Matteus 14

14
Dood van Johannes die Doper
(Mark 6:14-29; Luk 9:7-9; 3:19-20)
1In daardie tyd het Herodes, die tetrarg, die berigte omtrent Jesus gehoor. 2Hy het vir sy dienaars gesê: “Hierdie man is Johannes die Doper; hy is opgewek uit die dood, en daarom werk hierdie kragte in hom.” 3 Herodes het Johannes immers gevange laat neem, hom laat boei en in die tronk laat sit, en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus. 4Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou hê nie.” 5Hoewel Herodes hom wou doodmaak, was hy vir die skare bang, omdat hulle Johannes as 'n profeet beskou het.
6Tydens Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor almal gedans, en sy het Herodes bekoor. 7Daarom het hy met 'n eed beloof om wat sy ook al vra, aan haar te gee. 8Aangehits deur haar moeder, het sy gesê: “Bring vir my hier, op 'n skinkbord, die kop van Johannes die Doper.” 9En hoewel die koning hieroor ontsteld was, het hy, vanweë sy eed en hulle wat aangeleun het vir ete, beveel dat dit vir haar gebring moes word. 10Hy het toe iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. 11Sy kop is in 'n skottel gebring en vir die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder geneem. 12Sy dissipels het gekom, die liggaam geneem en hom begrawe; daarna het hulle dit vir Jesus gaan vertel.
Eerste vermeerdering van brood
(Mark 6:30-44; Luk 9:10-17; Joh 6:1-14)
13Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op sy eie te wees. Maar die skare het dit te hore gekom en Hom te voet uit die dorpe gevolg. 14Toe Hy uitklim, het Hy die groot skare gesien, hulle innig jammer gekry en hulle siekes gesond gemaak. 15Toe dit laat begin word, kom die dissipels na Hom en sê: “Die plek is verlate, en dit is reeds laat. Stuur die skare weg na die dorpies om vir hulleself kos te gaan koop. ” 16Maar Jesus het hulle geantwoord: “Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets te ete.” 17 Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” 18Hy sê egter: “Bring dit hier vir My.” 19 Nadat Hy die skare aangesê het om op die gras te gaan sit, het Hy die vyf brode en twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe gebreek, vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. 20 Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, twaalf mandjies vol opgetel. 21Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar ongeveer vyfduisend mans wat geëet het.
Jesus loop op die water
(Mark 6:45-52; Joh 6:16-21)
22En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en solank voor Hom uit na die oorkant te vaar, terwyl Hy die skare wegstuur. 23Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy teen die berg opgegaan om in afsondering te bid. Toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. 24Die boot was reeds 'n hele aantal stadion weg van die land af, en is deur die golwe heen en weer geslinger, want die wind was teen hulle. 25In die vierde nagwaak het Hy na hulle toe aangeloop gekom op die see. 26Toe die dissipels Hom op die see sien loop, het hulle vreesbevange geraak en gesê, “Dit is 'n spook!” en van angs begin skreeu. 27Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” 28•Petrus het Hom geantwoord: “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.” 29Hy het gesê: “Kom!” Petrus het van die boot afgeklim en op die water geloop, en na Jesus begin gaan. 30Maar toe hy sien hoe sterk die wind was, het hy bang geword. Toe hy begin sink, skreeu hy: “Here, red my!” 31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” 32Toe hulle in die boot klim, het die wind gaan lê. 33Dié in die boot het voor Hom neergeval en gesê: “Waarlik, U is die •Seun van God!”
Genesing van mense in Gennesaret
(Mark 6:53-56; Joh 6:22-25)
34Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle aan wal gegaan by Gennesaret. 35Toe die manne van daardie plek Hom herken, het hulle daardie hele omgewing laat weet, en hulle het almal wat siek was, na Hom gebring 36en Hom gesmeek dat die siekes selfs net die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat dit aangeraak het, is genees.

Tans Gekies:

Matteus 14: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid