Genesis 33

33
Jakob en Esau se herontmoeting
1 Toe Jakob opkyk, sien hy: Daar kom Esau aan met vierhonderd man by hom! Hy het die kinders onder Lea en Ragel en die twee slavinne verdeel. 2Hy het die slavinne en hulle kinders eerste geplaas, Lea en haar kinders agter hulle, en Ragel en Josef laaste. 3 Hy self het voor hulle uit gegaan en sewe keer diep neergebuig teen die grond, totdat hy naby sy broer gekom het. 4 Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Hy het hom om die nek geval en hom gesoen. Hulle het gehuil.
5 Toe Esau rondkyk en die vroue en kinders sien, vra hy: “Wie is hierdie mense by jou?” Hy het geantwoord: “Dit is die kinders wat God uit genade vir u dienaar gegee het.” 6Die slavinne, hulle en hulle kinders, het nader gekom en diep gebuig. 7Ook Lea en haar kinders het nader gekom en diep gebuig. Daarna het Josef en Ragel nader gekom en diep gebuig.
8 Esau vra toe: “Wat is jou bedoeling met hierdie hele leërskare wat ek teëgekom het?” Jakob het geantwoord: “Dit is om guns te vind in die oë van my heer.” 9Daarop sê Esau: “Ek het baie, my broer; wat joune is, moet joune bly.” 10Jakob het egter gesê: “Nee, asseblief! As ek guns gevind het in u oë, neem dan my geskenk uit my hand. Juis daarom kon ek u gesig sien, net soos 'n mens God se gesig sien – en u het my aanvaar. 11 Aanvaar dan asseblief my geskenk wat vir u gebring is, want God was my genadig, en ek het alles.” Hy het by hom aangedring, en hy het dit toe aanvaar.
12Esau het gesê: “Kom ons breek kamp op en gaan verder. Ek sal voor jou trek.” 13Maar hy het vir hom gesê: “My heer weet dat die kinders swak is, en dat daar by my klein- en grootvee in melk is. As hulle net een dag hard gedryf word, is al die kleinvee dood. 14My heer kan gerus voor sy dienaar uit trek. Ek sal self rustig verder trek teen die pas van die diere voor my, en teen die pas van die kinders, totdat ek by my heer in Seïr aankom.” 15 Esau sê toe: “Laat ek dan van die manskappe wat by my is, by jou agterlaat.” Hy het egter gesê: “Waarom juis dit? Mag ek maar net guns vind in die oë van my heer.”
16Esau het daardie dag omgedraai, op sy pad na Seïr toe. 17 Maar Jakob het na Sukkot getrek. Hy het vir hom 'n huis gebou en vir sy vee takkrale gemaak. Daarom het hy die plek Sukkot genoem.
Jakob in Sigem
18So het Jakob, toe hy uit Paddan-Aram gekom het, ongedeerd aangekom by Sigem se dorp, wat in die land Kanaän is. Hy het aan die oostekant van die dorp kamp opgeslaan. 19 Die stuk veld waar hy sy tente opgeslaan het, het Jakob van die seuns van Gamor, Sigem se vader, gekoop vir 'n honderd kesita. 20Jakob het daar 'n altaar opgerig en dit genoem El-Elohe-Jisrael.

Tans Gekies:

Genesis 33: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid