GENESIS 33

33
Jakob en Esau ontmoet mekaar
1Toe Jakob deur die spruit was, het hy vir Esau in die verte sien aankom met vier honderd man by hom. Jakob het die kinders onder Lea en Ragel en die twee persoonlike slavinne verdeel 2en die slavinne met hulle kinders op die voorpunt gesit. Lea met haar kinders was agter hulle en Ragel en Josef heel agter. 3Hy self het verbygegaan tot heel voor en toe hy nader na sy broer toe kom, het hy sewe keer diep gebuig. 4Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil. 5Esau het opgekyk en die vrouens en kinders gesien en toe sê hy: “Wie is al hierdie mense by jou?”
Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het.”
6Die persoonlike slavinne het met hulle kinders nader gekom en gebuig 7en toe het ook Lea met haar kinders nader gekom en gebuig. Josef en Ragel was heel agter en ook hulle het nader gekom en gebuig.
8Toe vra Esau: “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” en Jakob antwoord: “Dit is om u vriendskap te wen.”
9Maar Esau sê vir hom: “Broer, ek besit self baie. Wat joune is, moet joune bly.”
10Toe sê Jakob: “Nee, as u my goedgesind is, moet u my geskenk aanvaar. Ek het na u toe gekom om u goedgesindheid te wen net soos wanneer 'n mens in die teenwoordigheid van God verskyn. En u het my vriendelik ontvang. 11Aanvaar tog my geskenk wat vir u gebring is, want God was goed vir my en ek het oorgenoeg.”
Jakob het by Esau daarop aangedring, en toe aanvaar hy die geskenk. 12Hy het vir Jakob gesê: “Breek kamp op dat ons verder kan trek. Ek sal vooruit trek om jou te beskerm.”
13Maar Jakob het hom geantwoord: “U sien tog self die ou kindertjies is maar klein en die lammertjies en die kalwers by my is nog swak. As 'n mens hulle net een dag te hard aandryf, is die hele klomp dood. 14Trek u maar vooruit voor my en dan kom ek op my gemak agterna. Ek sal volgens die pas van die vee en van die kinders na u toe kom in Seïr.”
15Toe sê Esau: “Dan los ek 'n paar van my manne by jou,” maar Jakob vra: “Waarom wil u dit doen? U is my tog goedgesind?”
16Esau is daardie dag nog terug op sy pad Seïr toe.
17Jakob het gaan tent opslaan by Sukkot en daar het hy vir hom 'n huis gebou. Hy het ook takkrale vir sy vee gemaak, en daarom word die plek Sukkot genoem.
Jakob koop grond naby Sigem
18Nadat Jakob uit Paddan-Aram weg is, het hy veilig by Sigem in Kanaän aangekom. Hy het net buite die stad kamp opgeslaan. 19Toe koop hy die stuk grond waar sy tent staan, vir honderd geldstukke by die seuns van Gamor, die pa van Sigem. 20Jakob het daar 'n altaar gebou en dit genoem: Die God van Israel is God.

Tans Gekies:

GENESIS 33: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid