Eksodus 12

12
Die Paasfees
1Die Here het in Egipte vir Moses en Aäron gesê: 2“Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand, dit moet van nou af die eerste maand van die jaar wees. 3Sê vir al die Israeliete: ‘Op die tiende dag van hierdie maand moet die hoof van elke huisgesin 'n skaap of 'n bok neem, een skaap of bok vir 'n huisgesin. 4As die huisgesin klein is en hulle kan nie 'n hele skaap of bok op-eet nie, dan moet die man en sy naaste buurman saam 'n skaap of 'n bok neem. Julle moet tel hoeveel mense in die huisgesin is, en daar moet genoeg vleis wees sodat almal kan eet. 5Die skaap of bok moet gesond wees. Daar moet niks verkeerd wees met hom nie, en dit moet 'n ram wees wat een jaar oud is. Julle mag 'n skaap of 'n bok neem. 6Julle moet hom oppas tot die 14de dag van die maand en dan moet julle hom slag wanneer dit aand word. Al die Israeliete moet dit doen. 7Julle moet die bloed van hierdie dier neem en julle moet dit aan die deur se raam smeer. Julle moet dit doen in elke huis waar julle die lam eet. 8Julle moet die vleis daardie aand braai en eet, en julle moet ongesuurde brood en bitter kruie eet. 9Julle moenie die vleis rou eet of in water kook nie. Julle moet dit oor die vuur braai, die kop saam met die pootjies en die binnegoed. 10Julle moenie die vleis tot die volgende dag hou nie. As daar van die vleis oorbly tot die volgende dag, dan moet julle dit verbrand.
11“ ‘Julle moet gereedmaak sodat julle dadelik kan gaan. Elkeen moet sy klere aantrek en hy moet dit vasmaak met 'n belt. Julle moet julle skoene aantrek en julle kieries in die hand hou. Dan moet julle baie vinnig eet. Dit is die Here se Paasfees.
12“ ‘Ek sal vannag deur Egipte gaan en Ek sal die oudste seun van elke huisgesin in Egipte doodmaak, ook die eerste manlike kleintjies van al die diere, en Ek sal al die gode van Egipte straf. Ek is die Here! 13Die bloed aan die deure se rame sal 'n teken wees dat julle in daardie huise is. As Ek die bloed sien, dan sal Ek by julle huise verbygaan, en Ek sal julle nie straf wanneer Ek die Egiptenaars straf nie. 14Julle moet hierdie dag altyd onthou. Julle moet dan 'n fees vier om My te eer. Julle nageslag moet ook elke jaar hierdie fees vier.’ ”
Die Fees van die Ongesuurde Brood
15“ ‘Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle al die suurdeeg uit julle huise wegneem. As iemand van die eerste dag af tot die sewende dag suurdeeg eet, dan moet julle hom afsny van die volk. 16Die eerste en die sewende dag moet gewyde dae wees vir julle. Op hierdie dae mag niemand werk nie. Julle mag net kos maak, net die kos wat julle moet eet. 17Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brood vier, want op hierdie dag het Ek julle uit Egipte gebring. Julle en julle nageslag moet hierdie fees elke jaar vier. 18Julle moet die fees in die eerste maand vier. Julle moet ongesuurde brood eet van die aand van die 14de dag tot die aand van die 21ste dag. 19Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise wees nie. As iemand brood of iets anders eet wat suurdeeg in het, dan moet julle hom afsny van die volk. Julle moet hom afsny as hy iemand is wat in die land gebore is, en ook as hy 'n vreemdeling is. 20Julle mag nie brood eet wat suurdeeg in het nie. Julle moet ongesuurde brood eet in al julle huise.’ ”
Die bloed aan die deure se rame
21Moses het al die leiers van die Israeliete geroep en hy het vir hulle gesê: “Elkeen moet vir sy huisgesin 'n skaap of 'n bok gaan vang en hy moet dit vir die Paasfees slag. 22Dan moet julle elkeen 'n bossie hisop neem, dit in die bloed druk en die bloed smeer aan sy deur se raam. Niemand mag uit sy huis gaan voor die volgende oggend nie. 23Wanneer die Here verbykom om die Egiptenaars dood te maak, dan sal Hy die bloed aan die deur se raam sien en dan sal Hy verbygaan. Hy sal nie die dood by julle huise laat inkom om julle te laat sterf nie. 24Julle en julle nageslag moet altyd gehoorsaam wees en julle moet hierdie fees vier. 25Wanneer julle kom in die land wat die Here belowe het om vir julle te gee, dan moet julle altyd hierdie fees vier. 26En wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie fees?’ 27dan moet julle sê: ‘Dit is 'n Paasfees-offer vir die Here omdat Hy verbygegaan het by die Israeliete se huise in Egipte. Toe Hy die Egiptenaars doodgemaak het, het Hy ons nie doodgemaak nie.’ ”
Die Israeliete het gekniel en hulle het die Here aanbid. 28Hulle het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron gesê het.
Die Egiptenaars se oudste seuns sterf
29In die middel van die nag het die Here al die oudste seuns in Egipte laat sterf, almal, die oudste seun van die farao en ook die oudste seuns van die mans in die tronk. Die eerste manlike kleintjies van al die diere het ook gesterf. 30Die farao en al sy amptenare en al die Egiptenaars het daardie nag wakker geword en almal het baie gehuil, want in elke huis van die Egiptenaars het iemand gesterf. 31Die farao het daardie nag vir Moses en Aäron geroep en vir hulle gesê: “Julle moet van my mense weggaan, julle en die ander Israeliete. Gaan dien die Here, soos julle gevra het. 32Neem ook julle skape en bokke en julle beeste, soos julle gevra het. Gaan weg. Dan sal dit met my ook goed gaan.”
Die Israeliete gaan weg uit Egipte
33Die Egiptenaars het vir die Israeliete gesê hulle moet gou weggaan uit die land. Hulle het gesê: “Ons sal almal sterf as julle nie weggaan nie.”
34Die Israeliete het hulle brood-deeg saamgeneem. Daar was nog nie suurdeeg in die deeg nie. Hulle het hulle skottels toegedraai met hulle klere en hulle het dit op hulle skouers gedra. 35Die Israeliete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het silwergoed en goue goed en klere vir die Egiptenaars gevra. 36Die Here het die Egiptenaars vriendelik gemaak met die Israeliete. Die Egiptenaars het alles gegee wat die Israeliete gevra het. So het die Israeliete die Egiptenaars se goed weggedra.
37Die Israeliete het van die stad Rameses na die stad Sukkot gegaan. Daar was 600 000 mans. Hulle het nie die vroue en kinders ook getel nie. 38Baie ander mense wat nie Israeliete was nie, het ook saam met hulle getrek. Die Israeliete het baie skape en bokke en beeste saamgeneem. 39Hulle het ongesuurde brood gebak van die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in die brood nie, want die Egiptenaars het hulle uit Egipte weggejaag en daar was nie tyd om padkos te maak nie. 40Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gewoon. 41Presies op daardie dag, toe die 430 jaar verby was, het die Here se hele volk weggegaan. 42Daardie nag het die Here die Israeliete uit Egipte gebring. Dit is 'n nag wat nou aan die Here behoort. Al die Israeliete en hulle nageslag moet hierdie nag wakker bly en hulle moet die Here eer.
Die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood
43Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet die Paasfees só vier: Net Israeliete mag die Paasfees-kos eet. 44As iemand 'n slaaf gekoop het en die slaaf is besny, dan mag die slaaf ook die Paasfees-kos eet. 45Mense wat nie Israeliete is nie en wat vir julle werk of by julle woon, mag nie die Paasfees-kos eet nie. 46Julle moet die Paasfees-kos eet in die huis waar julle die kos maak. Julle mag nie die vleis uit die huis neem nie. Julle mag nie die dier se bene breek nie. 47Al die Israeliete moet die Paasfees vier. 48As 'n vreemdeling by jou woon, en hy wil die Paasfees vir die Here vier, dan moet jy hom eers besny. Jy moet hom en al die mans en seuns in sy huisgesin besny. Dan mag hy ook die fees kom vier. Hy is dan soos 'n Israeliet wat in die land gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag nie die Paasfees-kos eet nie. 49Julle moet dieselfde wet vir almal gebruik, vir die Israeliete en ook vir die vreemdelinge.”
50Al die Israeliete het gedoen presies soos die Here vir Moses en Aäron gesê het. 51Hulle vier die Paasfees nou nog op dieselfde dag wat die Here die Israeliete uit Egipte gebring het toe Hy hulle vrygemaak het.

Tans Gekies:

Eksodus 12: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid