JOHANNES 4
NLV
4
Jesus in gesprek met ’n
Samaritaanse vrou
1 Jesus het uitgevind dat die Fariseërs gehoor het dat Hy meer dissipels werf en doop as Johannes. 2(Jesus het nie eintlik self gedoop nie, maar sy dissipels.) 3Dus het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe vertrek.
4Hy moes deur Samaria reis. 5Hy kom toe in ’n dorp in Samaria wat Sigar genoem word. Dit was naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die put van Jakob was daar geleë. Jesus het toe, omdat Hy regtig uitgeput was van die reis, sommer by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.
7’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.” 8Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop.
9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?” Jode wou immers niks met Samaritane te doen hê nie. 10Jesus het daarop reageer: “As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”
11Die vrou sê vir Jesus: “Meneer, jy het nie eers ’n skepding nie, en die put is diép. Van waar kry jy dié lewende water? 12Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie.”
13Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. 14Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.”
15Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.”
16Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.”
17Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.”
Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ 18Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.”
19Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is. 20Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ’n mens moet aanbid, is in Jerusalem.”
21Jesus merk toe op: “Glo My, Vrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Júlle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode. 23Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”
25Die vrou sê vir Jesus: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.”
26Toe sê Jesus vir haar: “Ék is hy – Ek wat nou met jou praat!”
27Op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ’n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: “Wat wil jy nou eintlik hê?” of vir Hom: “Waarom knoop U ’n gesprek met haar aan?” nie. 28Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk self – ’n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie dalk die Messias nie?” 30Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom.
31Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: “Rabbi, eet tog net iets.” 32Maar Hy het reageer: “Ék het kos om te eet waarvan júlle nie eers weet nie.”
33Die dissipels sê toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?”
34Jesus antwoord hulle: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak. 35Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. 36Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly. 37In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’ 38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.”
Baie Samaritane glo in Jesus
39Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly. 41Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo. 42Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie net meer op grond van wat jy gesê het nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.”
Jesus maak die seun van ’n
koninklike amptenaar gesond
43Na twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe vertrek. 44Hy het self plegtig verklaar dat ’n profeet nie in sy eie vaderland geëer word nie. 45Toe Jesus in Galilea aankom, het die Galileërs Hom hartlik ontvang. Hulle het al die dinge gesien wat Hy gedurende die fees in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die fees.
46Jesus het toe weer ’n keer in Kana, in Galilea, aangekom waar Hy vroeër die water in wyn verander het. In Kapernaum was daar ’n sekere koninklike amptenaar wie se seun ernstig siek was. 47Toe hy hoor dat Jesus uit Judea in Galilea aangekom het, het hy vinnig na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om te kom en die seun te genees, want hy was reeds sterwend.
48Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle ook nooit tot geloof kom nie.”
49Die koninklike amptenaar sê toe vir Hom: “Meneer, kom asseblief voordat my seuntjie sterf.”
50Maar Jesus sê vir hom: “Gaan terug, jou seun lewe.” Die man het Jesus op sy woord geneem en dadelik vertrek.
51Sommer nog terwyl hy op pad was, het die slawe hom tegemoetgegaan en gesê dat sy seun leef. 52Hy vra hulle toe uit na die uur waarop sy seun begin beter word het. En hulle antwoord hom: “Gister, teen eenuur die middag, het die koors hom verlaat.” 53Die pa het toe besef dat dit die presiese uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Hy en sy hele huishouding het toe begin glo. 54Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy uit Judea in Galilea aangekom het.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Vind meer uit oorNuwe Lewende Vertaling