JOHANNES 4

4
Die Samaritaanse vrou.
1TOE die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes —
2alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels —
3het Hy Judéa verlaat en weer na Galiléa gegaan.
4En Hy moes deur Samaría gaan.
5Hy kom toe by 'n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het.
6En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.
7Daar kom 'n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink —
8want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop.
9En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat 'n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek 'n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.
10Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
11Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?
12U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?
13Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;
14maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.
15Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.
16Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier.
17Die vrou antwoord en sê: Ek het nie 'n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie 'n man nie;
18want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê.
19Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U 'n profeet is.
20Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is.
21Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom 'n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.
22Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.
23Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
24God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
25Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig.
26Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!
27En op dié oomblik het sy dissipels gekom en hulle verwonder dat Hy met 'n vrou in gesprek was. Tog het niemand gesê: Wat verlang U nie? of: Waarom spreek U met haar?
28Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê:
29Kom kyk 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?
30Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom.
Die oes en die arbeiders.
31EN intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: Rabbi, eet.
32Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie.
33Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring?
34Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.
35Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.
36En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.
37Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en 'n ander wat maai.
38Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan.
39En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.
40Toe die Samaritane dan by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly; en Hy het daar twee dae gebly.
41En baie meer het op grond van sy woord geglo
42en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.
Genesing van die seun van die koninklike beampte.
43EN ná die twee dae het Hy daarvandaan weggegaan en na Galiléa vertrek.
44Want Jesus self het getuig dat 'n profeet in sy eie vaderland geen eer ontvang nie.
45Toe Hy dan in Galiléa kom, het die Galiléërs Hom ontvang, omdat hulle alles gesien het wat Hy in Jerusalem op die fees gedoen het; want hulle het ook na die fees gegaan.
46Jesus het dan weer gekom te Kana in Galiléa, waar Hy die water wyn gemaak het. En daar was 'n sekere koninklike beampte wie se seun in Kapérnaüm siek was.
47Toe hy hoor dat Jesus uit Judéa in Galiléa gekom het, gaan hy na Hom en vra Hom om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.
48Jesus sê toe vir hom: As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.
49Die koninklike beampte sê vir Hom: Here, kom af voordat my kind sterwe.
50Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe! En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan.
51En toe hy al op pad was huis toe, kom sy diensknegte hom tegemoet en bring die berig en sê: U kind lewe!
52Hy verneem toe van hulle die uur waarop hy beter geword het. En hulle sê vir hom: Gister, die sewende uur, het die koors hom verlaat.
53Die vader merk toe dat dit daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: Jou seun lewe! En hy het self geglo en sy hele huis.
54 Hierdie tweede teken weer het Jesus gedoen toe Hy uit Judéa in Galiléa gekom het.

Tans Gekies:

JOHANNES 4: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid