliete daar afgesny het. 25 Hulle het aan die einde van veertig dae van hulle verkenningstog van die land teruggekeer.
26Hulle het gegaan en by Moses, Aäron en die hele volksvergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Hulle het aan hulle en die hele volksvergadering verslag gedoen en aan hulle die land se vrugte gewys. 27 Hulle het vir Moses vertel en gesê: “Ons het in die land aangekom waarheen u ons gestuur het. En verder, dit is 'n land wat oorloop van melk en heuning, en hier is van die land se vrugte. 28 Die volk wat in die land woon, is egter baie sterk. Die stede is versterk en baie groot. Ons het ook afstammelinge van die Enakiete daar gesien. 29 Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en •Amoriete woon in die bergwêreld, terwyl die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan woon.”
30 Maar Kaleb het die mense by Moses stilgemaak. Hy het gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan sonder twyfel die oorhand daaroor kry.” 31 Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: “Ons kan nie teen daardie volk uittrek nie, want hulle is sterker as ons.”
32 Hulle het toe onder die Israeliete 'n gerug versprei oor die land wat hulle verken het: “Die land waardeur ons getrek het om te verken, is 'n land wat sy inwoners vernietig. Al die mense wat ons daar gesien het, is groot manne. 33Daar het ons reuse gesien.”
Die Enakiete stam uit die reuse.
“Ons was in ons eie oë soos koringkrieke; ons was soos muggies in hulle oë.”

Tans Gekies:

Numeri 13: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid