Numeri 13

13
Spioene gaan verken die land Kanaän
1-2Die Here sê toe vir Moses: “Kies nou ’n leier uit elkeen van die twaalf stamme en stuur die twaalf om die land Kanaän ongemerk te gaan deurkyk, want dit is die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee om in te bly.” 3Moses het toe die volgende leiers daar uit die Paranwoestyn Kanaän toe gestuur:
4Sammua, die seun van Sakkur uit die stam van Ruben
5Safat, die seun van Gori uit die stam van Simeon
6Kaleb, die seun van Jefunne uit die stam van Juda
7Jigal, die seun van Josef uit die stam van Issaskar
8Hosea, die seun van Nun uit die stam van Efraim
9Salti, die seun van Rafu uit die stam van Benjamin
10Gaddiël, die seun van Sodi uit die stam van Sebulon
11Gaddi, die seun van Susi uit die stam van Manasse, ’n Josefstam
12Ammiël, die seun van Gemalli uit die stam van Dan
13Setur, die seun van Migael uit die stam van Aser
14Nagbi, die seun van Wofsi uit die stam van Naftali
15Geüel, die seun van Maki uit die stam van Gad
16Dit is die manne wat Moses gestuur het om die land te gaan deurkyk. Moses het Nun se seun Hosea se naam na Josua verander.
17Moses het vir hulle gesê: “Gaan noord hiervandaan, deur die Negevwoestyn en dan al met die berge van Kanaän langs. 18Vind uit watter soort gebied dit is en hoeveel mense daar bly. Kyk of hulle hulleself sal kan verdedig as ons hulle sou aanval. 19Vind ook uit of dit goeie grondgebied is of nie. Kyk ook hoeveel van hulle stede versterkte mure het. 20Verder moet julle kyk of die gebied vrugbaar is en of dit bome het. Maak seker dat julle ook van die vrugte van die land vir ons saambring.” Dit was juis tyd vir die vroeë druiwe om ryp te word toe Moses hulle die land in gestuur het.
21Hulle is toe daar weg en het die hele land deurgegaan van die Sinaiwoestyn in die suide af tot by Regob in die noorde, naby Hamat. 22Hulle is toe deur die Negev. Die eerste plek waar hulle aangekom het, was Hebron, ’n stad wat reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou is. Enak se afstammelinge, Agiman, Sesai en Tamai, het hier gebly. 23Daarna is hulle af na die Eskolvallei toe, waar hulle ’n tros druiwe afgesny het. Die tros was so groot dat twee van hulle dit moes dra terwyl dit aan ’n stok gehang het. Hulle het ook ’n klompie granate en vye saamgevat. 24Hulle het die plek Eskol, of “druiwetros”, genoem, omdat hulle so ’n groot tros druiwe daar afgesny het. 25Na 40 dae in Kanaän het hulle besluit om terug te gaan kamp toe.
Die verslag
26Toe hulle in die kamp by Kades in die Paranwoestyn aankom, het hulle aan Moses en Aäron en die hele volk verslag gedoen. Hulle het ook vir almal die vrugte gewys wat hulle saamgebring het. 27Hulle het vir Moses gesê: “Ons het die land gaan deurkyk soos u beveel het. Dit is beslis ’n wonderlike land met baie potensiaal. Om ’n beeld te gebruik: daar is so baie melk en heuning, dit lyk of dit sommer in strome deur die land vloei. Hier is van die vrugte wat ons teruggebring het om te wys wat ons bedoel. 28Die enigste probleem is dat die mense wat daar bly, ongelooflik sterk is. Hulle stede is baie groot en is versterk met dik mure om hulle. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar raakgeloop. 29Aan die suidekant, in die Negev, bly die Amalekiete, in die middel in die bergagtige gebiede bly die Hetiete, Jebusiete en Amoriete, terwyl die Kanaäniete aan die westekant teen die Middellandse See en aan die oostekant teen die Jordaanrivier bly.”
30Kaleb het toe die mense wat hieroor begin kla het, stilgemaak en hulle probeer motiveer en gesê: “Kom ons val hulle dadelik aan, want ons kan hulle beslis oorrompel.” 31Maar die ander leiers wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Ons kan nie teen hulle gaan oorlog maak nie, hulle is baie sterker as ons!” 32Hulle het ook allerhande bangmaakstories oor die land en sy mense onder die volk begin versprei. “Die land wat ons verken het, sluk sy inwoners in,” het hulle gesê, “om nie eers te praat van die mense wat daarin bly nie: hulle is almal reusagtig groot. 33Om die waarheid te sê, ons het ’n paar reuse daar gesien, almal afstammelinge van Enak. Ons het so klein soos sprinkane teen hulle gevoel en ons dink hulle het ons seker vir sprinkane aangesien.”

Tans Gekies:

Numeri 13: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid