JOHANNES 4:34-42
JOHANNES 4:34-42 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “My kos is om te doen wat God wil hê Ek moet doen. God het My na die wêreld gestuur. Ek moet alles klaar doen wat Hy gesê het. Wanneer julle na die koringlande kyk, dan sê julle: ‘Oor vier maande sal die koring ryp wees, dan kan ons die koring afsny.’ Maar Ek sê vir julle: Kyk na die mense wat daar aankom, hulle is soos koring wat klaar ryp is. Die man wat die koring afsny, kry nou al klaar sy beloning, want hy maak 'n oes bymekaar vir die ewige lewe. Dan sal die man wat saai en die man wat die koring afsny, saam bly wees. Dit is waar wat die mense altyd sê: ‘Een man saai die koring en 'n ander man kom sny dit af.’ Ek het julle gestuur om koring te gaan afsny, maar julle het dit nie gesaai nie. Ander mense het gesaai, maar julle maak die koring bymekaar.” Baie van die Samaritane in daardie stad het in Jesus geglo omdat die vrou vir hulle gesê het Jesus het vir haar alles vertel wat sy gedoen het. Toe die Samaritane by Jesus kom, het hulle vir Hom gevra om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. Nog baie meer Samaritane het in Jesus geglo toe hulle gehoor het wat Hy alles sê. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons het eers geglo omdat jy vir ons vertel het van Jesus. Maar nou het ons self na Hom geluister. Nou weet ons Hy is die Redder van die wêreld.”
JOHANNES 4:34-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring. Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en 'n ander wat maai. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan. En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het. Toe die Samaritane dan by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly; en Hy het daar twee dae gebly. En baie meer het op grond van sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.
JOHANNES 4:34-42 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.” Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”
JOHANNES 4:34-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle dan nie, ‘Dit is nog vier maande, dan kom die oes’ nie? Waarlik, Ek sê vir julle, kyk op en aanskou die lande; hulle staan reeds wit vir die oes. Hy wat oes, ontvang sy loon en samel die oes in vir die ewige lewe, sodat die een wat saai en die een wat oes, saam bly kan wees. Want in hierdie opsig is die gesegde waar, ‘Die een saai, en die ander maai.’ Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waarvoor julle nie geswoeg het nie. Ander het geswoeg en julle het voordeel getrek uit hulle harde arbeid.” Baie van die Samaritane uit daardie dorp het in Hom geglo op grond van die woord van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly, en Hy het twee dae daar gebly. Nog baie meer van hulle het op grond van sy woorde tot geloof gekom en vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het Hom self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is. ”
JOHANNES 4:34-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jesus sê vir hulle: My spys is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle nie: Daar is nog vier maande, en dan kom die oes? kyk, Ek sê vir julle: Slaan julle oë op en kyk na die veld; want hulle is reeds wit om te oes. En hy wat maai, ontvang loon en samel vrugte in vir die ewige lewe, sodat hy wat saai en hy wat maai saam bly kan wees. En hierin is die woord waar: Die een saai en die ander maai. Ek het julle gestuur om te oes waar julle geen arbeid aan gedoen het nie; ander mense het gearbei, en julle het in hulle arbeid ingegaan. En baie van die Samaritane van daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek ooit gedoen het. Toe die Samaritane dan by hom kom, het hulle hom gesmeek om by hulle te bly; en hy het daar twee dae gebly. En baie meer het geglo vanweë sy eie woord; En sê vir die vrou: Nou glo ons, nie op grond van jou woord nie, want ons het Hom self gehoor en weet dat Hy waarlik die Christus is, die Verlosser van die wêreld.
JOHANNES 4:34-42 Die Boodskap (DB)
Jesus help hulle toe reg: “Weet julle wat is vir My soos kos? Dít: om presies te doen wat God wat My gestuur het, wil hê Ek moet doen. Alles wat Hy wil hê Ek moet doen, wil Ek klaarmaak. Wanneer Ek dit doen, voel Ek ‘versadig’, net soos iemand wat lekker geëet het. “Julle sê mos partykeer: ‘Oor vier maande kan ons begin oes.’ Ek het vir julle nuus. Maak julle geestelike oë oop en kyk om julle. Kyk mooi na die ‘lande’. ‘Oestyd’ is hier. Kyk net hoe ryp staan die ‘oes’. Die oes word nou reeds volstoom ingesamel. Mense wat ‘oes’, kry al hulle ‘lone’. Dit gaan natuurlik nie om ’n gewone oes nie, maar om die ‘oes van mense’. Omdat hulle deel van die ‘oes’ is, sal hulle vir altyd saam met God leef. Julle ken mos die gesegde: ‘Die een saai en die ander een maai.’ Dit is ook hier waar. Julle weet wat julle in die wêreld vir My moet doen: julle moet gaan om hierdie ‘oes’ in te samel, al het julle nie self daaraan gewerk nie. Ander mense het hard daaraan gewerk. Julle moet egter die goeie resultate van wat hulle gedoen het, gaan insamel.” Baie Samaritane uit daardie dorp het in Jesus geglo. Die vrou het mos aan hulle vertel dat Jesus alles van haar geweet het. Dit het hulle oortuig. Die Samaritane is toe na Jesus toe. Hulle het by Hom aangehou om by hulle te kom oorbly. Jesus het toe twee dae daar by hulle gebly. In die twee dae het Jesus verder met hulle gesels. Die gevolg was dat baie meer van hulle sy vriende geword het. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nou nie meer net omdat jy ons van Hom kom vertel het nie. Ons het die kans gehad om self na Hom te luister. “Ons twyfel nie meer nie: hierdie man is waarlik die Redder wat sou kom. Hy bring nie net vir ons of die Jode redding nie, maar vir al die mense in die wêreld.”
JOHANNES 4:34-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus antwoord hulle: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak. Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly. In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’ Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.” Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly. Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie net meer op grond van wat jy gesê het nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.”