EKSODUS 12:1-28

EKSODUS 12:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl hulle nog in Egipte was, het die HERE vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand sal van nou af die belangrikste maand wees. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin. Julle moet vir al die Israeliete die opdrag gee dat elke gesin op die tiende van hierdie maand vir hulle ’n lam in die hande moet kry. As daar te min mense in ’n gesin is om ’n lam alleen op te eet, moet hulle dit deel met ’n ander gesin in die omgewing. Dit moet in verhouding verdeel word volgens die getal en behoefte van elke gesin. Dit moet ’n rammetjie wees uit die skape of die bokke wat ’n jaar oud is en waarmee daar niks verkeerd is nie. Sorg vir die rammetjie tot op die veertiende van die maand. Elke gesin in Israel moet teen skemertyd sy rammetjie slag. Hulle moet van die rammetjie se bloed vat en daarvan smeer aan die bokant en sykante van die kosyn van die huis se voordeur waarin hulle dit gaan eet. Die vleis word oor die vuur gebraai. Dit moet nog daardie selfde aand saam met brood wat sonder suurdeeg gemaak is en met kruie geëet word. Die vleis mag nie meer rou wees nie. Dit mag ook nie gekook word nie. Die hele lam moet gebraai word met kop, pote en alles. Daar mag ook niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Wat daarvan oorbly, moet voor die volgende oggend verbrand word. “Wanneer julle dit eet, moet julle aangetrek wees om op reis te gaan. Julle moet skoene aanhê en julle kieries moet al in julle hande wees. Eet die kos vinnig. Dit is die HERE se Paasfees. Ek sal daardie nag deur Egipte trek en in die land al die oudste seuns en die diere wat eerste gebore is, doodmaak. Ek sal die gode van Egipte straf. Ek is die HERE! Die bloed wat julle aan julle kosyne gesmeer het, sal vir My ’n teken wees dat julle daar bly. As Ek dit sien, sal Ek daardie huis oorslaan. Die ramp wat Ek oor Egipte laat kom, sal julle nie tref nie. “Hierdie dag moet altyd gevier word as ’n dag van herinnering. Dit is ’n spesiale feesdag van die HERE wanneer julle nageslag moet onthou wat Hy gedoen het. Julle moet sewe dae lank brood eet wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Op die eerste dag al moet julle alle suurdeeg uit julle huise wegvat. Enigeen wat gedurende hierdie sewe dae brood eet waarin daar suurdeeg is, moet uit die samelewing weggejaag word. Op die eerste en weer op die sewende dag moet julle bymekaarkom vir die HERE. Op daardie dae mag niks anders gedoen word nie, behalwe om kos te maak. “Die Fees van die Ongesuurde Brood moet by julle ’n vaste instelling wees. Julle moet altyd in herinnering roep dat dit op daardie dag was dat Ek julle stamme uit Egipte laat wegkom het. Hierdie dag moet altyd onthou word. Van die aand van die veertiende dag van die maand af tot op die aand van die 21ste van die maand, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Vir sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie. Enigiemand wat gedurende hierdie tyd iets eet met suurdeeg in sal uit die gemeenskap van Israel weggejaag word. Dit geld vir sowel gaste wat by julle oorbly as gebore Israeliete. Julle mag gedurende daardie tyd niks eet wat suurdeeg in het nie. Waar julle ook al woon, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is.” Moses het toe die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Laat elke gesin vir hulle ’n rammetjie vang sodat hulle dit vir die Paasfees kan slag. Vang die dier se bloed op in ’n houer. Vat dan ’n takkie van ’n hisopboom en doop dit in die bloed. Verf dan die bloed bo-aan die kosyn met die hisoptak en aan die kant van die huis se deur. Niemand mag by die deur uitgaan voor die volgende oggend nie. Die HERE gaan deur die land trek om die Egiptenaars dood te maak. Wanneer Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deur sien, sal die HERE by daardie deur verbygaan. By daardie huis sal Hy nie toelaat dat die verwoester ingaan om hulle te tref nie. “Onthou dat hierdie ’n vasstaande voorskrif is wat ook vir julle nageslagte geld. Wanneer julle in die land kom wat die HERE belowe het om vir julle te gee, moet julle hierdie fees gereeld hou. Wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Waaroor gaan hierdie fees?’ moet julle antwoord: ‘Dit is die offer van die Paasfees vir die HERE. Hy het in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan. Hy het die Egiptenaars se oudste seuns doodgemaak, maar ons oorgesien en ons nie doodgemaak nie.’” Die volk het toe afgebuk en die HERE aanbid. Die Israeliete het presies net so gaan maak soos die HERE vir hulle deur Moses en Aäron gesê het.

EKSODUS 12:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het in Egipte vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand, dit moet van nou af die eerste maand van die jaar wees. Sê vir al die Israeliete: ‘Op die tiende dag van hierdie maand moet die hoof van elke huisgesin 'n skaap of 'n bok neem, een skaap of bok vir 'n huisgesin. As die huisgesin klein is en hulle kan nie 'n hele skaap of bok op-eet nie, dan moet die man en sy naaste buurman saam 'n skaap of 'n bok neem. Julle moet tel hoeveel mense in die huisgesin is, en daar moet genoeg vleis wees sodat almal kan eet. Die skaap of bok moet gesond wees. Daar moet niks verkeerd wees met hom nie, en dit moet 'n ram wees wat een jaar oud is. Julle mag 'n skaap of 'n bok neem. Julle moet hom oppas tot die 14de dag van die maand en dan moet julle hom slag wanneer dit aand word. Al die Israeliete moet dit doen. Julle moet die bloed van hierdie dier neem en julle moet dit aan die deur se raam smeer. Julle moet dit doen in elke huis waar julle die lam eet. Julle moet die vleis daardie aand braai en eet, en julle moet ongesuurde brood en bitter kruie eet. Julle moenie die vleis rou eet of in water kook nie. Julle moet dit oor die vuur braai, die kop saam met die pootjies en die binnegoed. Julle moenie die vleis tot die volgende dag hou nie. As daar van die vleis oorbly tot die volgende dag, dan moet julle dit verbrand. “ ‘Julle moet gereedmaak sodat julle dadelik kan gaan. Elkeen moet sy klere aantrek en hy moet dit vasmaak met 'n belt. Julle moet julle skoene aantrek en julle kieries in die hand hou. Dan moet julle baie vinnig eet. Dit is die Here se Paasfees. “ ‘Ek sal vannag deur Egipte gaan en Ek sal die oudste seun van elke huisgesin in Egipte doodmaak, ook die eerste manlike kleintjies van al die diere, en Ek sal al die gode van Egipte straf. Ek is die Here! Die bloed aan die deure se rame sal 'n teken wees dat julle in daardie huise is. As Ek die bloed sien, dan sal Ek by julle huise verbygaan, en Ek sal julle nie straf wanneer Ek die Egiptenaars straf nie. Julle moet hierdie dag altyd onthou. Julle moet dan 'n fees vier om My te eer. Julle nageslag moet ook elke jaar hierdie fees vier.’ ” “ ‘Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle al die suurdeeg uit julle huise wegneem. As iemand van die eerste dag af tot die sewende dag suurdeeg eet, dan moet julle hom afsny van die volk. Die eerste en die sewende dag moet gewyde dae wees vir julle. Op hierdie dae mag niemand werk nie. Julle mag net kos maak, net die kos wat julle moet eet. Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brood vier, want op hierdie dag het Ek julle uit Egipte gebring. Julle en julle nageslag moet hierdie fees elke jaar vier. Julle moet die fees in die eerste maand vier. Julle moet ongesuurde brood eet van die aand van die 14de dag tot die aand van die 21ste dag. Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise wees nie. As iemand brood of iets anders eet wat suurdeeg in het, dan moet julle hom afsny van die volk. Julle moet hom afsny as hy iemand is wat in die land gebore is, en ook as hy 'n vreemdeling is. Julle mag nie brood eet wat suurdeeg in het nie. Julle moet ongesuurde brood eet in al julle huise.’ ” Moses het al die leiers van die Israeliete geroep en hy het vir hulle gesê: “Elkeen moet vir sy huisgesin 'n skaap of 'n bok gaan vang en hy moet dit vir die Paasfees slag. Dan moet julle elkeen 'n bossie hisop neem, dit in die bloed druk en die bloed smeer aan sy deur se raam. Niemand mag uit sy huis gaan voor die volgende oggend nie. Wanneer die Here verbykom om die Egiptenaars dood te maak, dan sal Hy die bloed aan die deur se raam sien en dan sal Hy verbygaan. Hy sal nie die dood by julle huise laat inkom om julle te laat sterf nie. Julle en julle nageslag moet altyd gehoorsaam wees en julle moet hierdie fees vier. Wanneer julle kom in die land wat die Here belowe het om vir julle te gee, dan moet julle altyd hierdie fees vier. En wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie fees?’ dan moet julle sê: ‘Dit is 'n Paasfees-offer vir die Here omdat Hy verbygegaan het by die Israeliete se huise in Egipte. Toe Hy die Egiptenaars doodgemaak het, het Hy ons nie doodgemaak nie.’ ” Die Israeliete het gekniel en hulle het die Here aanbid. Hulle het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron gesê het.

EKSODUS 12:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen 'n lam neem volgens die families, 'n lam vir 'n huisgesin. Maar as 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. Julle moet 'n lam hê sonder gebrek, 'n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet. En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet. Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed. Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand. En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. 'n Pasga van die HERE is dit. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE. Maar die bloed sal vir julle 'n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie. En hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees, en julle moet dit as 'n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as 'n ewige insetting vier. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. En op die eerste dag moet daar 'n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word. Onderhou dan die ongesuurde brode, want op daardie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei. Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as 'n ewige insetting hou. In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een-en-twintigste dag van die maand, in die aand. Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. Want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié siel moet uit die vergadering van Israel uitgeroei word, of hy al 'n vreemdeling is of 'n kind van die land. Julle mag niks eet met suurdeeg in nie. In al julle woonplekke moet julle ongesuurde brode eet. Moses het toe al die oudstes van Israel laat roep en aan hulle gesê: Gaan haal vir julle kleinvee vir julle families en slag die pasga. En neem 'n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie. Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie. Onderhou dan hierdie saak as 'n insetting vir jou en jou kinders tot in ewigheid. En as julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou. En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? dan moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig. En die kinders van Israel het gegaan en dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.

EKSODUS 12:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand 'n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, kan 'n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. Dit moet 'n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, 'n skaap of 'n bok. Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here. “Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie. “Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees. Julle moet dit as 'n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit 'n vaste instelling wees wat hulle moet vier. Sewe dae lank moet die brood wat julle eet, ongesuurde brood wees. Reeds op die eerste feesdag moet julle ontslae raak van suurdeeg in julle huise, want elkeen wat in die sewe dae gewone brood eet, moet van Israel afgesny word. Op die eerste en die sewende dag moet daar 'n gewyde byeenkoms wees. Op hierdie dae mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word. “Onderhou die fees van die ongesuurde brood, want die eerste dag van die fees is die presiese dag waarop Ek julle stamme uit Egipte sal bevry het. Julle en julle nageslagte moet dié dag altyd as 'n vaste instelling vier. In die eerste maand moet julle van die aand van die veertiende af ongesuurde brood eet tot op die aand van die een en twintigste van die maand. Sewe dae mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie, want elkeen wat gewone brood eet, sal van die gemeente van Israel afgesny word. Dit geld vir vreemdelinge sowel as vir gebore Israeliete. Julle mag glad nie gewone brood eet nie. In al julle woonplekke moet julle net ongesuurde brood eet.” Moses het toe al die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan vang vir julle gesinne elkeen 'n lam uit en slag die paaslam! Neem 'n bossie hisop, doop dit in 'n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie. As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie. “Julle en julle kinders moet altyd hierdie voorskrif eerbiedig. Wanneer julle in die land kom wat die Here vir julle gaan gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie verpligting nakom. As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.” Toe het die volk in aanbidding gebuig. Soos die Here vir Moses en Aäron beveel het, presies so het die Israeliete gedoen.

EKSODUS 12:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Moses en Aäron in Egipteland gesê: “Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Praat met die hele volksvergadering van Israel en sê, ‘Op die tiende van hierdie maand moet elkeen van hulle 'n lam neem vir sy familie, 'n lam vir 'n huisgesin. As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit deel in verhouding tot die getal persone. Julle moet die lam in porsies verdeel in ooreenstemming met wat elke huisgesin gaan eet. 'n Jaaroud ramlam sonder gebrek moet julle kies; uit die skape of die bokke kan julle dit neem. Julle moet die lammers veilig hou tot die veertiende dag van hierdie maand. Die hele byeenkoms van die volksvergadering van Israel moet dan laatmiddag hulle lammers slag. “ ‘ Hulle moet van die bloed neem en dit smeer aan die sykante en bokant van die deurkosyne by die huise waarin hulle dit eet. Hulle moet die vleis dieselfde nag eet; oor die vuur gebraai, saam met ongesuurde brood en bitter kruie, moet hulle dit eet.’ “ Julle moet nie daarvan eet as dit rou is of in water gaargemaak is nie; maar net as dit oor die vuur gebraai is met sy kop, pote en ingewande. Julle mag niks daarvan tot die volgende oggend laat oorbly nie. Wat daarvan oorbly tot die oggend, moet verbrand word. Dit is hoe julle dit moet eet: met heupe omgord, julle sandale aan julle voete en julle wandelstokke in julle hande. Julle moet dit haastig eet. Dit is die Pasga van die HERE. “Ek sal daardie nag deur Egipteland gaan en alle eersgeborenes in Egipteland tref, mens en dier. Oor al die gode van Egipte sal Ek oordele voltrek. Ek is die HERE. Die bloed sal vir julle as 'n teken dien aan die huise waarin julle is. Wanneer Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. Daar sal by julle geen plaag deur die vernietiger wees wanneer Ek Egipteland tref nie. “ Hierdie dag moet vir julle dien as 'n herinneringsdag; julle moet dit as 'n fees ter ere van die HERE vier. As 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld, moet julle die dag feestelik vier. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. Reeds op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder; want elkeen wat iets eet wat met suurdeeg gebak is, vanaf die eerste tot die sewende dag – daardie persoon sal van Israel afgesny word. Op die eerste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou, en ook op die sewende dag. Geen werk moet op hierdie dae gedoen word nie; net wat elkeen moet eet, slegs dit mag vir julle voorberei word. Onderhou die Fees van die Ongesuurde Brood, want op hierdie bepaalde dag het Ek julle leërafdelings uit Egipteland gelei. Julle moet hierdie dag onderhou as 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld. “ In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brood eet, tot op die een-en-twintigste dag van die maand, in die aand. Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise gevind word nie; want elkeen wat iets eet met suurdeeg in – daardie persoon sal van die volksvergadering van Israel afgesny word, of hy nou 'n •vreemdeling of 'n gebore Israeliet is. Enigiets met suurdeeg in mag julle nie eet nie; in al julle woonplekke moet julle ongesuurde brood eet.” Moses het toe al die oudstes van Israel geroep en vir hulle gesê: “Vang en neem self lammers vir julle familiegroepe, en slag die Pasgalam. Neem 'n bossie marjolein en doop dit in die bloed wat in 'n bak is. Vee van die bloed wat in die bak is, aan die bokant en aan die twee sykante van die kosyne. En wat julle betref – niemand mag by die deur van sy huis uitgaan tot die volgende oggend nie. Die HERE sal deur die land gaan om die Egiptenare te tref; en wanneer Hy die bloed aan die bokant en die twee sykante van die kosyn sien, sal die HERE by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om julle huise binne te gaan om julle te tref nie. “Kom hierdie saak na as 'n voorskrif wat vir altyd geld, vir jou en jou kinders. Wanneer julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy belowe het, moet julle hierdie gebruik nakom. Wanneer julle kinders julle vra, ‘Wat beteken hierdie gebruik vir julle?’ dan moet julle sê, ‘Dit is die •Pasgaoffer vir die HERE, Hy wat by die huise van die Israeliete in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenare getref het. Ons huise het Hy egter gespaar.’ ” Die volk het toe gekniel en in aanbidding gebuig. Die Israeliete het gegaan en dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, het hulle gemaak.

EKSODUS 12:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste maand van die jaar wees. Spreek met die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle vir hulle elkeen 'n lam neem volgens die huis van hulle vaders, 'n lam vir 'n huis. En as die huisgesin te min is vir die lam, laat hom en sy buurman langs sy huis dit neem volgens die getal van die siele; elkeen volgens sy ete moet jou tel vir die lam. Julle lam moet sonder gebrek wees, 'n jaaroud mannetjie; julle moet dit van die skape of van die bokke uithaal. En julle moet dit in stand hou tot op die veertiende dag van dieselfde maand, en die hele vergadering van die vergadering van Israel moet dit in die aand doodmaak. En hulle moet van die bloed neem en dit slaan aan die twee syposte en aan die boonste deurposte van die huise waarin hulle dit moet eet. En hulle sal die vleis in daardie nag eet, met vuur gebraai en ongesuurde brode; en met bitter kruie moet hulle dit eet. Moenie rou daarvan eet nie en glad nie met water deurweek nie, maar met vuur gebraai; sy kop met sy bene, en met die strekking daarvan. En julle mag niks daarvan laat oorbly tot die môre toe nie; en wat daarvan oorbly tot die môre toe, moet julle met vuur verbrand. En so moet julle dit eet; met jou lendene omgord, jou skoene aan jou voete en jou staf in jou hand; en julle moet dit haastig eet; dit is die pasga van die HERE. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, mense sowel as diere; en teen al die gode van Egipte sal Ek oordeel: Ek is die HERE. En die bloed sal vir julle 'n teken wees op die huise waar julle is; en as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan, en die plaag sal nie oor julle wees om julle te vernietig wanneer Ek Egipteland tref nie. En hierdie dag sal vir julle 'n gedenkdag wees; en julle moet dit vir die HERE 'n fees vier in julle geslagte; julle moet dit vir ewig 'n fees vier volgens 'n insetting. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; ook op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder; want elkeen wat gesuurde brood eet van die eerste dag af tot die sewende dag, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. En op die eerste dag moet daar 'n heilige samekoms wees, en op die sewende dag moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; daar mag geen werk in hulle gedoen word nie, behalwe wat elkeen moet eet, wat net van julle gedoen kan word. En julle moet die fees van die ongesuurde brode hou; want op hierdie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei; daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte onderhou deur 'n ewige insetting. In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand in die aand, moet julle ongesuurde brode eet tot die een en twintigste dag van die maand in die aand. Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie; want elkeen wat eet wat gesuur is, dié siel moet uitgeroei word uit die vergadering van Israel, of hy 'n vreemdeling is of in die land gebore is. Julle mag niks eet wat gesuur is nie; in al julle woonplekke mag julle ongesuurde brode eet. Toe roep Moses al die oudstes van Israel en sê vir hulle: Trek uit en neem vir julle 'n lam volgens julle geslagte, en slag die pasga. En julle moet 'n bossie hisop neem en dit in die bloed doop wat in die skottel is, en die bo-drumpel en die twee syposte slaan met die bloed wat in die skottel is; en niemand van julle mag by die ingang van sy huis uitgaan tot die môre toe nie. Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars te verslaan; en as hy die bloed aan die bo-drumpel en aan die twee syposte sien, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om by julle huise in te gaan om julle te verslaan nie. En julle moet hierdie saak onderhou as 'n insetting vir jou en jou seuns tot in ewigheid. En as julle in die land kom wat die HERE julle sal gee, soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou. En dit sal gebeur as julle kinders vir julle sê: Wat bedoel julle met hierdie diens? dat julle moet sê: Dit is die pasga-offer van die HERE wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenaars verslaan en ons huise gered het. En die volk het die hoof gebuig en aanbid. En die kinders van Israel het weggegaan en gedoen soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.

EKSODUS 12:1-28 Die Boodskap (DB)

Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is van nou af die belangrikste maand in die hele jaar. Dit moet die eerste maand wees van elke jaar. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin. Dit moet die reël wees in Israel wat nooit weer verander word nie. Elke gesin moet sorg dat hulle teen die tiende van hierdie maand alreeds ’n lam in die hande gekry het. As daar te min mense in een gesin is om ’n lam te kan opeet, moet hulle en hulle bure saam maak. Hulle moet kyk hoeveel mense hulle dan is en of hulle saam genoeg is om een lam op te eet. Dit moet ’n jaaroud rammetjie wees wat uit die skape of die bokke kom. Daar mag niks fout wees met die dier nie. Hulle moet die lam aan die lewe hou tot op die veertiende dag van die maand. “Teen die aand van die veertiende dag moet almal in Israel hulle lamme slag. Hulle moet dan van die bloed van die lam vat en dit aan die kante en boaan die deurkosyn van die huis smeer waar hulle die lam gaan eet. Hulle moet die vleis oor die vuur braai. Al die vleis moet nog in daardie selfde nag opgeëet word. Hulle moet dit saam met brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie. Daarby moet hulle sous gebruik wat van bitter kruie gemaak is. Hulle mag nie die vleis rou eet nie. Hulle moet dit ook nie kook nie. Die lam moet net so heel en in een stuk op die vuur gebraai word met kop, pootjies, binnegoed en al. Daar mag niks van die vleis oorbly nie. As daar die volgende oggend nog enigiets oor is, moet dit in die vuur verbrand word.” “Julle moet al hierdie goed eet soos mense wat baie haastig is om weg te kom. Die gordels om julle heupe moet vasgetrek wees. Julle moet sandale aan julle voete hê. Julle kieries moet in julle hande wees sodat julle reg kan wees om te begin stap. En julle moet vinnig eet. Dit word die paasfees genoem. Julle moet dit elke jaar hou om die Here se Naam groot te maak. Ek sal in daardie nag deur Egipte trek. Deur die hele Egipte sal Ek in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit sal met die mense sowel as die diere gebeur. Ek sal met die gode van Egipte afreken, want Ek is die Here. Die bloed wat julle aan die kosyne van julle huise gesmeer het, sal vir My ’n teken wees om julle uit te ken. Wanneer Ek dit sien, sal Ek by daardie huis verbygaan. Ek sal julle spaar van die ramp waarmee Ek die hele Egipte gaan tref.” “Elke jaar wanneer julle hierdie fees hou, moet julle onthou wat in Egipte gebeur het. Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees wat julle elke jaar gebruik om fees te vier vir die Here. Sewe dae lank moet julle brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Reeds op die eerste dag van die fees moet julle alles wat suurdeeg in het, uit julle huise wegvat. As enigeen gedurende hierdie sewe dae brood eet wat met suurdeeg gemaak is, moet hy weggejaag word. Op die eerste en die laaste dag van die fees moet julle bymekaarkom om vir die Here kerk te hou. Op daardie dae mag julle glad nie aangaan met julle gewone werk nie. Julle mag wel op daardie dae vir julleself kos gaarmaak. “Julle moet elke jaar hierdie fees hou wanneer julle brode eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Julle moet onthou dat dít die dag is waarop Ek julle families uit Egipte laat wegtrek het. Die dag moet onder julle nasate ’n dag wees waarop hulle jaar na jaar in herinnering roep wat Ek vir julle in Egipte gedoen het. Vanaf die aand van die veertiende dag van daardie eerste maand, tot op die aand van die 21ste dag mag julle nie brood eet met suurdeeg in nie. Vir hierdie sewe dae mag daar nie ’n krieseltjie suurdeeg in enige van julle huise wees nie. As enigiemand, of hy iemand is wat van ’n ander land kom en of hy van geboorte ’n Israeliet is, in hierdie tyd enigiets met suurdeeg in eet, moet julle hom van julle af wegjaag. Niemand mag iets eet waarin daar suurdeeg is nie. Oral waar julle woon, moet julle dan brood eet wat sonder suurdeeg is.” Moses het die leiers van Israel bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Gaan kry nou vir elke gesin ’n lam sodat julle dit vir die paasfees kan slag. Julle moet die bloed in ’n bak opvang. Doop ’n takkie van ’n hisopboom in die bloed en verf daarvan aan die bokant en die sykante van julle huise se deurkosyne. Niemand mag uit sy huis uit weggaan voor die volgende oggend nie. Wanneer die Here die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan julle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan. Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie. “Julle moet altyd onthou wat daar gebeur het. Julle en julle kinders moet elke jaar op daardie dag terugdink aan wat daar in Egipte gebeur het. Wanneer julle in die land gaan woon wat die Here vir julle beloof het, moet julle hierdie fees elke jaar hou sonder om dit een keer oor te slaan. Wanneer julle kinders vir julle vra hoekom julle hierdie fees hou, moet julle vir hulle sê: ‘Ons slag die paaslam vir die Here omdat Hy by die huise van die Israeliete verbygegaan het toe Hy die oudste seuns in Egipte laat doodgaan het. Hy het ons huise gespaar en nie ons kinders laat doodgaan nie.’” Die volk het toe neergeval en tot die Here gebid. Hulle het teruggegaan na hulle huise toe en presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid