GENESIS 33:1-5
GENESIS 33:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Jakob het gekyk en hy het vir Esau gesien wat na hom toe aankom. Daar was 400 manne by Esau. Jakob het toe die kinders verdeel tussen Lea en Ragel en die twee slavinne. Hy het die slavinne en hulle kinders voor laat loop. Agter hulle het Lea en haar kinders geloop, en Ragel en Josef was laaste. Jakob het voor hulle geloop en hy het sewe maal laag gebuig, tot hy by sy broer gekom het. Esau het na hom toe gehardloop en hy het vir Jakob omhels. Hy het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil. Toe Esau kyk, sien hy die vroue en die kinders en hy vra: “Wie is hierdie mense by jou?” Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God vir my gegee het. God was baie goed vir my.”
GENESIS 33:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Jakob het sy oë opgeslaan, en toe hy meteens Esau sien aankom en vierhonderd man saam met hom, het hy die kinders onder Lea en Ragel en onder die twee slavinne verdeel. En hy het die slavinne met hulle kinders eerste, en Lea met haar kinders daaragter, en Ragel en Josef laaste opgestel; maar hy self het voor hulle uit gegaan en hom sewe maal na die aarde gebuig, totdat hy by sy broer gekom het. Toe loop Esau hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en soen hom; en hulle het geween. Daarna het hy sy oë opgeslaan en die vroue en kinders gesien en gesê: Wie het jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat God uit genade aan u dienaar geskenk het.
GENESIS 33:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jakob deur die spruit was, het hy vir Esau in die verte sien aankom met vier honderd man by hom. Jakob het die kinders onder Lea en Ragel en die twee persoonlike slavinne verdeel en die slavinne met hulle kinders op die voorpunt gesit. Lea met haar kinders was agter hulle en Ragel en Josef heel agter. Hy self het verbygegaan tot heel voor en toe hy nader na sy broer toe kom, het hy sewe keer diep gebuig. Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil. Esau het opgekyk en die vrouens en kinders gesien en toe sê hy: “Wie is al hierdie mense by jou?” Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het.”
GENESIS 33:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jakob opkyk, sien hy: Daar kom Esau aan met vierhonderd man by hom! Hy het die kinders onder Lea en Ragel en die twee slavinne verdeel. Hy het die slavinne en hulle kinders eerste geplaas, Lea en haar kinders agter hulle, en Ragel en Josef laaste. Hy self het voor hulle uit gegaan en sewe keer diep neergebuig teen die grond, totdat hy naby sy broer gekom het. Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Hy het hom om die nek geval en hom gesoen. Hulle het gehuil. Toe Esau rondkyk en die vroue en kinders sien, vra hy: “Wie is hierdie mense by jou?” Hy het geantwoord: “Dit is die kinders wat God uit genade vir u dienaar gegee het.”
GENESIS 33:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe slaan Jakob sy oë op en kyk, en kyk, Esau het gekom en saam met hom vier honderd man. En hy het die kinders onder Lea en Ragel en die twee slavinne verdeel. En hy het die slavinne en hulle kinders voorop gestel, en Lea en haar kinders agterna, en Ragel en Josef agterop. En hy het voor hulle verbygegaan en sewe maal na die grond gebuig totdat hy naby sy broer gekom het. En Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels en om sy nek geval en hom gesoen, en hulle het geween. En hy het sy oë opgeslaan en die vroue en die kinders gesien; en gesê: Wie is dié by jou? En hy sê: Die kinders wat God U kneg genadiglik gegee het.
GENESIS 33:1-5 Die Boodskap (DB)
Jakob het opgekyk en Esau met 400 man in die verte sien aankom. Jakob was bang en het vinnig die kinders en hulle ma’s bymekaargemaak. Hy het hulle in vier groepe opgestel. Vooraan was Silpa en Bilha met hulle kinders. Toe Lea en haar seuns. Heel agter was Ragel en Josef. Jakob het reg voor gaan staan. Stadig maar seker het hulle begin loop. Hy het telkens sewe keer grond toe gebuig totdat hy naby Esau was. Esau het skielik begin hardloop, reguit op Jakob af. Toe hy by hom kom, het hy Jakob omhels. Hy het hom vasgehou, sy kop in sy nek gesit en hom begin soen. Albei broers het gehuil. Esau het die vroue en die kinders gesien en gevra: “En al dié mense? Wie is hulle?” Jakob het na die kinders gewys en gesê: “God het hulle vir my gegee.”
GENESIS 33:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jakob opkyk, sien hy vir Esau en sy 400 man aankom. Jakob verdeel toe die kinders tussen Lea, Ragel en die twee slavinvroue. Hy plaas sy twee slavinvroue met hulle kinders heel voor, Lea en haar kinders agter hulle en heel laaste Ragel en Josef. Jakob self het heel voor gaan staan en sewe keer laag voor Esau gebuig. Maar Esau het aangehardloop gekom, hom om die nek geval en hom gesoen. Albei was in trane. Esau kyk toe na die vroue en kinders en vra: “Wie is hierdie mense saam met jou?” “Dit is die kinders wat God in sy goedheid aan u dienaar gegee het,” antwoord Jakob.