JEREMIA 17:7-10 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

JEREMIA 17:7-10 AFR83 (Afrikaans 1983)

Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here 'n veilige vesting is; so iemand is soos 'n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; 'n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie. Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen.

JEREMIA 17:7-10 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie. Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.

JEREMIA 17:7-10 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Maar gelukkig is dié mense wat op die HERE vertrou en hulle verwagting in Hom stel. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie, en hulle blare bly groen. Lang maande van droogte pla hulle ook nie. Hulle hou nie op om vrugte te dra nie. “Die mens se hart is deur en deur bedrieglik en boos. Wie weet regtig hoe sleg dit is? “Maar Ek weet! Ek, die HERE, deursoek mense se harte en geheime motiewe. En Ek gee aan almal wat hulle toekom, volgens wat hulle gedoen het.”

JEREMIA 17:7-10 DB (Die Boodskap)

Maar dit sal goed gaan met mense wat My vir alles vertrou. Dit gee hulle moed vir die toekoms. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels gaan ver af tot by die water. Sulke bome kry nie swaar as dit baie warm word nie. Hulle blare bly groen. Lang maande waarin dit baie droog is, is ook nie regtig ’n probleem nie. Hulle hou steeds aan vrugte dra. “Daar is niks wat jou so kan kul as die mens se hart nie. Niemand weet wat binne ’n mens aangaan nie. Niemand kan ook iets daaraan doen om ’n mens se hart te verander nie. Maar Ek is die Here, Ek weet! Ek ondersoek ’n mens se hart en gedagtes. Ek weet wat elkeen se motiewe is. Ek kyk na wat elkeen gedoen het en dan betaal Ek hulle wat hulle behoort te kry.

JEREMIA 17:7-10 ABA (Bybel vir almal)

Die Here sal die man seën wat glo dat die Here hom sal help en hom sal beskerm. So iemand sal wees soos 'n boom wat naby die water staan. Sy wortels kom tot by die waterstroom, en hy voel nie wanneer dit warm word nie. Sy blare is altyd groen, en wanneer dit nie reën nie, dan is hy nie bekommerd nie, hy hou aan om vrugte te dra. Mense bedrieg hulleself en ander mense, hulle kan nie ophou om dit te doen nie, hulle verstaan hulleself nie. Maar Ek, die Here, sien wat mense dink en wat hulle wil doen, en Ek straf hulle oor wat hulle doen.

JEREMIA 17:7-10 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, wie se vertroue die HERE is. Hy sal wees soos 'n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In 'n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.” Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan? “Ek, die HERE, deursoek harte en toets niere, om elkeen te vergeld volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade.”

JEREMIA 17:7-10 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Geseënd is die man wat op die HERE vertrou en wie se hoop die HERE is. Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels by die rivier uitsprei, en hy sal nie sien as daar hitte kom nie, maar sy blaar sal groen wees; en sal nie ophou in die jaar van droogte nie, en nie ophou om vrugte te dra nie. Bedrieglik is die hart bo alles, en verdorwe is die hart; wie kan dit weet? Ek, die HERE, deursoek die hart, Ek toets die niere, om aan elkeen te gee volgens sy weë en volgens die vrug van sy handelinge.