Eksodus 12

12
Instelling van die Pasga
1 Die Here het vir Moses en Aäron in Egipteland gesê: 2“Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. 3Praat met die hele volksvergadering van Israel en sê, ‘Op die tiende van hierdie maand moet elkeen van hulle 'n lam neem vir sy familie, 'n lam vir 'n huisgesin. 4As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit deel in verhouding tot die getal persone. Julle moet die lam in porsies verdeel in ooreenstemming met wat elke huisgesin gaan eet. 5'n Jaaroud ramlam sonder gebrek moet julle kies; uit die skape of die bokke kan julle dit neem. 6Julle moet die lammers veilig hou tot die veertiende dag van hierdie maand. Die hele byeenkoms van die volksvergadering van Israel moet dan laatmiddag hulle lammers slag.
7“ ‘ Hulle moet van die bloed neem en dit smeer aan die sykante en bokant van die deurkosyne by die huise waarin hulle dit eet. 8 Hulle moet die vleis dieselfde nag eet; oor die vuur gebraai, saam met ongesuurde brood en bitter kruie, moet hulle dit eet.’
9“ Julle moet nie daarvan eet as dit rou is of in water gaargemaak is nie; maar net as dit oor die vuur gebraai is met sy kop, pote en ingewande. 10 Julle mag niks daarvan tot die volgende oggend laat oorbly nie. Wat daarvan oorbly tot die oggend, moet verbrand word. 11Dit is hoe julle dit moet eet: met heupe omgord, julle sandale aan julle voete en julle wandelstokke in julle hande. Julle moet dit haastig eet. Dit is die Pasga van die Here.
12“Ek sal daardie nag deur Egipteland gaan en alle eersgeborenes in Egipteland tref, mens en dier. Oor al die gode van Egipte sal Ek oordele voltrek. Ek is die Here. 13 Die bloed sal vir julle as 'n teken dien aan die huise waarin julle is. Wanneer Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. Daar sal by julle geen plaag deur die vernietiger wees wanneer Ek Egipteland tref nie.
14“ Hierdie dag moet vir julle dien as 'n herinneringsdag; julle moet dit as 'n fees ter ere van die Here vier. As 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld, moet julle die dag feestelik vier. 15 Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. Reeds op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder; want elkeen wat iets eet wat met suurdeeg gebak is, vanaf die eerste tot die sewende dag – daardie persoon sal van Israel afgesny word. 16 Op die eerste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou, en ook op die sewende dag. Geen werk moet op hierdie dae gedoen word nie; net wat elkeen moet eet, slegs dit mag vir julle voorberei word. 17Onderhou die Fees van die Ongesuurde Brood, want op hierdie bepaalde dag het Ek julle leërafdelings uit Egipteland gelei. Julle moet hierdie dag onderhou as 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld.
18“ In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brood eet, tot op die een-en-twintigste dag van die maand, in die aand. 19 Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise gevind word nie; want elkeen wat iets eet met suurdeeg in – daardie persoon sal van die volksvergadering van Israel afgesny word, of hy nou 'n •vreemdeling of 'n gebore Israeliet is. 20Enigiets met suurdeeg in mag julle nie eet nie; in al julle woonplekke moet julle ongesuurde brood eet.”
21 Moses het toe al die oudstes van Israel geroep en vir hulle gesê: “Vang en neem self lammers vir julle familiegroepe, en slag die Pasgalam. 22Neem 'n bossie marjolein en doop dit in die bloed wat in 'n bak is. Vee van die bloed wat in die bak is, aan die bokant en aan die twee sykante van die kosyne. En wat julle betref – niemand mag by die deur van sy huis uitgaan tot die volgende oggend nie. 23Die Here sal deur die land gaan om die Egiptenare te tref; en wanneer Hy die bloed aan die bokant en die twee sykante van die kosyn sien, sal die Here by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om julle huise binne te gaan om julle te tref nie.
24 “Kom hierdie saak na as 'n voorskrif wat vir altyd geld, vir jou en jou kinders. 25Wanneer julle in die land kom wat die Here aan julle sal gee soos Hy belowe het, moet julle hierdie gebruik nakom. 26 Wanneer julle kinders julle vra, ‘Wat beteken hierdie gebruik vir julle?’ 27dan moet julle sê, ‘Dit is die •Pasgaoffer vir die Here, Hy wat by die huise van die Israeliete in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenare getref het. Ons huise het Hy egter gespaar.’ ”
Die volk het toe gekniel en in aanbidding gebuig. 28Die Israeliete het gegaan en dit gedoen. Soos die Here Moses en Aäron beveel het, het hulle gemaak.
Tiende plaag
29 Dit het teen middernag gebeur. Die Here het alle eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van die farao wat op die troon gesit het tot die eersgeborene van die krygsgevangene in die kerker, ook al die eersgeborenes van die vee.
Uittog uit Egipte
30Die farao het in die nag opgestaan, hy, al sy amptenare en al die Egiptenare. Daar was 'n harde geskreeu in Egipte, want daar was nie 'n enkele huis waar daar nie 'n dooie was nie. 31 Hy het Moses en Aäron in die nag ontbied en gesê: “Maak gereed, trek weg onder my volk uit, julle en ook die Israeliete. Gaan dien die Here soos julle gesê het. 32 Neem julle kleinvee en ook julle grootvee, soos julle gesê het, en gaan! Maar seën my ook!” 33 Die Egiptenare het by die volk daarop aangedring om gou te maak, sodat hulle hulle uit die land kon wegstuur; “want”, het hulle gesê, “almal van ons gaan sterf.”
34Toe sit die volk die deeg, voor dit nog ingesuur is, op hulle skouers – hulle knieskottels was in hulle kledingstukke toegedraai. 35 Die Israeliete het gemaak soos Moses gesê het, en hulle het van die Egiptenare silwer- en goue voorwerpe en klere geëis. 36Dit was die Here wat gesorg het dat die Egiptenare die volk goedgesind is, en die Egiptenare het aan hulle eise toegegee. So het hulle buit geneem van die Egiptenare.
37Die Israeliete het van Ramses af weggetrek op pad na Sukkot, ongeveer seshonderdduisend man te voet, afgesien van die afhanklikes. 38Ook 'n groot groep mense van ander afkoms het saam met hulle opgetrek; en ook nog kleinvee en beeste, baie groot troppe vee.
39 Die Israeliete het van die deeg wat hulle uit Egipte saamgeneem het, ongesuurde roosterkoeke gebak, want die deeg was nie ingesuur nie. Omdat hulle uit Egipte weggejaag is, kon hulle nie talm nie, en selfs nie vir hulle padkos voorberei nie.
40 Die tyd wat die Israeliete in Egipte gebly het, was vierhonderd-en-dertig jaar. 41Aan die einde van vierhonderd-en-dertig jaar, op presies dieselfde dag, het al die leërafdelings van die Here uit Egipteland weggetrek. 42Dit was 'n nag waarin die Here gewaak het om hulle uit Egipteland uit te lei. Daardie nag is 'n nag van waak tot eer van die Here vir al die Israeliete deur hulle geslagte heen.
Voorskrifte vir die Pasga
43Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die vaste voorskrif vir die Pasga: Geen buitelander mag daarvan eet nie. 44Maar enige slaaf wat deur iemand met silwer gekoop is, mag, nadat jy hom besny het, daarvan eet. 45Geen bywoner of huurarbeider mag daarvan eet nie. 46Dit moet in een huis geëet word. Jy mag nie van die vleis uit die huis na buite neem nie. 'n Been daarin mag julle nie breek nie. 47Die hele volksvergadering van Israel moet dit vier.
48“ Wanneer 'n vreemdeling tydelik by jou is, en hy wil die Pasga vier tot eer van die Here, moet al die manlike persone by hom besny word. Dan mag hy nader kom om dit te vier, en sal hy soos 'n gebore Israeliet wees. Enigiemand wat nie besny is nie, mag daarvan nie eet nie. 49Dieselfde wet geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge wat tydelik tussen julle is.”
50Al die Israeliete het dit gedoen. Soos die Here aan Moses en Aäron opdrag gegee het, het hulle dit gedoen. 51 Op daardie selfde dag nog het die Here die Israeliete uit Egipteland uitgelei, leërafdeling vir leërafdeling.

Tans Gekies:

Eksodus 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid