JEREMIA 28

28
Stryd van Jeremia teen die valse profeet Hanánja.
1EN in dié jaar, in die begin van die regering van Sedekía, die koning van Juda, in die vierde jaar, in die vyfde maand, het Hanánja, die seun van Assur, die profeet, wat uit Gíbeon afkomstig was, met my gespreek in die huis van die Here in teenwoordigheid van die priesters en van die hele volk en gesê:
2So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Ek het die juk van die koning van Babel verbreek.
3In nog twee jaar bring Ek in hierdie plek terug al die voorwerpe van die huis van die Here wat Nebukadnésar, die koning van Babel, uit hierdie plek weggeneem en na Babel gebring het.
4Ook Jegónja, die seun van Jójakim, die koning van Juda, en al die ballinge van Juda wat na Babel gegaan het, bring Ek in hierdie plek terug, spreek die Here; want Ek sal die juk van die koning van Babel verbreek.
5Toe het die profeet Jeremia aan die profeet Hanánja gesê in teenwoordigheid van die priesters en van die hele volk wat in die huis van die Here gestaan het,
6en die profeet Jeremia het gesê: Amen, laat die Here so doen! Laat die Here vervul jou woorde wat jy geprofeteer het, deur die voorwerpe van die huis van die Here en al die ballinge uit Babel na hierdie plek terug te bring!
7Maar luister tog na hierdie woord wat ek spreek voor jou ore en voor die ore van die hele volk:
8Die profete wat daar voor my en voor jou gewees het, van ouds af, het geprofeteer teen magtige lande en teen groot koninkryke van oorlog en onheil en pes.
9 Die profeet wat profeteer van vrede — as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die Here waarlik gestuur het.
10Daarop het die profeet Hanánja die juk van die nek van die profeet Jeremia afgeneem en dit verbreek.
11En Hanánja het gespreek in teenwoordigheid van die hele volk en gesê: So spreek die Here: So sal Ek verbreek die juk van Nebukadnésar, die koning van Babel, in nog twee jaar, van die nek van al die nasies. En die profeet Jeremia het weggegaan.
12Maar die woord van die Here het tot Jeremia gekom, nadat die profeet Hanánja die juk van die nek van die profeet Jeremia afgeneem en verbreek het, en gesê:
13Gaan spreek met Hanánja en sê: So spreek die Here: Houtjukke het jy verbreek, maar jy moet in die plek daarvan ysterjukke maak.
14Want so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Ek het 'n ysterjuk gelê op die nek van al hierdie nasies om Nebukadnésar, die koning van Babel, te dien, en hulle sal hom dien; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee.
15En die profeet Jeremia het aan die profeet Hanánja gesê: Luister tog, Hanánja! Die Here het jou nie gestuur nie, maar jý het hierdie volk op leuens laat vertrou.
16Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek werp jou van die aarde af weg; hierdie jaar sal jy sterwe, omdat jy afval van die Here verkondig het.
17En die profeet Hanánja het in dié jaar, in die sewende maand, gesterwe.

Tans Gekies:

JEREMIA 28: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid