Jeremia 17

17
Juda se volgehoue sonde
1“Die sonde van Juda is opgeteken
met 'n ysterpen,
met 'n diamantpunt;
dit is ingegraveer op die tafels
van hulle harte
en op die horings van hulle altare.
2 Net soos hulle aan hulle kinders dink,
dink hulle aan hulle altare en asjeras
by skaduryke bome op die hoë heuwels.
3My berg in die oop veld,
jou rykdom, al jou skatte,
sal Ek as buit gee –
jou offerhoogtes in ruil vir die sonde
in jou hele grondgebied.
4Jy sal deur jou eie toedoen
moet afstand doen van jou erfenis
wat Ek vir jou gegee het.
Ek sal jou die slaaf
van jou vyande maak
in 'n land wat jy nie ken nie;
want 'n vuur is aangesteek
in my toorn –
vir altyd sal dit brand.”
5So sê die Here:
“Vervloek is die man
wat op mense vertrou,
wat in mense sy krag vind,
maar sy hart draai van die Here weg.
6Hy sal wees soos 'n jenewerstruik
in die Araba;
hy sal dit nie opmerk
wanneer die goeie kom nie.
Hy sal tuis wees op dor plekke
in die woestyn,
op brak grond waar niemand woon nie.
7Geseënd is die man
wat op die Here vertrou,
wie se vertroue die Here is.
8Hy sal wees soos 'n boom
wat geplant is langs water,
wat sy wortels uitstoot na die voor.
Hy merk nie eers op
dat die hitte kom nie;
sy blare bly groen.
In 'n jaar van droogte
raak hy nie angstig nie,
en hy hou nie op om vrugte te dra nie.”
9Die hart is bedriegliker as alles;
dit is ongeneeslik.
Wie kan die hart verstaan?
10 “Ek, die Here, deursoek harte
en toets niere,
om elkeen te vergeld
volgens sy optrede,
volgens die vrug van sy dade.”
11'n Patrys wat eiers uitbroei
wat sy nie gelê het nie,
so is iemand wat rykdom verwerf,
maar nie met eerlikheid nie.
Teen die helfte van sy dae verlaat dit hom;
en aan sy einde sal hy 'n dwaas wees.
12'n Roemryke troon,
verhewe van die begin af,
is die plek van ons heiligdom.
13 Here, die hoop van Israel,
almal wat U verlaat,
sal beskaamd staan.
“Ja, wie van My af wegdraai,
sal in grond geskryf word,
omdat hulle die fontein
van lewende water,
die Here, verlaat het.”
14Maak my gesond, Here,
en ek sal gesond wees.
Verlos my,
en ek sal verlos wees,
want U is my lof.
15Kyk, hulle vra telkens vir my:
“Waar bly die woord van die Here?
Dit moet tog gebeur!”
16Ek, daarenteen,
het nie by U daarop aangedring
om nie 'n herder vir U te wees nie;
die noodlottige dag begeer ek nie.
U weet self wat oor my lippe gekom het;
dit was in u teenwoordigheid.
17Moenie vir my 'n verskrikking word nie!
U is my skuilplek op die dag van onheil.
18Laat hulle wat my vervolg,
beskaamd staan;
maar moenie dat ek die een is
wat beskaamd staan nie!
Laat hulle dié wees
wat vreesbevange is;
maar moenie dat ek die een is
wat vreesbevange is nie!
Bring oor hulle die dag van onheil,
en verpletter hulle met 'n dubbele slag!
Heiliging van die Sabbat
19So het die Here vir my gesê: “Gaan staan by die Volkspoort, waar die konings van Juda ingaan en uitgaan, en ook by al die poorte van Jerusalem, 20en sê vir hulle, ‘Hoor die woord van die Here, konings van Juda, die hele Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte ingaan: 21 “So sê die Here, ‘Wees uit vrees vir julle lewens versigtig! Moenie vrag dra op die Sabbatdag en dit deur die poorte van Jerusalem inbring nie. 22 Moenie 'n vrag uit julle huise dra op die Sabbatdag nie, en moenie enige werk doen nie. Hou die Sabbatdag heilig, soos Ek julle voorouers beveel het. 23Hulle het nie geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle was hardnekkig deur nie te luister en nie vermaning te aanvaar nie. 24As julle goed na My luister,’ is die uitspraak van die Here, ‘deur nie 'n vrag deur die poorte van hierdie stad te dra op die Sabbatdag nie, en deur die Sabbatdag heilig te hou en nie enige werk op dié dag te doen nie, 25sal konings en bevelvoerders wat troonopvolgers van Dawid is, deur die poorte van hierdie stad ingaan – hulle wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle bevelvoerders, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem – en hierdie stad sal altyd bewoon word. 26Hulle sal uit die dorpe van Juda kom, uit die gebiede rondom Jerusalem, uit die landstreek Benjamin, uit die Sjefela, die bergland en die Negev, terwyl hulle •brandoffers, •maaltydoffers, •graanoffers en wierook bring, terwyl hulle dank betuig in die huis van die Here. 27Maar as julle nie na My luister om die Sabbatdag heilig te hou nie, deur vrag te dra en by die poorte van Jerusalem in te gaan op die Sabbatdag, sal Ek 'n vuur aansteek in haar poorte wat die vestings van Jerusalem sal verteer en wat nie geblus sal word nie.’ ” ’ ”

Tans Gekies:

Jeremia 17: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid