Johannes 4

4
Jesus en die Samaritaanse vrou
1Toe Jesus verneem dat die •Fariseërs gehoor het Hy werf en doop meer dissipels as Johannes – 2hoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels – 3het Hy Judea verlaat en weer na Galilea vertrek. 4 Hy moes egter deur Samaria gaan.
5 Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Dit is waar die fontein van Jakob was. Uitgeput van die reis, het Jesus net daar by die fontein gaan sit. Dit was ongeveer die sesde uur.
7Daar kom toe 'n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar: “Gee vir My water om te drink.” 8Sy dissipels was reeds weg dorp toe om kos te koop. 9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?” Jode meng immers nie met Samaritane nie. 10Jesus het haar geantwoord: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het. ” 11Die vrou sê vir Hom: “Meneer, u het nie eers 'n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water? 12U is tog nie belangriker as ons vader Jakob nie, hy wat die put aan ons gegee het, en self daaruit gedrink het, en ook sy seuns en sy vee?” 13Jesus het haar geantwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, 14maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom 'n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe. ” 15Die vrou sê vir Hom: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie dors word en hierheen hoef te kom om te skep nie.”
16Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” 17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” Jesus sê vir haar: “Jy sê tereg, ‘'n Man het ek nie,’ 18want jy het vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” 19Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. 20Ons voorvaders het op hierdie berg aanbid, maar julle sê, ‘Jerusalem is die plek waar aanbid moet word.’ ” 21 Jesus sê vir haar: “Vrou, glo My, daar kom 'n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid. 22Julle aanbid dit wat julle nie verstaan nie; ons aanbid dit wat ons verstaan, want die verlossing kom uit die Jode. 23Daar kom egter 'n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. 24God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. ” 25Die vrou sê vir Hom: “Ek weet die Messias kom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak. ” 26Jesus sê vir haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.”
Samaritane se geloof
27Juis op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom, en hulle was verbaas, omdat Hy besig was om met 'n vrou te praat. Tog het niemand gevra: “Wat wil U van haar hê?” of “Waarom praat U met haar?” nie. 28Die vrou het toe haar waterkruik daar gelos, na die dorp gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Hierdie man is tog nie die Christus nie, of hoe? ” 30Hulle het uit die dorp gegaan en was op pad na Hom toe. 31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: “Rabbi, eet iets.” 32Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” 33Die dissipels vra toe onder mekaar: “Iemand het tog nie vir Hom iets te ete gebring nie?” 34En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle dan nie, ‘Dit is nog vier maande, dan kom die oes’ nie? Waarlik, Ek sê vir julle, kyk op en aanskou die lande; hulle staan reeds wit vir die oes. 36 Hy wat oes, ontvang sy loon en samel die oes in vir die ewige lewe, sodat die een wat saai en die een wat oes, saam bly kan wees. 37 Want in hierdie opsig is die gesegde waar, ‘Die een saai, en die ander maai.’ 38Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waarvoor julle nie geswoeg het nie. Ander het geswoeg en julle het voordeel getrek uit hulle harde arbeid.”
39Baie van die Samaritane uit daardie dorp het in Hom geglo op grond van die woord van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly, en Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het op grond van sy woorde tot geloof gekom 42en vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het Hom self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is. ”
Genesing van die amptenaar se seun
(Matt 8:5-13; Luk 7:1-10)
43Ná die twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea vertrek. 44 Hy het immers self getuig dat 'n profeet nie in sy eie vaderland eer ontvang nie. 45Toe Hy in Galilea aankom, het die Galileërs Hom ontvang, omdat hulle alles gesien het wat Hy gedurende die feesviering in Jerusalem gedoen het. Hulle het immers self ook die fees bygewoon.
46Hy het toe weer vertrek na Kana in Galilea, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar 'n sekere koninklike amptenaar wie se seun siek was. 47Toe hy hoor dat Jesus van Judea af na Galilea gekom het, het hy na Hom gegaan en gesmeek dat Hy moet afkom en sy seun gesond maak, want hy het op sterwe gelê. 48Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.” 49Die koninklike amptenaar sê vir Hom: “Meneer, kom tog, voordat my kindjie sterf.” 50Jesus sê vir hom: “Gaan, jou seun leef.” Die man het Jesus se woorde geglo en gegaan. 51En terwyl hy nog op pad was, het sy dienaars hom tegemoet gekom en vertel dat sy kind leef. 52Hy het toe by hulle navraag gedoen oor wanneer hy beter begin word het. Hulle sê toe vir hom: “Gister, teen die sewende uur, het die koors hom verlaat.” 53Die vader het toe besef dat dit op daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun leef.” En hy en sy hele huishouding het tot geloof gekom. 54 Dit was die tweede teken wat Jesus gedoen het ná sy vertrek van Judea na Galilea.

Tans Gekies:

Johannes 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid