JEREMIA 28:2-4 - Compare All Versions

JEREMIA 28:2-4 AFR83 (Afrikaans 1983)

“So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek sal die juk wat die koning van Babel julle oplê, verbreek. Oor twee jaar sal Ek al die voorwerpe uit my tempel, wat koning Nebukadnesar van Babel uit hierdie plek uit na Babel toe gevat het, hierheen laat terugbring. Ek sal ook vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, en al die ballinge van Juda wat deur Nebukadnesar na Babel toe gevat is, na hierdie plek toe terugbring, sê die Here, want Ek sal die juk wat Babel se koning julle oplê, verbreek.”

JEREMIA 28:2-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Ek het die juk van die koning van Babel verbreek. In nog twee jaar bring Ek in hierdie plek terug al die voorwerpe van die huis van die HERE wat Nebukadnésar, die koning van Babel, uit hierdie plek weggeneem en na Babel gebring het. Ook Jegónja, die seun van Jójakim, die koning van Juda, en al die ballinge van Juda wat na Babel gegaan het, bring Ek in hierdie plek terug, spreek die HERE; want Ek sal die juk van die koning van Babel verbreek.

JEREMIA 28:2-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek verbreek die juk van die koning van Babel. Koning Nebukadnesar het ’n klomp voorwerpe uit die tempel na Babel toe weggedra. Oor twee jaar sal Ek dit weer na die tempel toe terugbring. Ek sal ook vir Jojagin, die seun van Jojakim, hiernatoe terugbring. Ek sal ook al die ballinge van Juda wat hulle na Babel weggevoer het, terugbring. Ek sal die juk van die koning van Babel stukkend breek, sê die HERE.”

JEREMIA 28:2-4 DB (Die Boodskap)

Hy het gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Ek sal die mag van die koning van Babel wat soos ’n juk op julle nek was, breek. Koning Nebukadnesar het ’n klomp kosbare bakke uit die tempel na Babel toe weggedra. Oor twee jaar sal Ek dit na die tempel toe terugbring. Ek sal ook vir Jojagin, wat die seun van Jojakim is, hiernatoe terugbring. Maar Ek sal ook die ander mense wat saam met hom na Babel ontvoer is, terugbring. Julle kan seker wees, Ek sal die mag wat die koning van Babel oor julle het, verbreek.” Dit is wat die Here sê Hy gaan doen.

JEREMIA 28:2-4 ABA (Bybel vir almal)

“Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Ek sal die juk van die koning van Babel breek. Voordat twee jaar verby is, sal Ek al die tempel-gereedskap terugbring wat koning Nebukadnesar weggevat het na Babel, Ek sal dit terugbring na hierdie plek. En Ek sal ook vir Jojagin seun van Jojakim, koning van Juda, en almal wat uit Juda na Babel moes gaan, terugbring na hierdie plek. Ja, Ek sal die juk van die koning van Babel breek. Dit het die Here gesê.”

JEREMIA 28:2-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Ek het die juk van die koning van Babilonië gebreek. Nog net twee jaar, dan gaan Ek al die voorwerpe van die huis van die HERE wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit hierdie plek gevat en na Babel geneem het, na hierdie plek terugbring. Jegonja, seun van Jojakim, koning van Juda en al die ballinge van Juda wat na Babel gegaan het, gaan Ek na hierdie plek terugbring,’ is die uitspraak van die HERE, ‘want Ek sal die juk van die koning van Babilonië breek.’ ”

JEREMIA 28:2-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel, en sê: Ek het die juk van die koning van Babel verbreek. Binne twee volle jare sal Ek al die voorwerpe van die huis van die HERE wat Nebukadnésar, die koning van Babel, van hierdie plek af weggeneem en na Babel gebring het, na hierdie plek terugbring. En Ek sal Jekonja, die seun van Jójakim, die koning van Juda, na hierdie plek terugbring, met al die ballinge van Juda wat na Babel gegaan het, spreek die HERE; want Ek sal die juk van die koning van Babel verbreek.