MATTEUS 2:19-21 - Compare All Versions

MATTEUS 2:19-21 ABA (Bybel vir almal)

Later, toe koning Herodes gesterf het, was Josef nog in Egipte. 'n Engel van die Here het in 'n droom aan Josef verskyn. Die engel het vir Josef gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy ma en gaan terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie wou doodmaak, is nou dood.” Josef het toe gereedgemaak. Hy het die Kindjie en sy ma geneem en na Israel gegaan.

MATTEUS 2:19-21 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ná die dood van Herodes het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het. En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.

MATTEUS 2:19-21 AFR83 (Afrikaans 1983)

Na die dood van Herodes verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.” Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan.

MATTEUS 2:19-21 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Herodes het gesterf, en kyk, daar het in Egipte 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kind en sy moeder en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind om die lewe wou bring, is dood.” Hy het opgestaan en die Kindjie en sy moeder saamgeneem en in die land Israel aangekom.

MATTEUS 2:19-21 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar toe Herodes dood was, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte, en gesê: Staan op en neem die kindjie en sy moeder en gaan na die land van Israel, want hulle is dood wat die lewe van die kindjie gesoek het. En hy het opgestaan en die kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.

MATTEUS 2:19-21 DB (Die Boodskap)

Na Herodes se dood het die engel van die Here weer in ’n droom met Josef in Egipte gepraat. Hy het vir hom gesê: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak, is nou self ook dood.” Josef het gedoen wat die engel gesê het. Hy het saam met Jesus en sy ma teruggegaan na Israel toe.

MATTEUS 2:19-21 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Ná Herodes se dood verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê vir hom: “Staan op en neem die Kindjie en sy ma terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie om die lewe wou bring, is dood.” Josef het dadelik met die Kindjie en sy ma vertrek en hy het in die land Israel aangekom.