Eksodus 12:1-28

Eksodus 12:1-28 ABA

Die Here het in Egipte vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand, dit moet van nou af die eerste maand van die jaar wees. Sê vir al die Israeliete: ‘Op die tiende dag van hierdie maand moet die hoof van elke huisgesin 'n skaap of 'n bok neem, een skaap of bok vir 'n huisgesin. As die huisgesin klein is en hulle kan nie 'n hele skaap of bok op-eet nie, dan moet die man en sy naaste buurman saam 'n skaap of 'n bok neem. Julle moet tel hoeveel mense in die huisgesin is, en daar moet genoeg vleis wees sodat almal kan eet. Die skaap of bok moet gesond wees. Daar moet niks verkeerd wees met hom nie, en dit moet 'n ram wees wat een jaar oud is. Julle mag 'n skaap of 'n bok neem. Julle moet hom oppas tot die 14de dag van die maand en dan moet julle hom slag wanneer dit aand word. Al die Israeliete moet dit doen. Julle moet die bloed van hierdie dier neem en julle moet dit aan die deur se raam smeer. Julle moet dit doen in elke huis waar julle die lam eet. Julle moet die vleis daardie aand braai en eet, en julle moet ongesuurde brood en bitter kruie eet. Julle moenie die vleis rou eet of in water kook nie. Julle moet dit oor die vuur braai, die kop saam met die pootjies en die binnegoed. Julle moenie die vleis tot die volgende dag hou nie. As daar van die vleis oorbly tot die volgende dag, dan moet julle dit verbrand. “ ‘Julle moet gereedmaak sodat julle dadelik kan gaan. Elkeen moet sy klere aantrek en hy moet dit vasmaak met 'n belt. Julle moet julle skoene aantrek en julle kieries in die hand hou. Dan moet julle baie vinnig eet. Dit is die Here se Paasfees. “ ‘Ek sal vannag deur Egipte gaan en Ek sal die oudste seun van elke huisgesin in Egipte doodmaak, ook die eerste manlike kleintjies van al die diere, en Ek sal al die gode van Egipte straf. Ek is die Here! Die bloed aan die deure se rame sal 'n teken wees dat julle in daardie huise is. As Ek die bloed sien, dan sal Ek by julle huise verbygaan, en Ek sal julle nie straf wanneer Ek die Egiptenaars straf nie. Julle moet hierdie dag altyd onthou. Julle moet dan 'n fees vier om My te eer. Julle nageslag moet ook elke jaar hierdie fees vier.’ ” “ ‘Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle al die suurdeeg uit julle huise wegneem. As iemand van die eerste dag af tot die sewende dag suurdeeg eet, dan moet julle hom afsny van die volk. Die eerste en die sewende dag moet gewyde dae wees vir julle. Op hierdie dae mag niemand werk nie. Julle mag net kos maak, net die kos wat julle moet eet. Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brood vier, want op hierdie dag het Ek julle uit Egipte gebring. Julle en julle nageslag moet hierdie fees elke jaar vier. Julle moet die fees in die eerste maand vier. Julle moet ongesuurde brood eet van die aand van die 14de dag tot die aand van die 21ste dag. Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise wees nie. As iemand brood of iets anders eet wat suurdeeg in het, dan moet julle hom afsny van die volk. Julle moet hom afsny as hy iemand is wat in die land gebore is, en ook as hy 'n vreemdeling is. Julle mag nie brood eet wat suurdeeg in het nie. Julle moet ongesuurde brood eet in al julle huise.’ ” Moses het al die leiers van die Israeliete geroep en hy het vir hulle gesê: “Elkeen moet vir sy huisgesin 'n skaap of 'n bok gaan vang en hy moet dit vir die Paasfees slag. Dan moet julle elkeen 'n bossie hisop neem, dit in die bloed druk en die bloed smeer aan sy deur se raam. Niemand mag uit sy huis gaan voor die volgende oggend nie. Wanneer die Here verbykom om die Egiptenaars dood te maak, dan sal Hy die bloed aan die deur se raam sien en dan sal Hy verbygaan. Hy sal nie die dood by julle huise laat inkom om julle te laat sterf nie. Julle en julle nageslag moet altyd gehoorsaam wees en julle moet hierdie fees vier. Wanneer julle kom in die land wat die Here belowe het om vir julle te gee, dan moet julle altyd hierdie fees vier. En wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie fees?’ dan moet julle sê: ‘Dit is 'n Paasfees-offer vir die Here omdat Hy verbygegaan het by die Israeliete se huise in Egipte. Toe Hy die Egiptenaars doodgemaak het, het Hy ons nie doodgemaak nie.’ ” Die Israeliete het gekniel en hulle het die Here aanbid. Hulle het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron gesê het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 12:1-28

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid