Jakobus 4

4
Onmin binne die gemeenskap
1 Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? 2Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. 3Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. 4Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al 'n vriend van die wêreld wil wees, maak homself 'n vyand van God. 5Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het? 6Maar Hy gee groter genade – daarom sê Hy:
“God staan die hoogmoediges teen,
maar aan die nederiges gee Hy genade.”
7Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. 8Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! 9Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. 10 Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog.
Respek vir mekaar
11Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie 'n doener van die wet nie, maar 'n regter. 12Daar is net een Wetgewer en Regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel?
Afhanklikheid van God
13Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan, en 'n jaar daar deurbring, en handel dryf en wins maak.” 14Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie. Hoe is julle lewe dan? Dit is maar 'n miswolkie, wat net vir 'n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” 16Maar nou spog julle oor julle hoogmoedige optrede. Sulke gespog is verkeerd. 17 As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde.

Tans Gekies:

Jakobus 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid