MATTEUS 14:15-21
MATTEUS 14:15-21 Bybel vir almal (ABA)
Toe dit begin donker word, kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die klomp mense weg sodat hulle na die dorpies kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Nee, hulle moenie weggaan nie, dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Jesus: “Ons het net vyf brode en twee visse.” Jesus het vir hulle gesê: “Bring dit hier vir My.” Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet, en hulle het twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daar was ook nog vroue en kinders.
MATTEUS 14:15-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe dit aand geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate, en dit is al oor die tyd; stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord Hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. En Hy sê: Bring dit hier vir My. Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit; en Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare. En almal het geëet en versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol. En dit was omtrent vyfduisend manne wat geëet het, buiten die vroue en kinders.
MATTEUS 14:15-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.” Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” “Bring dit vir My hier,” sê Hy. Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.
MATTEUS 14:15-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe dit laat begin word, kom die dissipels na Hom en sê: “Die plek is verlate, en dit is reeds laat. Stuur die skare weg na die dorpies om vir hulleself kos te gaan koop. ” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” Hy sê egter: “Bring dit hier vir My.” Nadat Hy die skare aangesê het om op die gras te gaan sit, het Hy die vyf brode en twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe gebreek, vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, twaalf mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar ongeveer vyfduisend mans wat geëet het.
MATTEUS 14:15-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe dit aand geword het, het sy dissipels na Hom gekom en gesê: Dit is 'n verlate plek, en die tyd is nou verby; stuur die skare weg, dat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel kan koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee vir hulle om te eet. En hulle sê vir hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. Hy sê: Bring hulle hier na my toe. En Hy het die skare bevel gegee om op die gras te gaan sit, en Hy het die vyf brode en die twee visse geneem en na die hemel opgekyk, geseën en gebreek en die brode aan sy dissipels gegee en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword, en van die brokstukke wat oorgebly het, het hulle twaalf mandjies vol opgetel. En die wat geëet het, was omtrent vyf duisend man, buiten vroue en kinders.
MATTEUS 14:15-21 Die Boodskap (DB)
Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.” “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer. Jesus sê toe: “Bring dit hier.” Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was.
MATTEUS 14:15-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Teen laatmiddag kom sy dissipels vir Jesus sê: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg dat hulle in die dorpies kan gaan kos koop.” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dis onnodig – gee julle vir hulle kos.” “Onmoontlik!” het hulle uitgeroep. “Al wat ons hier het, is vyf brode en twee visse.” “Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê. Hy gee toe opdrag dat die mense op die gras moet gaan sit. Daarna neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog twaalf mandjies vol opgetel! Omtrent 5 000 mans het van hierdie kos geëet – afgesien van al die vroue en kinders.