Jeremia 28

28
Jeremia teen Gananja
1In dieselfde jaar, aan die begin van Sedekia, koning van Juda, se regering, in die vyfde maand van die vierde jaar, het Gananja, seun van Assur, die profeet uit Gibeon, vir my in die huis van die Here, in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk, gesê: 2“So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Ek het die juk van die koning van Babilonië gebreek. 3Nog net twee jaar, dan gaan Ek al die voorwerpe van die huis van die Here wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit hierdie plek gevat en na Babel geneem het, na hierdie plek terugbring. 4Jegonja, seun van Jojakim, koning van Juda en al die ballinge van Juda wat na Babel gegaan het, gaan Ek na hierdie plek terugbring,’ is die uitspraak van die Here, ‘want Ek sal die juk van die koning van Babilonië breek.’ ”
5Toe sê die profeet Jeremia vir die profeet Gananja in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk wat in die huis van die Here staan, 6ja, die profeet Jeremia sê toe: “Amen, mag die Here dit so doen! Mag die Here jou woorde wat jy geprofeteer het, vervul deur die voorwerpe van die huis van die Here en al die ballinge uit Babel terug te bring na hierdie plek. 7Maar hoor tog hierdie woord wat ek direk vir jou en ten aanhore van die hele volk sê: 8Die profete wat voor my en jou daar was in die ou tyd, het teen baie lande en teen groot koninkryke geprofeteer oor oorlog en rampe en pessiektes. 9 Die profeet wat vrede profeteer, sal, as die woord van die profeet uitkom, bekend wees as 'n profeet wat werklik deur die Here gestuur is.”
10 Die profeet Gananja het toe die skeie van die profeet Jeremia se nek afgehaal en dit gebreek. 11Gananja sê toe in die teenwoordigheid van die hele volk: “So sê die Here, ‘Net so sal Ek binne twee jaar die juk van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, breek, van die nekke van al die nasies af.’ ” Die profeet Jeremia het daarna sy koers gegaan.
12Maar die woord van die Here het tot Jeremia gekom nadat die profeet Gananja die skeie gebreek het van die nek van die profeet Jeremia af: 13“Gaan sê vir Gananja, ‘So sê die Here: “Skeie van hout het jy gebreek, maar in die plek daarvan het jy skeie van yster gemaak.” 14 Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “'n Ysterjuk lê Ek op die nekke van al hierdie nasies om Nebukadnesar, die koning van Babilonië, te dien, en hulle sal hom dien. Selfs die wilde diere gee Ek aan hom.” ’ ”
15 Die profeet Jeremia het toe vir die profeet Gananja gesê: “Luister tog, Gananja! Die Here het jou nie gestuur nie, maar jy laat hierdie volk op leuens vertrou. 16 Daarom, so sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan jou van die aardbodem af wegwerp. Jy gaan vanjaar nog sterf, omdat jy valshede oor die Here verkondig het.’ ”
17Die profeet Gananja het in daardie jaar, in die sewende maand, gesterf.

Tans Gekies:

Jeremia 28: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid