JOHANNES 4:47-53 - Compare All Versions

JOHANNES 4:47-53 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.” En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat.” Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom.

JOHANNES 4:47-53 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Toe hy hoor dat Jesus uit Judéa in Galiléa gekom het, gaan hy na Hom en vra Hom om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus sê toe vir hom: As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie. Die koninklike beampte sê vir Hom: Here, kom af voordat my kind sterwe. Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe! En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan. En toe hy al op pad was huis toe, kom sy diensknegte hom tegemoet en bring die berig en sê: U kind lewe! Hy verneem toe van hulle die uur waarop hy beter geword het. En hulle sê vir hom: Gister, die sewende uur, het die koors hom verlaat. Die vader merk toe dat dit daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: Jou seun lewe! En hy het self geglo en sy hele huis.

JOHANNES 4:47-53 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe hy hoor dat Jesus uit Judea in Galilea aangekom het, het hy vinnig na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om te kom en die seun te genees, want hy was reeds sterwend. Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle ook nooit tot geloof kom nie.” Die koninklike amptenaar sê toe vir Hom: “Meneer, kom asseblief voordat my seuntjie sterf.” Maar Jesus sê vir hom: “Gaan terug, jou seun lewe.” Die man het Jesus op sy woord geneem en dadelik vertrek. Sommer nog terwyl hy op pad was, het die slawe hom tegemoetgegaan en gesê dat sy seun leef. Hy vra hulle toe uit na die uur waarop sy seun begin beter word het. En hulle antwoord hom: “Gister, teen eenuur die middag, het die koors hom verlaat.” Die pa het toe besef dat dit die presiese uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Hy en sy hele huishouding het toe begin glo.

JOHANNES 4:47-53 DB (Die Boodskap)

Die nuus het by hom uitgekom dat Jesus terug is uit Judea. Hy is dadelik na Jesus toe en het Hom gevra om asseblief saam met hom huis toe te kom. Sy seun was besig om dood te gaan en hy wou hê Jesus moet hom gesond maak. Jesus sê toe: “As dit nie vir al die wonderlike dinge was wat Ek gedoen het nie, sou julle ook maar nie geglo het nie.” Die man hou toe egter vol: “Here, kom tog asseblief gou voordat my kind doodgaan.” Jesus sê toe: “Gaan maar huis toe. Jou seun lewe.” Die man het Jesus vertrou en is terug huis toe. Hy was nog op pad toe sy werkers al met die goeie nuus aankom: “U seun leef!” Hy vra hulle toe uit oor presies wanneer sy seun beter begin word het. “Omtrent so eenuur gistermiddag het sy koors begin breek,” sê hulle. Toe hy mooi terugdink, besef die pa dat dit juis die tyd was toe hy en Jesus gesels het. Jesus het toe mos al vir hom gesê dat sy seun lewe. Hy, saam met almal wat in sy huis bly, het toe in Jesus geglo.

JOHANNES 4:47-53 ABA (Bybel vir almal)

Die amptenaar het gehoor dat Jesus van die provinsie Judea na Galilea gekom het. Hy het na Jesus toe gegaan. Hy het vir Jesus gevra om na Kapernaum te kom en sy seun gesond te maak, want sy seun was baie siek, hy was amper dood. Jesus het vir hom gesê: “Julle wil altyd wondertekens en wonderwerke sien. As julle dit nie sien nie, dan wil julle nie glo nie!” Die amptenaar van die koning sê toe vir Jesus: “Here, kom asseblief gou voor my seuntjie sterf!” Jesus het vir hom gesê: “Jy mag huis toe gaan. Jou seun sal nie sterf nie.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het en hy het huis toe gegaan. Terwyl hy huis toe gaan, het sy slawe by hom gekom. Hulle het vir hom gesê sy kind is gesond. Die man het vir sy slawe gevra wanneer die kind beter geword het, en hulle het gesê: “Gistermiddag eenuur, toe het hy nie meer koors gehad nie.” Die pa het toe besef dit was dieselfde tyd toe Jesus vir hom gesê het: “Jou seun sal nie sterf nie.” Hy en almal in sy huis het toe in Jesus geglo.

JOHANNES 4:47-53 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe hy hoor dat Jesus van Judea af na Galilea gekom het, het hy na Hom gegaan en gesmeek dat Hy moet afkom en sy seun gesond maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.” Die koninklike amptenaar sê vir Hom: “Meneer, kom tog, voordat my kindjie sterf.” Jesus sê vir hom: “Gaan, jou seun leef.” Die man het Jesus se woorde geglo en gegaan. En terwyl hy nog op pad was, het sy dienaars hom tegemoet gekom en vertel dat sy kind leef. Hy het toe by hulle navraag gedoen oor wanneer hy beter begin word het. Hulle sê toe vir hom: “Gister, teen die sewende uur, het die koors hom verlaat.” Die vader het toe besef dat dit op daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun leef.” En hy en sy hele huishouding het tot geloof gekom.

JOHANNES 4:47-53 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe hy hoor dat Jesus uit Judéa na Galilea gekom het, het hy na hom gegaan en hom gesmeek om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy was op die punt om te sterf. Toe sê Jesus vir hom: As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nie glo nie. Die edelman sê vir hom: Meneer, kom af voordat my kind sterwe. Jesus sê vir hom: Gaan heen; jou seun leef. En die man het die woord geglo wat Jesus met hom gespreek het, en hy het weggegaan. En terwyl hy nou afgaan, het sy dienaars hom tegemoet gekom en hom meegedeel en gesê: Jou seun leef. Toe het hy by hulle navraag gedoen oor die uur wanneer hy begin regmaak het. En hulle sê vir hom: Gister op die sewende uur het die koors hom verlaat. Die vader het toe geweet dat dit op dieselfde uur was waarop Jesus vir hom gesê het: Jou seun leef, en hy het geglo, en sy hele huis.