JAKOBUS 4:8-11
JAKOBUS 4:8-11 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet nader kom na God toe, dan sal Hy nader kom na julle toe. Julle is mense wat sonde doen, julle moet ophou om verkeerde dinge te doen. Julle is vals en julle doen nie wat julle sê nie, julle moet ophou om verkeerde dinge te dink. Julle moet besef dat dit baie sleg gaan met julle, julle moet huil en treur. Julle is nou vrolik, maar julle moet hartseer word. Julle is nou bly, maar julle moet ophou om bly te wees, en julle moet weet dat julle nie goed genoeg is nie. Julle moet vir die Here wys dat julle nie dink julle is belangrik nie. Dan sal Hy julle belangrik maak. My vriende, julle moenie slegte dinge sê van mekaar nie. Wanneer iemand slegte dinge sê van sy vriend of wanneer hy sê sy vriend doen verkeerd en God moet hom straf, dan sê hy slegte dinge van God se wette en hy sê dat die wette verkeerd is. En as jy sê dat die wette verkeerd is, dan doen jy nie wat die wette sê nie, maar dan is jy die regter wat die wette oordeel.
JAKOBUS 4:8-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog. Broeders, moenie van mekaar kwaad spreek nie. Dié wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie 'n dader van die wet nie, maar 'n regter.
JAKOBUS 4:8-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog. Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaadpraat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie, maar speel jy regter daaroor.
JAKOBUS 4:8-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog. Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie 'n doener van die wet nie, maar 'n regter.
JAKOBUS 4:8-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nader tot God, en Hy sal tot jou nader. Reinig julle hande, sondaars; en reinig julle harte, julle dubbelhartige. Wees verdruk en treur en ween; laat julle lag in rou verander word en julle blydskap in beswaardheid. Verneder julle voor die oë van die Here, en Hy sal julle verhef. Moenie kwaad van mekaar praat nie, broers. Hy wat kwaad spreek van sy broer en sy broer oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; maar as jy die wet oordeel, is jy nie 'n dader van die wet nie, maar 'n regter.
JAKOBUS 4:8-11 Die Boodskap (DB)
Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. In plaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan. Liewe broers en susters, moenie lelik praat van mekaar nie. Iemand wat oor sy mede-Christen skinder of sê hy is sleg, maak eintlik God se wil sleg en praat teen die wet van God. As jy sê God se wil is sleg, doen jy mos nie wat God wil hê nie. Dan hou jy jou belangriker as sy wet.
JAKOBUS 4:8-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom. Was julle hande van die sonde wat daaraan kleef, julle sondaars, maak julle harte skoon, julle tweegesigte wat nie kan besluit aan wie julle getrou wil wees nie. Trane moet wys julle is jammer oor die verkeerde goed wat julle aangevang het! Treur en huil! Julle gelag moet in droefheid verander, en julle blydskap in bedruktheid! Val voor die Here neer en wys dat julle van Hom afhanklik is, en Hy sal julle optel en aan julle aansien gee. Moenie lelike goed van mekaar sê nie, broers en susters. As julle lelike dinge van ’n medegelowige sê of ’n medegelowige kritiseer, dan kritiseer julle die wet. En as julle die wet kritiseer, is julle nie daders van die wet nie, maar regters.